Visumregulasies gewysig, maar wat presies het verander?

Argieffoto.

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, se aankondig dat bestaande visumregulasies aangepas sal word om toerisme ʼn hupstoot te gee, is aanvanklik wyd verwelkom, maar daar heers nog talle vrae oor wat presies dit sal behels en hoe en wanneer dit ingestel sal word.

Gigaba se aankondiging kom kort op die hakke van die bekendmaking van pres. Cyril Ramaphosa se stimuluspakket vir die ekonomie. Ramaphosa het toe gesê Suid-Afrika se visumstelsel sal verander om toerisme te bevorder en sakereise te vergemaklik.

Veral kenners uit die toerismebedryf was verheug oor enige verslapping van die streng visumregulasies vir toeriste wat met minderjarige kinders reis.

Unathi Henama, ʼn dosent in toerisme aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie, het in ʼn gesprek op CNBC Africa gesê vir elke agt toeriste wat Suid-Afrika besoek, word een permanente werkgeleentheid geskep.

“Dit is ʼn welkome verwikkeling in die moeilike ekonomiese omstandighede waar werkloosheid veral ʼn kwessie is.”

Henama het egter nie gehuiwer om Gigaba weereens skerp te kritiseer vir die aanvanklike instelling van die streng reisregulasies vir minderjariges nie. Dít het vereis dat die ouers nie net ʼn onverkorte geboortesertifikaat vir die minderjarige kinders moes toon nie, maar ook ʼn toestemmingsbrief van ouers of voogde moes verskaf wat die reis goedkeur.

“Die minister het die Life Esidimeni-krisis van toerisme met sy streng visumregulasies veroorsaak,” het Henama gesê. Hy het aangevoer talle werkgeleenthede in die toerismebedryf het in die slag gebly na die instelling van die reisregulasies vir minderjariges.

Volgens prof. Tembi Tichaawa, die hoof van die skool van toerisme en gasvryheidstudies aan die Universiteit van Johannesburg, het die swaar visumregulasies sedert die instelling daarvan in 2015 tot ʼn verlies van tussen R7- en R10 miljard in die plaaslike toerismebedryf gelei.

Marianne Merten, ʼn joernalis wat vir die Daily Maverick oor parlementêre gebeure berig, het Woensdag in ʼn artikel aangevoer nie een van die aankondigings rakende die visumveranderinge is eintlik besonders nuut of finaal nie.

“Baie van die administratiewe en tegniese visumveranderinge moet nog in Oktober, of selfs in April 2019, afgehandel word. Die truuk is natuurlik in hierdie geval om iets van niks te maak, en dit boonop goed te laat lyk, of dit nou by die Uniegebou of in ʼn staatsdepartement is,” het Merten gesê.

Sue-Ann de Wet, die burgerregte-organisasie AfriForum se projekkoördineerder vir die Suid-Afrikaanse Diaspora, het beaam dat daar nog baie onduidelikheid oor die nuwe visumregulasies is.

“Al wat in hierdie stadium wel vir my duidelik is, is dat Suid-Afrikaanse ouers wat met hul minderjarige kinders die buiteland wil besoek, steeds ʼn onverkorte geboortesertifikaat en toestemmingsbrief van die ouer of voogde sal moet verskaf indien hulle nie saam reis nie. Die regulasie sal mettertyd verval soos wat nuwe paspoorte vir Suid-Afrikaanse kinders gedruk word met albei ouers se besonderhede in.”

Maroela Media het in Julie berig dat Suid-Afrikaanse ouers se besonderhede binnekort op die paspoorte van hul kinders, wat jonger as 18 is, sal verskyn. Dit is deel van die departement van binnelandse sake se planne om te moderniseer en na ʼn papierlose omgewing te beweeg.

“Die proses vir buitelandse toeriste wat Suid-Afrika met hul kinders wil besoek, sal wel vereenvoudig word, maar die besonderhede daarvan sal eers in Oktober beskikbaar wees.”

De Wet het gesê die verwysing na “onverkorte geboortesertifikaat” word vervang met die beter beskrywende frase “geboortesertifikaat wat besonderhede van die ouers bevat”. Dit verwys egter steeds na dieselfde dokument.

Malusi Gigaba die minister van binnelandse sake. Foto: Cindy Waxa/ANA

“Ons het ons kommer oor die uitwerking van die strenger visumregulasies uitgespreek toe dit vier jaar gelede bekendgemaak is. Suid-Afrika se toerismebedryf het groot skade gely en ʼn mens kan net hoop dat die nuwe regulasies betyds vir die komende feesseisoen ingestel sal word.

“Indien dit wel gedoen word, sal dit gaaf wees as Gigaba se departement ʼn effektiewe kommunikasiekanaal sou skep waar die publiek hul navrae oor visumregulasies beantwoord kon kry. Immigrasiebeamptes moet ook opgelei word om dié soort navrae te hanteer.”

De Wet het verder gesê iets wat Gigaba nie in sy aankondiging genoem het nie, was die diensleweringskwessie wat die publiek nog dikwels met sy departement ervaar.

“Sommige mense moet steeds tot ses maande wag om die nodige reisdokumentasie van binnelandse sake te ontvang. Ek het baie stories van kinders wat geleenthede in die buiteland misgeloop het omdat hulle nie betyds hul dokumentasie vir reisplanne kon kry nie.”

  • Lees hier op Maroela Media watter visumregulasies Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, sal verander om die toerismebedryf ʼn welkome hupstoot te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Paul ·

Ek het ‘n idee die ANC regering moes alle regulasies in die land gelos het, net soos dit in 1994 aan hulle oorgedra is.

Asmain ·

Die hoë misdaadsyfer het n negatiewe impak op toerisme, nie die visumregulasies nie.

Pieta ·

Verkeerd. Visumregulasies het toerisme in duie laat stort. Op watter planeet leef jy dan?

zoom zoom ·

Al wat verander het is sy edele Gigaba se kleur van sy tailor made suits.

Ja Nee ·

Gigaba is die eintlike probleem het geen visie, word gely deur die anc.

Hans ·

Twyfel of die ” verslapte” regulasie meer werlike toeriste wat aansienlike bedrae in RSA gaan bestee gaan lok-dink dit gaan meer mense wees wat vir die dag oor die grens kom om inkopies te doen.

Robert ·

Ek dink misdaad én visumregulasies het ‘n aandeel aan die immekaar tuimel vd toerisme sektor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.