Vlak 4: Ramaphosa, regering te blameer, sê opposisiepartye  

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus. (Foto: VF Plus)

Die ANC-regering moet die volle verantwoordelikheid neem vir die nuwe vlaag Covid-19-infeksies en vir die feit dat die gesondheidstelsel ná meer as ’n jaar steeds nie gereed is vir die pandemie nie.

“Die eerste inperkings vroeg verlede jaar was juis om die gesondheidstelsel in gereedheid te bring en om veldhospitale in te rig,” het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, gesê en daarop gewys dat veldhospitale wat teen miljoene rande opgerig is, nooit ten volle benut is tydens die eerste en tweede vlaag infeksies nie en in onbruik verval of tot niet gemaak is. “Nou is dit aller noodsaaklik in die huidige krisisuur waar ’n groot tekort aan beddens en noodsorg ondervind word.”

Die regering moet veral verantwoordelikheid neem vir die feit dat baie min Suid-Afrikaners tot nou toe ingeënt is en vir die skrale hoop dat kudde-immuniteit gou bereik sal word. “Die mikpunt was ’n inentingskoers van 70% teen die einde van die huidige jaar wat nou totaal buite bereik is met minder as 4% van die bevolking wat ingeënt is.”

Suid-Afrika en veral sake-ondernemings soos restaurante en hul werknemers ly nou onder die regering se onbevoegdheid. “’n Meer streeksgebonde benadering moet gevolg word om die verspreiding van die virus te verminder met so min as moontlik skade aan die ekonomie wat verdere streng inperkings nie meer kan bekostig nie.”

Die VF Plus meen ook gesondheidsprotokolle moet beter gepolisieer word. “Dit is duidelik dat die publiek toenemend die protokolle verontagsaam en die VF Plus doen ’n dringende beroep op mense om daarop ag te slaan aangesien dit lewens kan red. Hierdie polisiëring moet gelykmatig toegepas word.”

“Die stadium is bereik waar met reg gevra kan word hoeveel mense onnodig gaan sterf omdat die regering die land in die steek gelaat het en nie behoorlik en reg voorberei het vir die pandemie nie,” het Groenewald gesê.

John Steenhuisen, leier van die DA. (Foto: DA/Twitter)

Elke Covid-19-sterfte en elke werk wat verlore gaan weens die “drakoniese” inperkingsmaatreëls wat Sondagaand aangekondig is, is op pres. Cyril Ramaphosa se skouers, het DA-leier John Steenhuisen gesê.

“Hy dwing Suid-Afrikaners nou om die prys te betaal vir die rampspoedige mislukkings van sy regering, of ‘misstappe’ soos hy dit noem.”

Steenhuisen het Ramaphosa en sy regering ook gekap oor die inentingsprogram. “Ramaphosa en sy regering het ʼn jaar gehad om voldoende voorraad entstowwe te verseker om Suid-Afrikaners se lewens en lewensbestaan teen hierdie virus te beskerm. ʼn Jaar om ʼn vinnige, doeltreffende implementeringsprogram te beplan. Al wat hulle egter gelewer het, is powere verskonings en skadelike inperkings.

“As die regering nie aanspreeklik gehou word vir sy mislukking met entstowwe nie, sal Suid-Afrikaners binne ʼn paar maande ʼn vierde vlaag binnegaan met die bevolking wat nog steeds grootliks onbeskermd is, steeds ingeperk is en steeds nie verseker is van lewensreddende behandeling van ons chaotiese gesondheidsorgstelsel nie.”

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Die EFF het ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om Ramaphosa uit te daag totdat daar ʼn duidelike inentingsplan vir die hele land is.

“Ondervinding het tot dusver gewys dat inperkings en beperkings nie ‘n maatstaf is om die koronavirus te beheer nie, en dat slegs ‘n massiewe inentingsprogram die pandemie sal beheer. Ramaphosa se maatreëls is nie ‘n versekering dat daar nie ‘n vierde en vyfde golf van die pandemie sal wees nie. Sonder ‘n duidelike inentingsplan wat entstowwe van alle dele van die wêreld insluit, insluitend Rusland, China en Kuba, is Ramaphosa se maatreëls nie die moeite werd om te respekteer nie,” het die party in ‘n verklaring gesê.

Volgens die EFF sal hy nie Ramaphosa se voorskrifte nakom nie en voortgaan met sy politieke programme en mobilisering. “Geen politikus, erger nog ‘n president van ‘n politieke party, moet toegelaat word om politieke byeenkomste van ander politieke partye te verbied en te keer nie. Dit is ongrondwetlik om politieke byeenkomste te verbied.”

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

46 Kommentare

jongste oudste gewildste
Charles

Hulle gaan aanhou tot alle medium en klein sake ondernemings kapoet is..

Rooikoos

Bla…bla…bla…..

Andries

Dr Groenewald Waarvoor taan die V in VF+? Ek was onder die indruk dit staan vir Vryheid? “Gesondheidsprotokolle moet beter gepolisieer word”? Die klink nie vir my na Vryheid nie, eerder na ‘n polisiestaat. As Christelike party: Waar is die Voorsienigheid van God in die opmerking “mense wat onnodig gaan sterf”? Ek sê nie daardeur dat ons nie kritiek teen die regering kan inbring vir hulle hantering van die gesondheidsorg nie, maar as Christene moet ons mooi let op ons woordgebruik dat ons nie ons getuienis skade doen en die vreesfaktor nog verder aanblaas nie, en menslike pogings en planne… Lees meer »

Nie Verbaas

Is daar iets wat ANC reg kan doen? Ons betaal die prys vir hulle onbevoegde aksies terwyl werksgeleenthede net skraler word. Nou gaan die ekonomie nog n verdere slag kry. Daar is net verskonings maar geen regstellende aksies nie.

Alex

Die regering moes ook soos Australie en New Zealand hulle gense vir Indie toe gemaak het. Nou sit ons met die Delta variant gemors