VL sê oor massa-optog teen plaasmoorde

Die Swart Maandag-optog in Port Elizabeth. Foto: Raahil Sain/ANA

Te midde van die nasionale bewusmaking rondom plaasaanvalle wat deur die Swart Maandag-optogte ontketen is, het Vrystaat Landbou gesê hy sal nie sy lede aanmoedig om deel te neem aan ʼn massa-optog teen plaasmoorde wat vir 25 November beplan word nie.

AfriForum beplan om in samewerking met ander organisasies die massa-optog na die Uniegebou in Pretoria te hou wanneer daar ʼn memorandum aan die president oorhandig sal word.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het vroeër gesê Fikile Mbalula, minister van polisie, het dit duidelik gemaak dat hy nie ʼn behoefte het om plaasmoorde met ʼn gefokusde teenstrategie te beveg nie. “Ons protesaksies is dus nie om die minister en die president te oortuig dat hulle ons probleme moet oplos nie, maar om vir die media en die internasionale samelewing te wys waarom ons self ons eie veiligheidsnetwerke stig,” het Roets gesê.

Vrystaat Landbou (VL) het intussen in ʼn verklaring gesê hy meen die Swart Maandag-protesoptogte teen plaasmoorde “het sy doel bereik” en daarom sal VL nie sy lede aanmoedig om deel te wees van die massa-optog op 25 November nie.

“VL glo dat die meeste Suid-Afrikaners redelike mense is wat genoeg gehad het van misdaad en hulself daaroor wil uitdruk. VL glo dit is belangrik dat die totale gemeenskap op ʼn opbouende manier saam behoort te staan om ʼn ‘no tolerance’ beleid daar te stel teen misdaad,” lui die verklaring.

Die Solidariteit Beweging het ’n bewusmakingsaksie teen plaasmoorde by die Voortrekkermonument in Pretoria gehou (31 Oktober 2017). Foto: Reint Dykema

Tommie Esterhuyse, vise-president van VL, het aan Maroela Media gesê VL se bestuur, wat al die organisasie se streeksverteenwoordigers insluit, het op ʼn vergadering die veiligheidsituasie in die land en op plase bespreek, asook AfriForum se versoek aan hulle om die massa-optog te steun. Volgens Esterhuyse is daar uiteenlopende sienings oor die saak geopper, maar was die meerderheidsbesluit dat lede nie aangemoedig sal word om aan die optog deel te neem nie.

“Uiteraard kan ons ook nie ons lede ontmoedig om aan die optog deel te neem nie,” het Esterhuyse gesê. “Daar is verskeie redes wat aanleiding gegee het tot ons besluit onder meer dat ons bang is vir konfliksituasies wat op die dag mag ontstaan. Dit is ook belangrik om in ag te neem dat dit nou ploeg- en planttyd is in die Vrystaat, wat die kosmandjie van Suid-Afrika is, en dat dit daarom vir boere moeilik sal wees om nou aan protesaksies deel te neem.”

Op ʼn vraag watter ander maniere VL voorstel om “ʼn no tolerance-beleid” daar te stel teen misdaad, het hy gesê daar is verskillende voorstelle gemaak, onder meer om voort te gaan om met die polisie te onderhandel om te help om landelike gemeenskappe te beveilig. “Ons het al verskeie vergaderings met AfriForum gehad om te kyk hoe plaaswagte en AfriForum se veiligheidsgroepe met mekaar kan skakel. Ons is ook voortdurend in gesprek met die polisie oor die veiligheidsituasie op plase,” het hy gesê.

‘n Swart Maandag-optog in Pretoria. Foto: Facebook

Esterhuyse het gesê hy is baie tevrede met VL se goeie verhouding en samewerking met die polisie en meen die polisie se reaksie en bewaring van misdaadtonele tydens die afgelope paar plaasaanvalle in die Vrystaat was puik.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het in reaksie hierop gesê dit is jammer dat die VL die standpunt inneem dat hy nie sy lede sal aanmoedig om aan die optog op 25 November deel te neem nie.

