Vlak 6-waterbeperkings vir Kaapstad

Argieffoto (Foto: Counselling, Pixabay)

ʼn Verklaring in die provinsiale staatskoerant bevestig dat vlak 6-waterbeperkings op 1 Januarie 2018 in werking sal tree.

Geen besproeiing met munisipale drinkwater sal toegelaat word nie. Munisipale water mag ook nie gebruik word om tuine nat te lei nie. Dit sluit besproeiing in van tuine, groente, landbou, sportgronde, gholfbane, kwekerye, parke en ander openbare ruimtes. Kwekerye en klante in die landboubedryf of persone wat verantwoordelik is vir geskiedkundige tuine mag aansoek doen vir vrystelling.

Aldus die verklaring word die gebruik van boorgatwater vir buitegebruik, insluitend besproeiing en om tuine mee nat te lei, of om swembaddens mee te vul, sterk ontmoedig, om die grondwaterbronne te bewaar tydens die huidige droogte. Boorgatwater moet eerder vir toilette gebruik word.

Alle boorgate moet ook by die Stad geregistreer word en ʼn amptelike kennisgewing van die Stad Kaapstad moet opgerig word waar die publiek dit duidelik kan sien. Alle eiendomme waar alternatiewe hulpbronne (reënwater, gryswater, behandelde rioolwater en fonteinwater) gebruik word, moet ook ʼn duidelike kennisgewing aanbring.

Swembaddens mag glad nie met munisipale water opgevul word nie, selfs al het die swembad ʼn bedekking op. Die gebruik van draagbare of tydelike swembaddens word verbied.

Geen voertuie (insluitend taxis), sleepwaens, karavane en bote mag met munisipale drinkwater gewas word nie. Die voertuie mag slegs met nie-drinkbare water gewas word of verkieslik deur waterlose of droogskoonmaak-produkte. Dit is van toepassing op alle verbruikers, insluitend formele en informele karwasserye.

Geen plaveisel of ander oppervlaktes mag met munisipale drinkwater afgespoel word nie. Slaghuise, voedselprosesseringsaanlegte, versorgingsfasiliteite, diereskuilings en ander bedrywe met spesiale behoeftes moet aansoek doen vir vrystelling.

Munisipale water mag ook nie gebruik word vir ornamentele waterfonteine of spuitfonteine nie.

Verbruikers word aangemoedig om waterdoeltreffende onderdele te installeer en van tegnologie gebruik te maak om die waterverbruik by alle krane, storte en ander loodgieterkomponente te beperk.

Beperkings vir alle residensiële verbruikers

Alle inwoners mag nie meer as 87.5 liter munisipale drinkwater per persoon per dag gebruik nie, ongeag of jy by die huis, werk of iewers anders is. ʼn Huis met vier inwoners word dus beperk tot ongeveer 10 500 liter per maand.

Huise wat meer as 10 500 liter munisipale drinkwater per maand gebruik, kan vervolg word. Eiendomme waar daar meer inwoners is en hoër verbruik vereis word, word aangeraai om aansoek te doen vir ʼn verhoogde kwota.

Woonstelle en behuisingskomplekse wat meer as 10 500 liter munisipale drinkwater per maand gebruik, sal ook moontlik boetes opgelê word. Ontwikkelings waar die getal inwoners ʼn groter hoeveelheid water per maand vereis, word versoek om aansoek te doen vir ʼn verhoogde kwota.

Inwoners word aangemoedig om toilette slegs met gryswater, reënwater of ander nie-drinkbare water te spoel.

Nie-residensiële verbruikers

Alle nie-residensiële eiendomme (d.w.s. kommersiële en nywerheidseiendomme, skole, klubs en instansies) moet verseker dat hul maandelikse verbruik met 45% verminder word, in vergelyking met dieselfde tydperk in 2015 (voor die droogte).

