VL: ‘Selfverdediging is ʼn grondwetlike reg op lewe’

Foto ter illustrasie. (Foto: Bermix Studio, Unsplash)

Vrystaat Landbou (VL) sê hy is oortuig die vuurwapenwysigingswetsontwerp is ʼn aanval op die reg op lewe. Dié organisasie staaf sy argument met ʼn uitspraak deur hoofregter Chaskalson in die saak S v Makwanyane en ander in 1995:

“Selfverdediging word deur alle regstelsels erken. Waar ʼn keuse tussen twee of meer mense se lewens gemaak moet word, kry die lewe van die onskuldiges voorkeur bo die lewe van die aggressor. Dit strook met artikel 33 (1). Om die onskuldige persoon die reg om uit selfverdediging op te tree te ontken, sou daardie persoon se reg op sy of haar lewe ontken.”

Hierdie belangrike aanhaling vorm deel van VL se omvattende kommentaar op die voorgestelde wysigingswetsontwerp op vuurwapens, wat reeds ingedien is.

Maroela Media het onlangs berig dat VL reeds aangevoer het dat die voorgestelde wysiging wat vuurwapenlisensiëring vir selfverdedigingsdoeleindes wil verwyder, hoegenaamd nie sin maak nie.

Dié organisasie se kommentaar lig die volgende probleme met die voorgestelde wysigings uit:

  • Dit plaas in die praktyk ʼn beperking op die aansoek om vuurwapenlisensies vir selfverdediging.
  • Dit verminder die aantal vuurwapens en ammunisie wat ʼn vuurwapeneienaar mag hê.
  • Dit kriminaliseer die besit en gebruik van herlaai-toerusting.
  • Dit verhoog die moeilikheidsgraad om ʼn vuurwapenlisensie te verkry terwyl die ontoereikendheid en tekortkominge van die bestaande proses nie aandag kry nie.

VL is van mening dat hierdie wetsontwerp ʼn ongegronde poging is om die moeilikheidsgraad om ʼn wettige vuurwapen te besit, aansienlik te verhoog en terselfdertyd ʼn ontwapeningsagenda te dryf.

“Die gebruik van onwettige vuurwapens deur misdadigers sal nie deur hierdie wetsontwerp opgelos word nie en die klaarblyklike narratief dat wettige vuurwapens die olifant in die kamer is, is ʼn totale wanvoorstelling.

“As dit afgekondig word, sal die wysigingswetsontwerp op vuurwapenbeheer ʼn veiliger omgewing vir geweldsmisdadigers verseker om in op te tree. Daarom kan hierdie wetsontwerp nie gesien word as iets anders as ʼn aanval op die reg op lewe van wetsgehoorsame burgers nie”, sê Francois Wilken, president van VL.

Enige persoon wat steeds VL se veldtog teen die voorgestelde wysigingswetsontwerp op vuurwapenbeheer wil ondersteun, kan die organisasie se webwerf besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Persheks Adri ·

Misdadigers het onwettige wapens so Cele kan dit vergeet waaragtig vergeet! Ons is eerlike burgers nou wil hy ons in daai kategorie plaas…

Prikkie ·

Hierdie is die beste redes wat ek tot dusver gelees het waarom die wysingswet nie deurgevoer behoort te word nie.

Die president en andere sê dat die doodstraf nie teruggebrin g kan word nie”want almal het ‘n reg op lewe”.

Nou wat van die lewens van diegene wat dikwels op die mees wreedaardige wyse van hulle lewens beroof word.

Om vuurwapens te verbied gaan die weerloses nog meer weerloos maak.

Winnie ·

Wat van weerlose ou mense wat op die pad is en aangeval word. Hoe verdedig hulle hulself. Hoekom is die verhewe bo die wet mense dan omring met wagte. Laat hulle sonder dit klaarkom en laat hulle voel hoe dit is om weerloos te wees.

Tino ·

BC het dan ‘n 150 wettige vuurwapens gaan haal by 4 sekuriteits maatskappye in KZN. Dit was sy plan na afloop van sy tee partytjie op nkandla. Was tjoepstil gewees tydens die besteling.

Dit is presies hoekom burgers die polisie se werk moes doen

Anoniem ·

Cele lewe in sy eie droomwêreld. Dit is tyd dat die booswigte bietjie hul tyd verdryf op hom uitoefen, dan hoor ons wat hy vir homself te sê het.

Harley Davidson ·

Ek weet nie hoekom daar so baie tyd op hierdie onderwerp gemors word nie,wat het die onbevoegde regering ooit gedoen wat gewerk het .Cele moet doen waarvoor hy gekwalifiseer is voorskoolse kinders opvoed,die wet sal nooit deurgevoer word nie en sou dit sal ‘n kandidaat prokureur dit ongeldig verklaar kry in ‘n hof met min moeite want dit sou bots met die reg op selfverdediging.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.