Vlaag rooftogte tref Kaapstadse skole

Foto: Verskaf

Die Wes-Kaapse regering het ʼn beloning uitgeloof vir inligting wat tot die suksesvolle vervolging kan lei van ʼn groep verdagtes wat in Mei ʼn reeks rooftogte by laerskole in Kaapstad uitgevoer het.

Debbie Schäfer, die Wes-Kaapse minister vir onderwys, het Dinsdag gesê in die afgelope drie weke was daar vier afsonderlike gewapende rooftogte by skole.

Die eerste rooftog was op 16 Mei by Ummangaliso Primary in Kayelitsha, die tweede was op 24 Mei by Intshayalelo Primary in Lingelethu-Wes, die derde was op 29 Mei by Lwandle Primary in Lingelethu-Wes en die vierde op 30 Mei by Vukhukhanye Primary in Gugulethu.

“Die rooftogte is só beplan om plaas te vind net nadat die skooldag geëindig het en leerders en onderwysers met naskoolse aktiwiteite of vergaderings besig was,” het Schäfer gesê.

“Onderwysers en personeel is met vuurwapens gedreig en van hul persoonlike besittings beroof. Die skole se rekenaartoerusting is ook gesteel en in een voorval is ʼn voertuig gekaap.”

Volgens Schäfer is geen leerder of onderwyser tydens die rooftogte noodlottig beseer nie. “Daarvoor is ek baie dankbaar. Die rooftogte het egter ons personeel getraumatiseer en in vrees vir hul veiligheid gelaat,” het sy gesê.

Die Wes-Kaapse departement van onderwys het bykomende veiligheidsmaatreëls by dié skole ingestel en berading aan die betrokke individue verskaf.

“Dit sal egter nie voorkom dat nóg ʼn aanval by ander skole kan plaasvind nie. Die kriminele moet gestop word voordat hulle by nóg ʼn skool kan toeslaan en daarom word ʼn beloning van R10 000 uitgeloof vir inligting wat tot die skuldiges se inhegtenisneming en vervolging kan lei.”

Schäfer het gesê dit is nog nie duidelik of die rooftogte met mekaar verband hou nie, maar daar is ʼn duidelike aanduiding dat die skole op spesifieke tye geteiken word.

Enigiemand met inligting oor die rooftogte word versoek om die departement se inbelsentrum by 0800 45 46 47 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.