Vlak 3-waterbeperkings vir Bloemfontein goedgekeur

Argieffoto

Die VF Plus verwelkom vlak 3-waterbeperkings wat Woensdag deur die Mangaung-metroraad goedgekeur is, maar is nie seker of die metro daartoe in staat is om besparingsmaatreëls doeltreffend te implementeer en bestuur nie.

Die raad is meegedeel dat, indien dit nie binne die volgende 21 dae baie reën nie, gedeeltes van Bloemfontein sonder water kan wees.

Die VF Plus is veral bekommerd oor wat die metro se plan is om te verseker dat nie net inwoners die maatreëls gehoorsaam nie, maar ook of Mangaung daartoe in staat is om waterlekkasies te herstel.

“Dit is nie net die verantwoordelikheid van inwoners om water te spaar nie, maar die metro is wetlik verplig om sy infrastruktuur in stand te hou, veral in ag geneem dat die vlakke van slik by damme wat die metro bedien, bydra tot ʼn moontlike krisis soortgelyk aan wat Kaapstad tans ervaar,” het Devar Smit, VF Plus-raadslid, in ʼn verklaring gesê.

Die party het reeds in ʼn vraag in die Vrystaatse Wetgewer gevra dat die LUR vir samewerkende regering, Sisi Ntombela, moet aandui wat die provinsiale regering doen om waterlekkasies in Vrystaatse munisipaliteite aan te spreek.

“Die VF Plus vra inwoners van Mangaung om die nuwe maatreëls te gehoorsaam in ʼn poging om ʼn ‘Dag Zero’ vir Mangaung te vermy, maar sal ook aanhou druk plaas op die metro om te verseker dat hy sy infrastruktuur in stand hou,” het Smit bygevoeg.

Die VF Plus sal ook in ʼn volgende raadsvergadering ʼn mosie stel vir ʼn oudit van waterinfrastruktuur in die metro, sodat deeglik beplan kan word vir herstelwerk aan pype wat gereeld bars en waardevolle water vermors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

PJC ·

Met ń ANC regering wat steeds sekere onbevoegde en korrupte ministers insluit sal die hele SA een van die dae sonder water wees.

jaco ·

‘n ANC-raadslid vanaf iewers in die binneland het so ‘n jaar gelede gesê die droogte in die Wes-Kaap is die Here se straf op kiesers daar wat meestal DA stem. So nou wonder ek maar net: waarom is dit dan nou skielik ook droog in Bloemfontein? Waarom reën dit ook nie daar nie? Die ANC regeer dan daar en die ANC se beleid is dan binne die wil en buite die straf van die Here.

HPV ·

Die groot vraag, is daar werklik ‘n water probleem of het hulle nie geld om Bloemwater te betaal nie? Met die bankrot Metro weet mens nie meer nie, hulle het al soveel keer gelieg dat mens hulle nie meer ernstig kan opneem nie. Net gister is gedreig die water gaan afgesny word weens wanbetaling aan Bloemwater. Nou wat moet ons glo? Die belasting betalers is al lankal siek en sat vir hulle en hul stories!

Francois Cilliers ·

Is dit nie nou ‘n gulde geleendheid om van die “leë” damme (waar moontlik) se opgehoopte slik te verwyder nie? Dan word die volumetriese kapasiteit weer vergroot sonder dat damwalle hoër gebou moet word. Gebruik fondse eerder vir ontslikking as vir hoër damwalle. Vra maar net…

PJC ·

Ja HPV of dit nou wanbetaling of wanbestuur is op een of ander manier kry hierdie kaders dit reg om alles op te neuk.

cass ·

Francois dit is die aangewese ding om te doen om soos jy opmerk neer water beskikbaar te he maar het hulle geld om dit te doen en hoeveel korrupsie gaan daar wees met die tenderproses.Daar word mos vertel dat die blankes verantwoordelik is vir die droogte want hulle het die damme te groot gebou.

Jaco ·

WAT??Maroela media…lees ek reg?? Bloem het nou die laaste seisoen die beste reenvals gehad in n LANG tyd…en daar is water beperkings??? Is hierdie inligting korrek? Indien wel sal ek WEIER om water te bespaar want hierdie is nie as gevolg van droogde nie maar deur die minusipliteit se onvermoe om n waternetwerk te kan onderhou! Daar is n water lekkasie op ons bure se sypadjie wat nou al vir meer as n maand water spuit by die DUISENDE LITERS en na honderde kere se pogings om dit te rapporteer word NIKS daaraan gedoen nie!!!!! Ek SAL my tuin daagliks natlui, hoekom word dit ons probleem as ander nie hul werk kan doen nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.