Vlakfontein-moorde: Verdagte se dood ‘teleurstellend’

Vusi Ernest Mabaso (Foto: Simphiwe Mbokazi/ANA Photo)

Sizakele Nkosi-Malobane, Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, sê die dood van een van die beskuldigdes in die opspraakwekkende Vlakfontein-moordsaak, sal nie verhoed dat die persoon of persone wat sewe familielede uitgewis het aan die pen ry nie.

Maroela Media het vroeër berig Ernest Vusi Mabaso (27) is dood in sy polisiesel aangetref nadat hy vermoedelik sy eie lewe geneem het. Mabaso was veronderstel om vandag weer saam met sy medebeskuldigde, Fita Khupe (60), in die hof te verskyn.

Hy is Vrydag dood in die aanhoudingselle van die Kaapstad-Sentraal‑polisiestasie aangetref. Mabaso was aanvanklik in die Krugersdorp-gevangenis aangehou, maar is Kaapstad toe geneem as deel van die polisie se ondersoek na die moordsaak.

Nkosi-Malobane sê sy het met skok en teleurstelling kennis geneem van Mabaso se dood. “Hierdie verwikkeling is baie jammer. Dit is geen gewone hofsaak nie, gegewe die aantal mense wat vermoor is. Die familie en die mense van Gauteng wil graag die waarheid hoor oor die gebeure wat tot hierdie verskriklike misdaad gelei het,” het sy gesê.

Fita Khupe (Foto: ANA)

Sy sê sy sou verkies het dat Mabaso verder ondervra kon word deur die wetstoepassingsowerhede oor sy beweerde betrokkenheid by die misdaad, maar is vol vertroue dat die saak net so deeglik ondersoek sal word soos voor sy dood. “As die Gautengse provinsiale regering sal ons voortgaan om ondersteuning aan die Khoza-familie te bied. Die dood van hierdie verdagte moet nie veroorsaak dat ons pogings om geregtigheid te kry in die wiele gery word nie.”

Maroela Media het vroeër berig bure het op 29 Oktober verlede jaar by die polisie oor ʼn onaangename reuk gekla wat van die Khoza-familie se huis in Vlakfontein in die suide van Johannesburg gekom het. Nadat beamptes ʼn deur afgebreek het, het hulle op ʼn gruvonds afgekom. Sewe liggame is onder hopies sand in die huis en in ʼn buitekamer gevind. Daar was bloedspatsels teen die mure.

Die oorledenes was drie volwasse vroue, asook vier kinders tussen 2 en 11 jaar oud.

Mabaso het in November verlede jaar in die Protea-landdroshof beweer hy is deur sy medebeskuldigde gedwing om die moorde te pleeg en het dit gedoen omdat hy vir sy lewe gevrees het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Theo ·

Groot verrassing wag vir hom. Hy het net sy aardse straf vrygespring

Heksie ·

Sy hele ou storie was maar ‘n klomp nonsens, toe maak hy ‘n einde aan sy lewe want hy het geweet hy gaan uitgevang word.
En nou gaan die ander verdagte, al die skuld op die oorledene pak om skotvry daarvan af te kom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.