Alle landbouverbruikers moet seker maak dat hul maandelikse verbruik van munisipale drinkwater met 60% verminder word, in vergelyking met dieselfde tydperk in 2015 (voor die droogte).

Spuitparke word nie toegelaat nie.

Geen nuwe tuine of sportgronde mag aangelê word nie, tensy dit met nie-drinkwater besproei word.

Lees die volledige verklaring.

Besoek die webwerf of stuur ʼn e-pos aan [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Annalise ·

Sjoe. Baie streng beperkings. Tog het ons geweet dit is aan die kom, die dat ons nou nie ‘n watwonderse reenseisoen gehad het. En nogsteeds kry jy mense wat tuine natlei en swembaddens vol tap asof die water nooit kan klaar raak, Dit maak my woedend. Ergste is
ons moet nou ‘n hele somerseisoen deur met feitlik geen waterreserwes. Ek sien swaar tye kom.

Leon ·

Ek doen my deel, maar ek voel hier is groot blaam op stadbeplanning te plaas en ook wonder ek waar moet die infrastruktuur vandaan kom om gryswater te gebruik of reen water op te vang. Dis maklik vir die stad om te se doen dit of daardie maar pryse vir hierdie toestelle en sisteme het deur die dak gegaan. N subsidie vir hierdie toeselle sou n baie goeie idee wees

Hanna ·

Wil sien hoe hulle hierdie wette in Nyanga en Khaelitsha gaan toepas. Almal staan en taxis was op straathoeke, krane loop… Want alles is mos verniet. Beurtkrag het hulle nie eens geraak nie. Ek dink hierdie wette gaan slegs in die meer gegoede woonbuurte van toepassing wees.

Karen ·

Nee Hanna, jy vergeet, die stad bly mos sê dis nie die informele plekke wat wate mors, dis die mense in die voorstede……

Marcel ·

Sterkte om al daardie regulasies en wette af te dwing. Die townships sal seker nie dit toepas nie, en is ook seker so gevaarlik dat niemand dit daar wil waag nie. Dan praat ek nie van al die rykes in al die ryk woonbuurtes wat in elkgeval maak wat hulle wil nie. Ten minste kan die rykes boetes gegee word. Hoë water gebruikers wat nie by die nuwe regulasies hou nie, se water moet maar net op een of ander manier gesny en verminder word. Al die water besparings toestelle wat gekoop moet word? Wie gaan daarvoor betaal? Laat die plaaslike DA regering die geld uithaal daarvoor of dit teen afslag aan die publiek beskikbaar stel.

Arno ·

Al hierdie probleme kon verhoed gewees het indien die stadsraad jare gelede reeds al begin proaktief optree het om ander waterbronne te ontgin. Ek onthou baie goed hoe daar altyd gedebateer was oor water ontsoutings aanlegte ens, maar natuurlik was daar altyd die ‘slim’ mense gewees wat nooit saamgestem het hiermee nie agv die hoe kostes daaraan verbonde. Nou ly almal insluitende die doemprofete! ‘n Baie duur les vir Kaapstad en omliggende gebiede en hopelik leer ons uit hierdie situasie uit. Dis altyd goed om ‘n ‘contingency’ plan te he! Hopelik kan daar ook op ander gebiede ook begin word om proaktief te beplan vir ander probleme wat mag opduik later in die toekoms. Die Midde Oooste is een van die droogste gebiede op aarde met bitter min jaarlikse reen, maar het nog nooit enige water probleme of beperkings gehad nie agv hul ontsoutings aanleget wat baie goed werk!

bgj van der westhuizen ·

stad kaapstad was te sleg om hulle werk te doen daar was al meer as 10 jaar trug gese daar kom n probleem jy kan nie jou inwoner verdubbel oor 20 jaar en nie beplan vir meer water nie water raak al duurder al klink dit na min om te betaal en nou wil hulle ons nog ekstra laat betaal da julle is uit so waar as wat dit kom en maar as pype bars van die stad dan loop water ure lang voor daar aan eits gedeon word en water is skaars maar hulle laat groot bou projek nog steeds toe en daar word in kaapstad gebou of dit uit die mode raak hoe verstaan jy dit ?? kom kaapstad gee antwoorde op dit

