Visvanguitstappie eindig tragies

Visriviermond. Foto: David MacGregor/NSRI

Visriviermond. Foto: David MacGregor/NSRI

ʼn Man het Saterdag tydens ʼn visvanguitstappie by die Visriviermond in die Oos-Kaap verdrink.

Juan Pretorius, bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se Port Alfred-stasie, het gesê die NSRI is ontbied nadat twee mans aan boord van ʼn kajuitboot in die moeilikheid beland het. Die polisie se soek- en reddingspan en die nooddienste is ook ontbied.

Die NSRI het een van sy vaartuie uitgestuur en die kajuitboot op ʼn sandbank gevind. ʼn Visserman, in sy 50’s, was op die sandbank by die boot. “Die man het bevestig sy vriend, in sy 40’s, is deur die water meegesleur nadat hul boot in die riviermond ingedwing is deur die sterk uitgaande gety.”

Volgens die man het hy en sy vriend uit die boot geklim toe dit op die sandbank beland het. Hulle het glo probeer om die boot te draai na die gety, toe die vriend meegesleur is en onder die water verdwyn het.

NSRI-redders en lede van die polisie se soek- en reddingspan het die man strand toe geneem. Hy was erg in skok en is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem. “Vissermanne by Bats Cave het kort hierna bevestig die liggaam van die vermiste man het daar uitgespoel.”

Pretorius het die NSRI se meegevoel met die familie en vriende van die oorledene betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.