Vlak 3: Dié openbare vervoer nou toegelaat

Fikile Mbalula, minister van vervoer, gedurende Saterdagmiddag se mediakonferensie. (Foto: Kopano Tlape, GCIS)

Openbare vervoer oor provinsiale en munisipale grense heen, sowel as beperkte plaaslike passasiersvlugte sal tydens vlak 3 van die afsonderingstydperk toegelaat word. Skeepsvragte sal ook vanaf Maandag van skepe in Suid-Afrikaanse hawens afgelaai en vervoer mag word na die uiteindelike bestemming. Prasa se Metroraildiens is egter nog nie gereed om in werking te tree nie.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Saterdag regulasies bekendgemaak rakende openbare vervoer tydens vlak 3-afsondring. Dit tree Maandag 1 Junie in werking. Hy het gesê omdat meer mense tydens vlak 3 werk en skool toe kan gaan, beteken dit ook dat meer mense van openbare vervoer afhanklik is, daarom moet regulasies vir openbare vervoer aangepas word. Die minister het die volgende wysigings met die verskuiwing van vlak 4 na vlak 3 van afsondering aangekondig:

Skeepsvaart

Passasierskepe word steeds nie in Suid-Afrika se hawens toegelaat nie; slegs vragskepe of vaartuie wat goedere vervoer word toegelaat om hawens binne te gaan. Seevaarders wat in Suid-Afrika geregistreer is, sal ook toegelaat word om van skepe en ander vaartuie af te klim, mits hulle onder verpligte kwarantyn geplaas word. Dit sal ook van Maandag af toelaatbaar wees om vragte van skepe af te laai en na die finale bestemming te vervoer.

Lugvaart

OR Tambo-lughawe (Foto verskaf aan Maroela Media)

ʼn Beperkte aantal binnelandse vlugte sal daagliks toegelaat word vir mense wat vir besigheidsdoeleindes reis. Nie alle lughawens sal onmiddellik oopgestel word nie. Die drie groot lughawens, naamlik OR Tambo- internasionale lughawe in Johannesburg, Kaapstad- internasionale lughawe en die King Shaka- internasionale lughawe in Durban sal eerste oopgestel word. Die departement is ook besig om Lanseria-lughawe in Johannesburg toe te rus om oop te maak kort ná die intree van vlak 3 op 1 Junie. “Ander, kleiner lughawens het nog nie die nodige hulpbronne om te verseker dat die nodige gesondheid- en veiligheidsmaatreëls gereed is om die verspreiding van die koronavirus op lughawens en vliegtuie te verhoed nie. Ons is in die proses om dié lughawens met die nodige hulpbronne toe te rus en sal hulle in fases oopstel,” sê Mbalula. Wonderboom in Pretoria en die George-lughawe in die Wes-Kaap sal waarskynlik heel laaste oopgestel word, sê die minister.

Veiligheid- en gesondheidsmaatreëls op lughawens sluit in:

  • Slegs passasiers en lughawe-personeel word op lughawens toegelaat; geen vriende of familie van passasiers nie.
  • Alle passasiers se temperatuur sal by die ingang na die lughawe geneem word.
  • Slegs enkele ingange na die lughawe sal in gebruik wees.
  • Alle passasiers en lughawe-personeel moet te alle tye binne die lughawe maskers dra.
  • Merkers sal op die vloere aangebring word om te verseker passasiers handhaaf behoorlike spasies tussen mekaar.
  • Passasiers word aangemoedig om aanlyn in te boek.

Die kajuit van vliegtuie kan tot hul volle kapasiteit gelaai word. Lugsuiweraars sal in kajuite aangebring word om virusse uit die lug in vliegtuigkajuite te verwyder. Dié suiweraars is van dieselfde aard as wat in hospitale se teaters gebruik word.

Organisasies wat opleiding in lugvaart bied, kan voortgaan met kontak -en virtuele opleiding mits dié studente reeds in die land is. Buitelandse studente moet virtueel onderrig word.