“Om aan te voer dat daar konflik op die dag [van die optog] gaan wees is ʼn standpunt wat op fopnuus gegrond is. Die ware stand van sake is dat die optog in samewerking met die SAPD gedoen word en dat AfriForum ook ons eie veiligheidsplanne in plek het vir die dag,” het Kriel gesê. “Mense moet nie deur vrees gedryf word nie. As jy deur vrees gedryf word, speel in die hande van die opportuniste wat probeer om die optog te diskrediteer.”

Kriel het gesê hy stem saam dat die Swart Maandag-optogte sy doel bereik het, maar meen dit is nou nodig om momentum hiermee te behou. “Die Swart Maandag-optogte het beslis ʼn punt gemaak, maar ons het nog geen reaksie van die regering af gesien dat daar vreeslik planne gemaak word om plase te beveilig nie. Die druk moet nou volgehou word om toe te sien dat daar iets daadwerklik gedoen kan word om landelike gemeenskappe te beveilig.”

Hy het bygevoeg daar is wel verskeie ander organisasie insluitende ander affiliale van AgriSA wat wel die optog op 25 November steun. “Dit is jammer dat VL hulle nou op so wyse isoleer.”

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het Maandag gesê daar was reeds 360 plaasaanvalle en 77 plaasmoorde tot dusver vanjaar.

Die massa-optog sal op 25 November om 10:00 by die Pretoria-kunsmusem op die hoek van Francis Baard- en Wesselsstraat in Arcadia begin en van daar na die Uniegebou beweeg. Mense wat graag wil deelneem kan hul deelname hier bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

MARITA ·

Ai dus nou hartseer, rerig nie gedink Vrystaat Landbou sal hierdie as onnodig sien nie! Wonder hoe voel die boere op grondvlak in die Vrystaat hieroor? Dus n wettige optog met al die nodige goedkeuring ens. Of wat mis ek?

Teleurgesteld ·

Ek is n groot ondersteuner van boere in die vrystaat, en is bitterlik teleurgesteld in VL. Ek verstaan nie waarom die organisasie dit nie ondersteun nie? Ek soek antwoorde.

Se maar net ·

Miskien moet elke optogganger net 1 plaaswerker/huiswerker saamvat sodat die optog nie weer as n rassistiese ding uitgemaak kan word nie. Los ook maar die ou vlag by die huis…..

Pateet ·

VL wys sy kleur, hoeveel Vrystaat boere is al aangeval?
Hoe se hulle, as jy nie saam my is nie dan is jy teen my!
Nog n organisasie wat ons nie goedgesind is nie, en dit uit eie geledere.

ferdi ·

Ek stem saam met VL ons het ons punt bewys Roep dag van vas en gebed uit vir almal geraak deur misdaad.Optogte lok net meer geweld en di plase staan leeg.Ons hulp is van God ni van di buiteland.Nihemia9 verwys.Ons kan orals in di land by ons kerke bymekaar kom

Ouma ·

Nét as ons as ‘n nasie saam kan betoog teen ALLE geweld. ALMAL is keelvol vir die misdaad in hierdie land.

Peet J ·

‘n Optog om vir die regering te gaan sê:- “Stop die plaasmoorde ” hoeveelkeer moet dit nog aan die regering gesê word . Is dit nog die moeite werd om met die regering oor hierdie onderwerp te onderhandel ons sien dan dat dit vir die afgelope 23 jaar geensins vrugte afgewerp het nie. Die veiligheidsplanne wat insamewerking met die polisie op die publiek afgedwing was het tot dusver ook nie gerealiseer nie die moorde en aanvalle gaan maar net aan en aan 360 plaasaanvalle vir die jaar en 77 plaasmoorde (365 aantal dae per jaar) en dit word deur die polisie as gewone misdaad bestempel. Die instansies wat by hierdie optog betrokke is behoort ‘n ultimatum aan die regering en die polisie voor te lê om daadwerklike stappe in die verband te neem.

