Vlae halfmas vir ‘gevalle helde’

Kerse word aangesteek langs die drie se valhelms. Foto: ANA.

Raads- en raadsinstellingsvlae sal halfmas hang tydens die routydperk vir die drie brandbestryders wat hul lewe verloor het in die dodelike brand wat verlede week uitgebreek het by die 23 verdieping hoë Bank of Lisbon-gebou in die Johannesburgse middestad.

Simphiwe Moropane (28), Khathutshelo Muedi (37) en Mduduzi Ndlovu (40) het verlede Woensdag gesterf tydens die brand wat drie dae geneem het om te blus. Dié gebou huisves ook die departement van gesondheid en menslike nedersettings.

Speaker Vasco da Gama en Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het versoek dat die vlae halfmas sal hang tydens die routydperk.

“Ons sal dié tyd onthou waartydens die Stad nie net drie brandbestryders verloor het nie maar ook drie pa’s, mans en kollegas. Dié mans, asook al die mans en vroue in ons nooddienste verlaat hul huise daagliks en weet nie of hulle weer veilig sal terugkeer nie,” het Da Gama gesê.

Da Gama het gesê die Stad bedank hulle vir hul onbaatsugtige diens en toewyding aan die nooddienste.

“Julle name en al die ander name van ons gevalle helde sal vir altyd in die klip onderaan die vlagpale gegraveer lê waar julle jaarliks herdenk sal word deur Johannesburg se inwoners,” het Da Gama gesê.

Hy het sy diepste medelye met hul gesinne, kollegas en vriende betuig.

Da Gama het wel beklemtoon dat die nasionale vlag nie halfmas moet hang nie aangesien net die president van die land die mag het om daardie opdrag te gee.

Maroela Media het vroeër berig die Gautengse provinsiale regering het verlede week ʼn hoëvlak-bestuurskomitee op die been gebring om geboue waarin regeringsbeamptes werk en wat nié aan die nodige veiligheidsregulasies voldoen nie, te ontruim.

Die komitee is ook opdrag gegee om te sorg dat die betrokke staatsamptenare na gepaste geboue verskuif word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik UAE ·

Dis goed en reg maar laat die oud stryders wat daar verby loop maar sommer n saluut doen en ons maar verbeel dis vir Genl,Geldenhuis OOK gedoen.(Die halfmas vlae)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.