Vlak 4: Betogings nou kriminele oortreding

Argieffoto van minister Bheki Cele. (Foto: GCIS)

Die minister van polisie, Bheki Cele, het Dinsdag beklemtoon dat massabyeenkomste nie net verbied word gedurende die aangepaste vlak 4 van die afsonderingstydperk nie, maar ook vir die volgende twee weke ’n kriminele oortreding is.

“Politieke leiers van alle partye word versoek om gedurende hierdie tyd verantwoordelik op te tree en word daaraan herinner dat politieke gewin nie mense se lewens werd is nie,” het Cele tydens ’n mediakonferensie gesê.

Organiseerders van byeenkomste sal in hegtenis geneem word.

Maroela Media het vroeër berig die EFF is reeds in die sop oor ʼn betoging wat hy verlede Vrydag gehou het en waar meer as 2 000 betogers teenwoordig was.

Die minister het voorts gesê Suid-Afrikaners wat versuim om die afsonderingsregulasies ingevolge die Wet op Rampbestuur na te kom, sal ’n boete of tronkstraf van hoogstens ses maande óf albei opgelê word.

Diegene wat skuldig bevind word aan die oortreding van die Wet op Rampbestuur, sal ’n misdaadrekord hê.

Cele het wel daarop gewys dat wetstoepassers nie ten doel het om mense in hul massas in hegtenis te neem en te kriminaliseer nie.

Die minister van polisie het in dieselfde asem gesê altesame 465 098 mense in Suid-Afrika is sedert die instel van die algehele landwye afsondering verlede Maart in hegtenis geneem vir die oortreding van afsonderingsregulasies.

Byna 7 500 van dié beweerde oortreders is die afgelope twee weke tydens aangepaste vlak 3 van die afsonderingstydperk aangekeer. Dié vlak is eers op 16 Junie ingestel en het tot Sondagaand gegeld.

Volgens Cele is padblokkades reeds aangebring om te verseker dat geen motoriste vir ontspanningsdoeleindes na en van Gauteng reis nie.

Dit is tydens die mediakonferensie ook vasgestel dat geen Suid-Afrikaners deur Gauteng na ander provinsies mag reis vir ontspanningsdoeleindes nie.

Slegs persone met ’n geldige permit vir onder meer sakereise of die vervoer van goedere sal toegelaat word.

Cele sê hy verwag dat meer Suid-Afrikaners nou die afsonderingsregulasies sal nakom.

“Ons is as ʼn land baie wyser oor die gevolge van hierdie dodelike virus. Ons almal is bewus van die pyn en skade wat Covid-19 veroorsaak en ek is vol vertroue dat meer mense die regulasies sal gehoorsaam om lewens te red.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

31 Kommentare

jongste oudste gewildste
Belinda

Ag wil hy ook nou weer net n eiertjie le? asof hulle die mense sal arresteer…. volgende grap asb…

Persheks Adri

Geld die reëls nou vir die EFF’ers ook? Hoed sê betogers sal toegesluit word, maar nie in massas nie. Nou hoe nou? Klink of hy homself weerspreek…

Snowball

Het hulle plek in die tronke vir al die maatjies? Wat van vangwaens – genoeg om ‘n EFF groepie almal gelyk weg te ry?

Hennie

Pleks gaan kyk HY eerder hoe die drank vloei in sekere gebiede onder Level 4 , maar hulle is te bang om daar in te gaan . En nou word ons gestraf !!

Tipper

Laat ons sien hoe dit gaan uitspeel.