Vervoer op paaie

Argieffoto

Die Gautrein is reeds sedert Mei in werking, maar sal vanaf 1 Junie ook ritte na en van die lughawe kan onderneem. Prasa kan egter nog nie Maandag met sy Metroraildiens voortgaan nie aangesien die nodige maatreëls nog nie gereed is om te verseker Ciovid-19 word nie tydens treinritte versprei nie. Die departement van vervoer hoop om dié diens weer op 1 Julie te hervat.

Vervoer per busse en taxi’s oor provinsiale en munisipale grense word onder vlak 3 van afsondering toegelaat vir passasiers wat ingevolge die regulasies toegelaat word om oor lang afstande te reis. Dit sluit in mense wat vir werk reis, mediese behandeling ver van die huis moet ontvang, vir ʼn siek familielid sorg of skool toe gaan in ʼn ander provinsie of streek. “Dié persone moet die nodige permit by hulle hê wanneer hulle reis,” sê Mbalula.

Tydsbeperking op die funksionering van openbare vervoer word afgeskaf en busse, taxi’s en treine kan nou enige tyd van die dag bedryf word. Taxi’s kan slegs 70% vol wees. Alle ander vervoerdienste, insluitend busse, e-taxi’s en metertaxi’s mag slegs 50% vol wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

koos10 ·

Pak 200 mense in ‘n vliegtuig wat plek het vir 200 mense, maar laat net 50 in ‘n kerk toe al is daar plek vir 1000.

Patches ·

Ja Koos, ek sukkel ook met daardie een. Meer as vyftig mense staan in toue by sekere supermarkte. Opmekaar , geen social distancing. In die winkel word orals gevat en gesnuif . Rakke word nie ontsmet ens ens. Maar ek mag nie kerk to gaan nie. Gelukkig het die belaglike bepalings nie my kerk gestop om steeds elke Sondag n diens te stuur nie en Pinkster was steeds gevier. Net op n ander manier.

JohanR ·

Ek ek die reels reg lees kan net mense wat se nou Kaapstad toe moet gaan vir besigheid vlieg, en niemand anders nie. Se maar ek en my nooi wil nou vlieg om bietjie na daai groot berg in Kaapstad te gaan kyk, dan moet ons seker wag tot by Vlak 2, of Vlak 1?

marius ·

Waarom word hy nie vervolg omrede hy nie sy masker reg dra nie ?

Willem ·

Ek het die klomp verloor niks maak sin nie. Vliegtuig vol maar geen uiteet of haarkapper

Anel ·

Si, as ek nou byvoorbeeld vir besigheid moet vlueg, mah my familie my darem gaan aflaai en weer kom oplaai? Of as ons nou 2 is en ons moet van ‘n uber gebruik maak moet ons in 2 voertuie ry want daar mag net 2 in die voertuig wees. Dubbel betaal. Hierdie regering is siek. As ek siek is gaan ek nie uit nie. Ek het nie die regering nodig om vir my te sê ek is siek, bly by die huis nie. Nou al so keelvol om orals in toue te staan en honderd jeer tempertuur te laat neem.

Duck ·

Mag ek nou van Kaapstad na Worcester/Villiersdorp ry? (met my eie kar)

Sharnelle ·

Taxi’s mag 70% mense vervoer maar ander vervoerdienste mag net 50% mense vervoer. Dit maak mos nou nie sin nie. Ek skud maar net my kop in ongeloof want dis een groot grap.

Cherokee ·

Ja Sharnelle, maar seker sit die mense in die taxis 2 meter vanaf mekaar.

Jack ·

Die diskriminasie tov persentasie in taxis en ander vervoer is opvallend. Hoekom sou dit wees. Isndie ministers dalk betrokke in die taxibedryf?

SomeOne ·

“Lugsuiweraars sal in kajuite aangebring word”,
waar kom die siek grappie vandaan, dit sal jare neem om so ‘n suiweraar in ‘n vliegtuig te laat installeer,
gaan lees alles oor vliegtug veranderings, dan sal julle sien

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.