Vlak 3: Wildtuin nou oop vir dagbesoekers

‘n Trop leeus lê in die pad naby die Orpen-ruskamp in die Krugerwildtuin. (Foto: SANParke)

SANParke het Saterdag aangekondig dat nasionale parke, insluitend die Krugerwildtuin, van Maandag oop is vir dagbesoekers, mits hulle hul eie voertuig bestuur. Dié parke was die afgelope twee maande gesluit weens afsonderingsregulasies wat die verspreiding van Covid-19 moes bekamp.

“SANParke het die afgelope week voorberei vir die terugkeer van besoekers na ons parke en ons word bemoedig deur deurlopende navrae deur ons lojale besoekers,” het SANParke se uitvoerende hoof, Fundisile Mketeni, gesê.

Lede van die publiek word aangemoedig om besprekings telefonies en aanlyn te doen, en ook betalings vooraf te doen ten einde fisieke kontak tussen besoekers en die parke se personeel te beperk. Mketeni sê die meerderheid van die Krugerwildtuin se hekke sal oop wees behalwe die Pafuri- en Numbi-hek. Die Namaqua Nasionale Park, asook die Boulders-strand en Kaappunt in die Tafelberg Nasionale Park bly voorlopig gesluit.

Maroela Media het Vrydag berig die Golden Gate Nasionale Hooglandpark in die Vrystaat en dele van die Tuinroete en Tafelberg Nasionale Park in die Wes-Kaap is ook nou oop vir die publiek.

Besoekers aan die Krugerwildtuin sal egter vinnig moet spring, aangesien die daaglikse kwota vir besoekers aan dié park met twee derdes gesny is.

Besoekers mag ook nie provinsiale grense binne die Krugerwildtuin oorsteek nie. Hulle moet die wildtuin dus deur ʼn hek in dieselfde provinsie verlaat as waar die wildtuin binnegegaan het.

Uitkykpunte en piekniekareas binne alle parke bly gesluit en besoekers word nie toegelaat om in parke te braai nie. ʼn Beperkte aantal toilette sal wel oop wees. Besoekers word ook versoek om nie hul afval in vullisdromme in parke weg te gooi nie, maar dit eerder saam te neem huis toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Karin ·

Yip, beteken nie groot inkomste vir die parke nie, meeste plaaslike gereelde besoekers aan KNP het in elk geval ‘n Wildcard.

Harry ·

Jy moet vooraf bespreek om as dag besoeker te kan ingaan en daar is n fooi betaalbaar, so hulle sal tog n bietjie geld kan maak

Alexander ·

Kruger kan net besoek word deur inwoners van Mpumalanga en Limpopo

Karin ·

Dit suig, ons in ander provinsies is baie hartseer, ons wil ook gaan ???? mis die bos iets vreeslik !!!

JohanR ·

Gaan dadelik in my kar spring hier in Pretoria en deur jaag Kruger Wildtuin toe. Nee wag…. nou net besef dat ek Mpumalanga se grens sal moet oorsteek. Jammer diere julle sal nog ‘n paar maande, of jare moet wag voordat julle weer mense uit Gauteng sien. Miskien sien julle Chinese en Kubane, nog voordat julle Suid Afrikaners weer sien!

Karin ·

Presies !!!! Ek dink die meeste van ons in Gauteng voel so !!!!

Niklaas ·

Goeie nuus. Dit kon met vlak 4 reeds toegestaan gewees het, veral die Kruger wildtuin.

J ·

Nice try … ! …. julle praat seker van BETALENDE mense? … want daar is duisende NIE-BETALENDE Mosambiekers wat te voet die wildtuin deurkruis.

En blitsvinnige minbus taxi’s … vol gelaai … wat kameelperde doodry?

Hulle tél seker nie as ‘mense’ nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.