Vlak 4: Restaurante, gimnasiums mag oopmaak

Pres. Cyril Ramaphosa op 12 Junie 2021. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondag aangekondig dat vlak 4 van die afsonderingsregulasies van krag bly. Restaurante en gimnasiums mag egter oopmaak, solank hulle aan streng gesondheidsmaatreëls voldoen en nie meer as 50% vol is nie. Veilings mag ook weer plaasvind.

Skole sal wel nou op 26 Julie oopmaak, eerder as op 19 Julie, soos aanvanklik vasgestel. Die koop en verkoop van alkohol word ook steeds verbied.

“Soos dinge nou staan, is die daaglikse getal infeksies steeds hoog en teken Suid-Afrika daagliks ongeveer 20 000 nuwe infeksies aan. Daar is tans meer as 200 000 aktiewe gevalle van Covid-19 in Suid-Afrika en baie van ons vriende, familie en kollegas sterf weens die siekte,” het die president Sondag in sy toespraak gesê.

Hy het daarop gewys dat Gauteng steeds die meeste daaglikse infeksies toon, maar dat ander provinsies se getalle nou vinnig styg.

“Daarmee in gedagte bly die vlak 4-inperking van krag vir minstens die volgende twee weke, met alle byeenkomste wat steeds verbied word en ʼn aandklokreël wat tussen 21:00 en 04:00 geld. Die koop en verkoop van drank word ook steeds verbied en skole sal nou eers op 26 Julie oopmaak.”

Die president het wel enkele vergunnings gemaak:

  • Restaurante en ander eetplekke mag nou aansitetes bedien, solank nie meer as 50 klante (of 50% van die restaurant se kapasiteit) op die perseel teenwoordig is nie.
  • Gimnasiums mag oopmaak.
  • Veilings mag nou plaasvind.

Die president het wel nie melding gemaak van reis tussen provinsies nie. Reis in en uit Gauteng vir ontspanningsdoeleindes is die afgelope paar weke verbied.

“Ons weet dat die verbod op alkohol aanleiding gee tot minder hospitaalopnames. Die gebruik van alkohol gaan ook hand aan hand met groot byeenkomste. Weens die aansteeklikheid van die Delta-variant is dit nodig dat ons baie versigtiger moet wees,” het Ramaphosa gesê.

Inentings

Inentings in die provinsie duur voort, terwyl die Wes-Kaap hom staal vir ‘n styging in Covid-19-gevalle. (Foto: Alan Winde/Twitter)

Meer as 4,2 miljoen Suid-Afrikaners het tot dusver die Covid-19-entstof ontvang. “Die koers waarteen Suid-Afrikaners ingeënt word, het die afgelope tyd meer as verdubbel en tans word gemiddeld 190 000 mense op ʼn weeksdag ingeënt,” het Ramaphosa gesê.

Veel minder mense word egter steeds oor naweke ingeënt en Saterdag is slegs 16 000 mense teen Covid-19 ingeënt. Volgens Ramaphosa is planne egter gereed om meer mense ná ure in te ent.

Mense tussen 35 en 40 jaar oud kan vanaf Donderdag vir die entstof registreer en Ramaphosa hoop dat die land vanaf 1 Augustus sy doelwit sal bereik om 300 000 mense per dag in te ent.

“Een van die groot uitdagings wat ons egter ervaar, is die beskikbaarheid van entstowwe. Die Afrika-unie het egter onlangs ʼn ooreenkoms met die entstofvervaardiger Johnson & Johnson onderteken, wat sal verseker dat 17 miljard dosisse van dié entstof in Julie aan Afrika-lande beskikbaar gestel word. Suid-Afrika behoort dus binnekort genoeg entstowwe te hê om die meerderheid van Suid-Afrikaners in te ent.”

Gewelddadige betogings in Gauteng en KwaZulu-Natal

Ramaphosa het die geleentheid gebruik om gewelddadige betogings wat die naweek in KwaZulu-Natal en Gauteng geheers het, te veroordeel.

