Vlak 3: ‘Stappe in regte rigting nie genoeg’

Flip Buys (Foto: Twitter/Solidariteit)

Die Solidariteit Beweging het die skuif na vlak 3 verwelkom, terwyl Sakeliga aangekondig het dat hy hom steeds tot die hof sal wend oor sekere aspekte van die afsonderingsregulasies.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê die skade wat aan die ekonomie aangerig is tydens die afsonderingstydperk, is bykans onberekenbaar. “Die skuif na vlak 3 gaan ook gepaard gaan met groot werkverliese omdat te lank gewag is om die ekonomie te open.”

Buys meen ook daar is steeds dele van die ekonomie wat onder streng gesondheidsvoorwaardes kan oopmaak. “Die uitgangspunt moet wees dat ondernemings wat gesond kan sake doen, moet kan oopmaak. Daar is steeds irrasionale regulasies, soos tabakverkope, wat getoets moet word.

“Daar moet ook dringend oplossings kom sodat geloofsgemeenskappe kan vergader. Suid-Afrika het juis in hierdie tyd aktiewe geloofsgemeenskappe nodig.”

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het in reaksie op pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die land teen die einde van die maand na vlak 3 sal beweeg, gesê nieteenstaande toenemende wetenskaplike en openbare konsensus dat die grendelstaat nie meer ʼn geregverdigde doel dien nie, is die einde nog nie in sig nie.

“Die regering bly klaarblyklik verbind tot sy strategie van ʼn uitgerekte uitfasering van inperking oor ʼn periode wat skynbaar maande kan beloop. Ja, daar was stappe in die regte rigting in vanaand se toespraak deur president Ramaphosa. In besonder lyk dit asof vlak 3, in soverre dit met die toespraak en gelekte konsepregulasies ooreenstem, ten minste die ekonomiese beperkingsbenadering kan omkeer.

“In plaas daarvan om alles te verbied behalwe dit wat die regering uitsonder, is die plan op vlak 3 skynbaar om eerder algemene voorwaardes te stel en om slegs bepaalde sektore en aktiwiteite onwettig te verklaar. Dit is, met ʼn paar tekortkominge en ook te laat, wél iets wat Sakeliga, ekonome en sakekamers reeds vir weke aanbeveel.

piet-le-roux

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. Foto: Morné Prinsloo

“Om egter die aankondigings deur Ramaphosa te verwelkom asof dit ver genoeg gaan, asof ons nie gesien het hoe maklik standpunte weer omgekeer word nie, en asof wat oorbly nie arbitrêr, belastend, en skadelik is nie, sou wees om hoop bo fermheid te kies.”

Le Roux waarsku dat net die volgende week van vlak 4-regulasies waarskynlik ʼn verdere persentasiepunt minder vir BBP hierdie jaar sal beteken. Hy wys ook daarop dat daar klaarblyklik sprake is van ʼn vermindering van besigheidslisensiëring.

“Dit is nie verbasend nie, gegewe onder andere Sakeliga se hangende hofsaak, maar geen waarborge is in hierdie verband verskaf nie. Inteendeel, die publiek word voortdurend aan die moontlikheid van herinstelling van vorige inperkings herinner.

“Sakeliga gaan voort met sy hofsaak in die hooggeregshof in Pretoria op Dinsdag 26 Mei ter ondersteuning van vryheid om besigheid te doen, beskerming teen belemmering deur wetstoepassers, en die skeiding van magte tussen nasionale, provinsiale, en plaaslike regering.”

Le Roux het gesê alhoewel dit tekortskiet, sal die bepalings, soos vervat in wat klaarblyklik gelekte konsepweergawes van die vlak 3-regulasies is, baie ondernemings weer toelaat om sake te doen.

“Tog bly die sinnelose verbod op tabak, die tipe huisarres waaronder die publiek verkeer, en die onnodige aftakeling van bedrywe soos gasvryheid, haarkappers en ander persoonlike dienste, en meer in plek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Willem ·

Ek het sopas tot die gevolgtrekking gekom dat die ANC speel vir die hoof paviljoen. Plaaslik steur niemand hulle aan die vlakke nie in elk geval waar ek woon. Ons mense soek net hul entjies verder werk almal vir n brood op die tafel.
Dus vir wie is die kamstige vlakke die AU en WGO . Dis al wat vir die klomp hansworse saakmaak. Nie hul bekommernis oor inwoners(our people) se gesondheid nie

Fedup ·

Le roux, although it seems that you are trying, please remember that now you are playing chess with 3 year olds.
Please keep your attention on the color if the chess pieces.

Eerlik ·

Die doel agter die verlengde sigaret verbanning is om BATSA te forseer om uit SA te ontrek agv finansiele nood sodat sekeres se kinders monopoly het!

Kobus2 ·

En só neem die Nuwe Wêreld Orde stadig maar seker ons land, inwoners en ons persoonlike lewens oor. Hierdie is ‘n duur toetslopie om te bepaal hoe die wêreldbevolking daarop gaan reageer.

Koos ·

Ek haat sigarette maar hierdie is maar net nog ‘n manier om skelm geld in klein zuma se sak te laat beland.

Gerhard ·

Moet nie vir een oomblik dink dit is net klein Zuma wat bevoordeel word nie…ek glo die hele Zuma-clan is betrokke…

Althes ·

SA se inperking hou te lank aan wat die ekonomie betref. Een van die dae is daar meer SASSA afhanklikes as wat daar ñ klein groepie belastingbetalers is.

Magda ·

Die verklaring rondom die verkoop van sigarette is belaglik. Die mense het nog nooit sedert die inperking opgehou rook nie, inteendeel, ‘n verslawing word nie so maklik afgeskud nie. Die mense begin nou al hoe meer toksiese sigarette rook wat nog meer skadelik is vir hulle gesondheid en aan geen regulasies voldoen nie. As gevolg daarvaan gaan hulle eerder siek word as wat hulle toegelaat sou word om wettige, gereguleerde sigarette rook. Verder word die staatskas net al armer as gevolg van die belasting wat nie ingevorder word nie.

Alida ·

Daar skiet kopdoek haarself weer in die voet. Die kindertoelae is nou dubbel. Watter man wat drink en rook gaan toelaat dat sy vrou die geld aanwend vir kos en klere? Daar gaan baie kinders wees wat gaan hongerly. Maar nou-ja hulle word betaal om kinders te kry. Dit is n bose kringloop. Die staat verloor R58m per DAG maar skynbaat het hulle dit nie nodig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.