Visumvrye status vir sommige reisigers na SA heringestel

(Argieffoto: Sure Travel)

Die minister van binnelandse sake, dr. Aaron Motsoaledi, sê die visumvrye status van burgers van sommige lande wat aan die begin van die Covid-19-afsonderingstydperk opgeskort is, sal voortaan weer vir sommige buitelandse reisigers na Suid-Afrika geld.

Dit geld vir reisigers van Suid-Korea, Spanje, Italië, Duitsland, Hongkong, Singapoer, die VSA, Engeland, Frankryk, Portugal en Iran.

Die heringestelde status verander egter niks aan die Covid-19-regulasies wat steeds geld nie.

Motsoaledi het amptenare opdrag gegee om die lugvaartbedryf, ambassades en alle ander rolspelers so gou moontlik oor die besluit in te lig.

Hawebestuurders is beveel om steeds aan alle SAOG-protokolle en -riglyne ingevolge Covid-19-regulasies vir die vervoer van noodsaaklike items te voldoen. Die riglyne vir vragmotorbestuurders wat oor grense reis geld steeds soos die geval was die afgelope sewe maande.

Verwarring het ook geheers oor die vereiste dat ʼn reisiger 72 uur voor ʼn reis na Suid-Afrika negatief vir Covid-19 moet toets. Diegene wat dienste in die SAOG-streek lewer word toegelaat om ʼn grens verskeie kere oor te steek, maar moet ʼn sertifikaat hê  wat nie ouer as 72 uur mag wees nie wat bewys die persoon het negatief vir Covid-19 getoets.

Verwarring heers ook oor die reëls wat vir lugvaart- en skeepsbemanningslede geld. Volgens Motsoaledi is sy eweknie by vervoer bewus van die probleem en sal daar hopelik later Sondag meer duidelikheid gegee word.

Immigrasiebeamptes moet die land vanwaar die reisiger vertrek het, nagaan, en nie die land van oorsprong van die betrokke lugredery nie.

Diegene wat net deur Suid-Afrika reis moet ook ʼn sertifikaat hê wat bewys dat hulle negatief vir Covid-19 getoets het.

Motsoaledi het gesê visumdienste in verskeie kategorieë is ook hervat. Dit sluit in visumaansoeke vir studie, sake en vir mediese redes.

Reisigers uit lande wat steeds ʼn hoë Covid-19-infeksiekoers het, kan skriftelik aansoek doen vir toegang tot die land. Die lys hoërisikolande is beskikbaar by www.dha.gov.za.

“Immigrasiebeamptes is opdrag gegee om die bepalings met ʼn mate van buigsaamheid toe te pas sodat aansoeke vir sakereise by grensposte indien nodig ingedien kan word. Daar moet gewag word vir die uitslag daarvan voordat toegang na Suid-Afrika toegelaat word,” het Motsoaledi gesê.

Alle ander reisigers van medium- of laerisikolande moet steeds ʼn sertifikaat hê wat bewys dat die persoon nie langer as 72 uur voor sy of haar vertrek negatief vir Covid-19 getoets het nie. Indien ʼn reisiger nie so ʼn sertifikaat het nie, moet hy of sy op eie onkoste in kwarantyn bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jaco ·

Besoekers uit Spanje, Italië, Duitsland en die VSA kom SA visumvry binne, maar as ek soontoe wil gaan moet ek meer as R2000 vir ‘n visum betaal, ek moet by hulle ambassades honderde vrae oor myself beantwoord én dan volg die helfte van dié vrae weer wanneer ek in daardie lande aankom. Dis mos onregverdig. Visumvry behoort mos gelyk te wees.

Nico ·

Ander lande kry gratis visums, wanneer ek en my vrou vir ons seun in Duitsland wil gaan kuier moet ons ten duurste betaal vir ‘n visum, dit is onregverdig.

Jaco ·

Dis ‘n klomp wit lande wie se mense visumvry na SA mag kom, maar Suid-Afrikaners moet ten duurste betaal vir visums om daardie wit lande te besoek. Dis onregverdig en rassisties

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.