“Die betogings het reeds die beskadiging van eiendom, versperring van nasionale paaie en, in sommige gevalle, verlies van lewens tot gevolg gehad,” het Ramaphosa gesê.

“Alle Suid-Afrikaners het die reg op vreedsame protes. Ek weet daar is van julle wat seergemaak en kwaad voel, maar ons kan nie toelaat dat ander se regte in die proses geskend word nie.

“Ons as nasie sal geen geweld en vandalisme duld nie en diegene wat hulle hieraan skuldig maak, sal in hegtenis geneem en vervolg word. Dit geld ook vir dié wat hulle skuldig maak aan die verbreking van afsonderingsregulasies.”

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Debbie ·

Gyms, restaurante en veilings maak oop maar kerke toe. Hoe werk dit dan nou

Thom ·

Wat kan jy in ‘n kerk doen wat jy nie by die huis ook kan doen nie ?

VaalDonkie ·

Thom, wat kan jy by ‘n gym of ‘n restaurant doen wat jy nie by die huis kan doen nie?

Thom ·

Oefen met apparatuur wat ek nie hoef te koop nie en eet aan kos wat ek nie self hoef te maak nie . Jy ?

Corne123 ·

Moet mense aanmoedig die inenting werk maar dit elkgeval in so groot gemors niemand weet wat aangaan. ie lol

Johan ·

Dink dit is regtig tyd dat jy jou oe oopmaak volg ander lande se vorbeeld dit help nie jy verwoes ons ekonomie oms daar sekeres is wat nie luister lig alle lockdown reels dis elkeen se eie verantwoordelikheid om homself te beveilig as jy in duisende saam will drom vir betogings is dit jou skuld as jy siek word en sterf as jy nie masker will dra en nie ingeend wil word is dit jou keuse.

Robert ·

Ander lande doen presies dieselfde, met dieselfde rampspoedige ekonomiese en maatskaplike gevolge.

annie ·

Ramaphosa het ten laaste die geleentheid (nogal) gebruik om die kwessie van die ligte opstandigheid aan te raak… jy’t dalk verneem. Die land brand en boosdoeners verniel wat voorkom weens hul pyn en lyding oor hul hooflyer so ly. Watter bog. Maar die prez het na diepe denke wat al sy aandag vereis het tussendeur sy eie smart, oor die kwessie van toegewings besin en ‘n paar plekkies toestemming verleen om hul deur oop te maak. Wie was CR se grimeerkunstenaar vir die tv-geleentheid? So smaakvol. En sy das… ‘n kenteken van ware staatsmanskap in ‘n donker uur. Gaan ons baie siek ex die dag oorleef?

DIABLO ·

Soos gewoonlik is die besluite irrassioneel. Sit julle alies in rat met die entstof en die problem sal grootliks uitgesorteer wees, want mense sal nie so dodelik siek word nie. Wat is so moeilik daaraan om te verstaan?

Nico ·

Waar is die manne wat wet en orde moet toepas, drankwinkels mag nog nie oopmaak nie, shebeens mag na hartelus handel dryf in onwettige drank verkope. Die onwettige drank word aan gery met die polisie voertuie. Die minister van polisie moet ‘n verder dink en reg en geregtigheid toepas.

Baardman ·

En intussen verwoes en vernietig betogers in hulle massas die land, sonder om hulle aan enige maatreels te steur. En CR en die polisie is te bang om aksie te neem.

marius ·

Siek vir die gegrinnik . Dit gaan oor niks anders as mags beheptheid nie .

VaalDonkie ·

Die ergste deel vir my is al die ou tannies wat so opgewonde raak omdat ons in ons eie huise toegesluit word. Ek raak skoon naar. Dis dieselfde ou tannies wat jou by die polisie aangee as jou gras lank raak of jou braai te veel rook.

Karina ·

Nou moet mense wat weet hoe om hulself in toom te hou met drank, ook benadeel word omdat die menige bevolking oorboord gaan. Ek hou van my een glasie wyn, ja net een glasie, in die aand saam met aandete. Daar is soveel mense soos ek. Waarom kan ek nie my wyn koop en rustig tuis my glasie wyn drink nie? Diktators!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.