Schalk van Heerden ·

2/3 van die wereld bestaan uit water tog het ons ‘n tekort daarvan want owerhede doen niks. Damme is gebou vir x aantal persone per stad dan laat munisipaliteite toe dat daar nog meer huis eiendomme gebou word sonder uitbreiding van infrastruktuur. Dieselfde dam sal tog nie x maal z persone vir dieselfde tydperk kan voorsien nie. Minder water maar meer heffings vir owerhede wat nie beplan het nie! Wie neem verantwoorfelikheid en wat word van al ons belastings gedoen! Water is ‘n Godgegewe middel vir die mens soos suurstof en mens kan nie aanhou om niks water te gebruik nie want dit is nie volhoubaar nie! Owerhede is daar om beplanning te doen, infrastrukture aan te bring en om hulle mense van genoeg te voorsien want dit is waarvoor hulle gekies is en hulle betaal word. Om ons mense te bly beperk en meer te laat betaal is Nie die oplossing nie! Doen iets daadwerklik vir ons land en omgewing en hou op met vergaderings en dreigemente van afsny van dienste. Ja daar is minder reën maar die Liewe Heer het vir ons tegnologie en breins gegee om ‘n verskil te maak….ons moet net die wil hê en die uitvoering dan bewerkstellig…..dit is volhoubaar..

Karen ·

Nee Hanna, jy vergeet, die stad bly mos sê dis nie die informele plekke wat water mors, dis die mense in die voorstede……

Capie ·

Dis absolute nonsens dat die Informele nedersettings in Kaapstad kwansuis nie die grootste vermorsers van water is nie. Ry maar deur die buurte en jy sal sien hoe dieTaxis op die sypaadjies met lopende kraanwater en tuinslange gewas word. Die Polisie en Verkeers Departement ry eenvoudig verby hulle en doen absoluut NIKS daaraan nie, want selfs hulle is te bang om die oortreders aan te spreek. Toe ek nou die dag met werkers praat oor wat hulle gaan doen wanneer die water opdroog of afgesny word, kry ek die moroniese antwoord: ” Dan gaan ons Toi-Toi” Dankie vir die waarheid.

Gogga ·

Ek dink regtig die water probleem indie Kaap kon reggestel word as die plaaslike regering betyds opgetree het! Dis mos nie asof dit oornag gebeur het nie? Regtig???

Chris Groenewald ·

Kaapstad het nie ‘n tekort aan water nie – hulle het ‘n oseaan vol daarvan. HULLE PROBLEEM IS ‘N POLITIEKE PROBLEEM! As hulle die voorsiening van ontsoute water privatiseer SONDER BEE, dan sal hulle ‘n oorvloed water hê , dalk teen ‘n goedkoper prys.

Abraham ·

So… vir die laaste paar maande is my water rekening stabiel, ongelooflik stabiel.

Vyf van ons gebruik presies 12.000kl/maand. Elke maand! Ons was nog sewe so twee maande terug plus maatjies wat naweke kuier. En toe was dit ook 12kl/m.

Ek wonder of ons die enigstes is wat water so presies kan gebruik…
hmmmm?

Die bedrag is klein, so dis nie die groot probleem nie. As hulle die *foutjie* met baie mense in die voorstede maak, dan is dit mos flippen duidelik hoekom hulle dink ons gebruik te veel! En hoe akuraat is hulle voorspellings dan? Wat van as hulle ‘n soort gelyke foutjie maak oor die gebruik in ander areas, maar net teenoorgesteld (altyd minder as werklik)?

Klagter gele, maar nou ja, wat daarvan sal word is seker maar niks.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.