Vlaamse gesin verkies Kaap bo België  

Céline Haspeslagh en haar man, Frederik Herten, wil ‘n verskil kom maak. (Foto: Johannes Froneman)

Terwyl duisende Suid-Afrikaners jaarliks hul tasse pak om ʼn nuwe lewe in die “groener” buiteland te gaan soek, het ʼn Belgiese egpaar besluit om hul heil in die land van melk en heuning te kom soek.

Céline Haspeslagh (34) en Frederik Herten (37), albei van Vlaamse afkoms, het verlede jaar sak en pak van België na die Hemel-en-Aarde-vallei neffens die Kaapse Wynland verhuis om hier ʼn nuwe lewe vir hulle en hul drie kinders te bou.

“Ons het nie naïef hierheen gekom nie. België is ook nie perfek nie. As jy daar iets wil onderneem is daar baie rompslomp en die mark is al so versadig. Hier is nog die moontlikheid om ʼn verskil te maak,” sê Haspeslagh .

Hoewel albei van hulle lank reeds ʼn liefde vir Suid-Afrika en die landbou koester, is dit Covid-19 wat uiteindelik die deurslag gegee het vir die twee om hierheen te verhuis, het hulle aan Maroela Media vertel.

Die egpaar is drie tale magtig (Vlaams, Frans en Engels), maar verstaan Afrikaans goed.

“Ons werk en drie kinders het baie van ons tyd gevra. Toe die wêreld in Maart 2020 stop, het ons skielik tyd gehad om te dink en praat oor wat ons wil doen met ons lewe,” vertel Herten.

ʼn Wynplaas naby Stellenbosch het hul oog gevang, maar weens streng reisbeperkings te midde van die pandemie, kon hulle nie reis nie. Toe hulle eindelik in November 2020 die vliegtuig na Suid-Afrika haal om die plaas te besigtig, het hulle besef dit is nie wat hulle in gedagte gehad het nie.

“Al was daar niks destyds in die Hemel-en-Aarde-vallei te koop nie, het ʼn vriend aangedring dat ons na plase in dié gebied kom kyk.” Ná ʼn lang ompad kom hulle toe af op die plaas Sumaridge en neem “net 30 sekondes” om te weet dit is die plaas vir hulle.

Maande se gesprekke het gevolg, aangesien die plaas nie te koop was nie en dit vir die vorige eienaars ʼn emosionele besluit was om van die plaas af te sien. Die egpaar het dit gerespekteer.

Toe die plaas eindelik in 2021 in hul naam geregistreer is, het hulle die naam na Hasher Family Estate verander, ʼn mengsel tussen die twee se vanne.

Van die kantoor na die wynlande

Wingerde op die wynlandgoed Hasher. (Foto verskaf.)

Die besluit om die korporatiewe omgewing vir voltydse boerdery te verruil, was nie vir die egpaar so moeilik nie. Haspeslagh, ʼn menslike hulpbronne bestuurder se familie is immers al vir eeue boere — so ver terug as die 1600’s. “Mense vergeet ʼn wynplaas is steeds ʼn plaas. Ons is boere,” benadruk sy. “Ek het grootgeword op ʼn plaas.”

Haar ouers is deesdae meer betrokke by die verwerking van bevrore groente, maar hulle boer ook steeds op die familieplaas in België.

Haar een oom, Xavier Haspeslagh, het ook ʼn aandeel in die Hasher Family Estate. “Familie is vir ons baie belangrik,” beklemtoon sy.

Herten, ʼn voormalige beleggingsadviseur, het ook nog altyd iets met wyn te doen gehad. Hy is ʼn opgeleide sommelier en het ʼn wyndistribusieonderneming in België begin. Hy het ook al ʼn kliënt gehelp om ʼn suksesvolle wynplaas van die grond af te kry.

Herten het op ʼn baie jong ouderdom reeds sy hart in Suid-Afrika verloor. “My ouers het in 1976 vir ʼn jaar lank in Suid-Afrika gebly. Hulle het baie goeie vriende gemaak en kontak behou.

“Toe ek 12 jaar oud was, het my ouers my en my boeties hierheen gebring om die land te kom wys. Ek het verlief geraak op die land…,” sê hy.

“Hy was verlief op vriende se dogter,” terg Haspeslagh, maar Frederik hou vol: Hy was altyd erg oor Suid-Afrika en het bykans jaarliks hier kom kuier.

In 2008 kom wys hy ook vir Haspeslagh die land — en sy hou van wat sy sien, maar om hierheen te verhuis, het nog ver in die toekoms gelê.

Planne vir die plaas

‘n Blik op die Hemel-en-Aaarde-vallei vanaf die Hasher Family Estate. (Foto verskaf.)

Die egpaar het allerlei planne met die plaas en wil nie oorhaastig wees nie. Die fokus is op die grond, die klimaat en die unieke produkte wat hier in die mooi vallei naby Hermanus en die see geskep kan word.

Op Hasher Family Estate word Marimist (ʼn gehoute chardonnay) en Ernest (ʼn pinot noir) verbou. Die wingerdblok wat die huidige sauvignon blanc (onder die naam Fat Lady) opgelewer het, gaan uitgekap en vervang word om die opbrengs en gehalte per hektaar op te stoot.

Die klem op familie en balans tussen finansiële realiteite en ekologiese volhoubaarheid is vir hulle belangrik.

“Só moet ons kinders Ernest (8), Héloise (7) en Emile (5), tussen die wingerde kan loop en speel, sonder dat hulle deur gifstowwe oorweldig word. Ons streef nie noodwendig na ʼn ten volle organiese boerdery nie, maar wil ʼn volhoubare balans vind,” sê Haspeslagh .

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Arno ·

Grootste fout ooit, maar baie welkom in die land van moord, misdaad en korrupsie.

Snowball ·

Sterkte! Afrika se uitdagings is legio. Maar dalk is julle gelukkig en word nooit beroof, met vuurwapens aangehou, gemartel, vermoor of lewe met die konstante bedreiging van grondonteiening wat oor julle koppe hang nie.

Wondermaarnet ·

Mag julle nooit deel van die anc statistieke word in SA nie.

Swerwer ·

Sterkte, glo hul besef regtig woorvoor hul hul ingelaat het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.