Eish ·

Ek dink die beste is om die Vrystaat Landbou se sienswyse te respekteer sonder om mekaar te verskeur. Dit skep net klowe tussen ons. Hul het hul redes gegee en dis aanvaarbaar.

susan ·

Hierdie wakker net moorde aan want daar is boere met vlae wat hulle nie kan gedra nie

Swart Piet ·

Dis nes my oupa altyd gese het – die boere sal nooit kan saam staan nie en VL bewys dit alweer. Hulle is seker taai omdat hulle nou nie die reelings gedoen het en die middelpunt van alles is nie. SIES VL!!!!!

Leahim ·

Of hulle is skrikkerig vir malema wat gesê het die effe gaan hulle ontmoet.

Therese van Schalkwyk ·

Daar het ons dit …

“Esterhuyse meen die polisie se reaksie en bewaring van misdaadtonele tydens die afgelope paar plaasaanvalle in die Vrystaat was puik”.

Goeie genugtig mnr. Esterhuyse, waar begin ‘n mens hierop reageer?

M.a.w. 23 jaar en honderde moorde later, is VL hoogs tevrede as die Vrystaatse polisie bloot opdaag en nie alle leidrade vertrap nie. Jammer, maar hierdie “onderhandelingsbeleid” wat telkens op niks uitloop, is ‘n belediging vir intelligente mense.

Sterkte aan AfriForum e.a. wat alles in die stryd werp te midde van verstommende teenkanting uit eie geledere. Wat dit gaan verg om alle betrokkenes uit één mond te laat praat, weet nugter alleen.

susan ·

Moorde word aangewakker deur optogte veral die wat nie by die reëls hou nie. Woon en werk rustig voort xxx

Chrisjan ·

Agnee Susan “moorde word aangewakker deur optogte”.Dis bog.Maw boere moet maar stil sit en wag vir ‘n beurt om geslag te word?

Mike ·

Nog ‘n rede hoekom ons sitting ducks is wat uitgemoor word en wat kom van ons eie mense soos VL. Nee wat ek het GEEN hoop vir die spul nie as die boer of blanke te stupid is om te sien wat aangaan verdien hy wat besig is om met hom te gebeur.

Andre ·

Vir wat moet julle met die polisie “ONDERHANDEL” vir veiligheid. Watse strooi is dit! Mbalula, doen jou werk. Maar jou beamptes is te besig om te party oor blikke vol geld, slaap in klantore en besig om van diens pistole beroof te word en om ontsnaptes te jaag!3
Ek praat nie die polisie sleg nie, daar is die handjie vol wat regtig daar hoort. Maar daar is ongelukkig duidelik meer as ‘n handjie vol wat eerder iets anders moet probeer…

bgj van der westhuizen ·

wel vrystaat landbou lyk my julle is meer bekommerd dat die boere eerder moet plant en saai as om te gepla te wees of hulle gaan lewe om die oes te sien hulle moet eerder gaan betoog en stop plant dat die regering kan sien hoe belangtik is dit vir hulle om te betoog dat eits gedeon word om plaas moorde

Hanna ·

Wel ek was een van d mense wat gesê het ek gaan die optog bywoon, en glo my ek is bang vir niks en niemand nie en dis nie yit vrees nie maar ek het geleer dat ek miet luister vir daai stemmetjie hier binne my. 2 dae terug al het ek besluit om nie meer te gaan nie. Daar mag dalk niks gebeur nie, maar ek stem saam met VL buiten dat dit hoog seisoen is vir d boere moet ons pasop en luister. Ek is teleurgesteld dat ek nie kan gaan nie maar ek weet nie wat is die doel vd Here nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.