Vlagprojek gestaak, geen ondersoek kom

Vlae wapper by die ingang na Pretoria. (Foto: Reint Dykema)

Die omstrede vlagprojek is nou amptelik gestaak. Só het min. Nathi Mthethwa Vrydag aan lede van die parlementêre komitee vir sport, kuns en kultuur gesê.

Die DA het Vrydag tydens ʼn parlementêre sitting van die komitee gevra dat Mthethwa se besluit om ʼn reusevlagpaal van R22 miljoen te laat oprig, ondersoek word.

Die DA het ook ʼn petisie met amper 32 000 handtekeninge tydens die sitting ingedien en gesê dit dien as simbool van Suid-Afrikaners se universele woede teenoor ʼn minister wat weier om die kwessie met die mense, wat hy bedoel is om te dien, te bespreek.

Mthethwa het in Mei vanjaar aangekondig hy wil dié reusevlag by Vryheidspark in Pretoria oprig. Die aankondiging het egter groot teenkanting vanuit verskeie oorde gekry en pres. Cyril Ramaphosa het die departement uiteindelik beveel om die projek te laat vaar. Nietemin het Mthethwa in Julie, in antwoord op ʼn parlementêre vraag deur die DA, aangedui dat die vlagvoorstel nog nie heeltemal van die baan is nie en dat dit na die kabinet verwys sal word vir verdere bespreking en oorweging.

Minister Nathi Mthethwa. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

“Talle kunstenaars sukkel om hul gesinne te voed en die minister het versuim om hierdie mense by te staan, maar ons kan ʼn vlag bekostig?” het Tsepo Mhlongo, die DA se woordvoerder van sport, kuns en kultuur, tydens die sitting gesê. “Daar is mense wat saans honger gaan slaap. Hierdie geld kan veel eerder aangewend word vir behuising en die skep van werk. Staak hierdie onsinnige plan.”

Hy het gevolglik gevra dat die komitee ondersoek waarom die geld nie eerder vir die bevordering van sport beskikbaar gestel word nie, aangesien dít veel eerder maatskaplike samehorigheid sal bevorder as ʼn reusevlag wat saans belig word.

Mthethwa het die komitee gevolglik toegespreek en gesê alle operasionele bedrywighede met betrekking tot die ontwikkeling van die vlagprojek is gestaak, nadat die president sy aankondiging daaroor gemaak het. “Die regte administratiewe proses word tans onderneem om die besluit om die proses te staak, te bekragtig.”

Hierop het Beauty Dlulane, voorsitter van die komitee, gesê hulle gaan niks ondersoek nie, aangesien die projek gestaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elize ·

Hy sukkel seker om al sy tande van die grond af op te tel na hierdie kishou!

Nie Verbaas ·

Kan hulle asseblief net die geld wat alreeds verkwis is van slim Nathi af verhaal?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.