Vlak 3 en die ekonomie: ‘Dit is onverantwoordelik’

geld ekonomie suid-afrika

(Argieffoto)

Die aangepaste vlak 3 van die afsonderingsregulasies is onverantwoordelik en onaanvaarbaar gegewe die balans van risiko’s vir lewe en lewensmiddele.

So het Piet le Roux, uitvoerende hoof van die sakegroep Sakeliga, gereageer op die regering se aankondiging van die jongste Covid-19-regulasies.

In sy reaksie het dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gesê dié afsonderingsregulasies gaan die ekonomie verdere skade berokken in ʼn bedryf soos toerisme en veral restaurante wat kan sukkel.

Le Roux wys daarop dat al die land se uitgeputte hulpbronne op twyfelagtige wyse teen Covid-19, ’n relatief klein bydraende faktor tot totale mortaliteit in Suid-Afrika, bestee word ten koste van alle ander oorsake van risiko en dood.

“Wanneer normale gedragspatrone op groot skaal deur regerings ontwrig word, wanneer sentrale beplanning mense verhoed om hul gewoontes op grond van ʼn balans van oorwegings relevant vir hul omstandighede aan te pas, dan bou onbeheerbare druk vir maatskaplike onstabiliteit in ʼn samelewing tot uitbarsting toe op.

“Kombineer hierdie algemene tendens met die benarde ekonomiese, fiskale en politieke toestande in Suid-Afrika, dan oorskadu die risiko’s vir dood en ontwrigting as gevolg van politieke, ekonomiese en fiskale ontwrigting Covid-19 s’n veelvuldig.

“Die grootste gevaar in die land vandag is die regering se reaksie op Covid-19.”

Volgens Groenewald kan Suid-Afrika nie verdere skade aan die ekonomie en verdere werksverliese bekostig nie.

“Dit is só dat die onnodige verspreiding van die virus ten alle koste gekeer moet word, maar daar moet in ag geneem word dat die miljoen gevalle waarna nou verwys word ter motivering vir strenger maatreëls, kumulatief is.

“Die herstelkoers in die land is tans sowat 80%. Die kurwe van die tweede Covid-19-infeksievlaag is volgens beskikbare statistieke besig om af te plat sedert Kersdag en dit moet ook in ag geneem word,” meen hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.