Visstropers plunder Oranjerivier

Namibiese visstropers teiken die Oranjerivier in die Noord-Kaap. Foto: Jody Marais.

Namibiese visstropers het die afgelope tyd in groot getalle op die Oranjerivier toegeslaan, waar hulle ook aan die Suid-Afrikaanse kant van die rivier met nette en lang lyne doenig is.

Die Oranjerivier vorm die grens tussen Suid-Afrika en die buurland.

In Namibië is dit nie teen die wet om in riviere vis met nette te vang nie, terwyl dit wel in Suid-Afrika onwettig is. Nogtans wil dit voorkom of die owerhede nie juis teen stropers in dié onherbergsame deel van die Noord-Kaap optree nie.

Jody Marais was voorheen vier jaar lank ʼn gids by die Tutwa Desert Lodge, sowat 70 km noordwes van Kakamas. Hy sê hy patrolleer gereeld 9 km van die Oranjerivier per boot en op byna elke vaart sien hy visstropers.

Die Namibiese stropers gebruik opgeblaasde trekker-binnebande om nette oor die breedte van die rivier te span en vang so groot hoeveelhede vis onwettig.

Die probleem word vererger omdat die vis dikwels in die nette gelos word, waar hulle vrek. Dit besoedel die rivier en is ʼn hindernis vir die visbevolking, veral die geelvis-spesie wat stadig groei en ʼn lang lewensiklus het.

Visnette weggesteek onder klippe en takke op die oewer van die Oranjerivier. Foto: Jody Marais

Marais sê dis ook nie net vis wat gestroop word nie. Hy het aan Maroela Media foto’s gewys van verskeie wildstrikke wat hy aan die Suid-Afrikaanse kant van die rivier gevind het.

“Ek het dit gereeld verwyder net om ʼn soortgelyke een weer later op ʼn ander plek te kry. Een mens kan nie voorbly nie,” sê hy.

Craig Eksteen, die eienaar van Kalahari Adventures in Augrabies, sê dis veral die beskermde kleinbek-geelvis wat deur die stropery geraak word. Dié vis bereik eers ná sewe jaar volwassenheid en hengelaars is veronderstel om slegs twee te vang en ook net ʼn visstok en lyn te gebruik.

Eksteen beweer ʼn georganiseerde groep in Namibië verskaf die nette aan die aktiewe stropers en dieselfde groep verkoop ook die vis aan die land se inwoners.

“Die stropers brand ook groot gebiede aan weerskante van die rivier en op die eilande om toegang tot die rivier te verkry sodat hulle die nette kan span.”

Hy sê hy het die afgelope vyf jaar verskeie versoeke aan die owerhede gerig om werksessies te kom hou en opvoedkundige programme in werking te stel, maar tot dusver was daar min belangstelling.

“Nou probeer ons maar self om die nette en strikke te verwyder as ons daarop afkom.”

Berto van Zyl, die eienaar van Dundi Lodge naby die Augrabieswaterval, het in die omgewing grootgeword en het per e-pos laat weet dat die stropery begin het nadat druiwe- en dadelplase aan die Namibiese kant van die rivier gevestig is.

Sy lodge se personeel patrolleer gereeld die rivier en meld voorvalle van stroping by die SAPD en die Namibiese polisie aan.

“Laasgenoemde doen niks aan die probleem nie, maar ek het ná ʼn lang gesukkel nou hulp van die SAPD se duikspan in Upington gekry,” skryf Van Zyl.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Venter

So is hierdie onderstaande berig, asook die kommentare hiér van toepassing. Daar is nie ‘n manier hoe ons wettoepassers al die gate kan toestop nie, daar is net té veel. Kyk dan nou ook hoe gaan dit met die boere aan die grens met Lesotho waar dit ‘n onbegonne taak is om veeverliese te keer, die boere los maar eerder als net so en trek weg.

https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/moenie-hier-stilhou-en-druiwe-koop-nie-maan-polisie/

Devil

Ek dink dit is tyd dat ons Hemelse Vader daardie komeet stuur om ons vir eens en vir altyd uit te wis.

AndreD

So stroop en vernietig hulle alles. Als wat jy moontlik kan eet sal hulle vreet……..tot daar niks meer oor is nie.

Koos Arendse

Dit help nie ons vergelyk die aantal wetstoepassers per 100/1000 mense in die land met ander lande s’n nie. Ons sit in Afrika, eerder Suid-Afrika met ‘n ellelange kuslyn en grense met ander lande waar mense of gevaar van die ander kant af gepolisieer moet word. Wat is daar nog waarvoor ons moet keer en dan het ons nie naastenby die aantal wetstoepassers om dit en die misdaad in die land te beveg nie. Mens sou dink daar is soveel mense sonder werk, dat die minister van polisie sal darem êrens derduisende bymekaar kan maak om daarmee uit te help.… Lees meer »

Labeobarbus bye

Jy moet ook vir mister megaboer betaal as jy deur “sy deel “van die Oranje rivier wil kanoe . Daar is n “gemeenskaps” voedingsprojek op die Gariep (V w d) dam . Alles , maar alles word uitgevang en gevreet . Megaboer ry busse vol aan , hulle moet eet . Anders het hulle niks daar te make nie . Means , motive and Opportunity , . Megaboer is ook n natuurliefhebber -n natuurlike liefde vir sy bankrekening