Vlammedood ná motorbotsing

Die motor wat in ’n botsing met ’n afleweringsvoertuig (foto) by Port Edward betrokke was, het uitgebrand. Foto: Netcare 911

Vier mense is dood in ʼn botsing aan KwaZulu-Natal se Suidkus toe ʼn motor aan die brand geslaan het.

Shawn Herbst, Netcare 911-woordvoerder, sê paramedici is Saterdag omstreeks 21:30 ontbied na die toneel van ʼn ernstige ongeluk op die R61 in Leisure Bay, Port Edward.

Blykbaar was ʼn motor en ʼn ligteafleweringsvoertuig in ʼn trompop botsing betrokke, waarna die motor aan die brand geslaan het.

“Vier mense is op die toneel dood verklaar,” sê Herbst, “terwyl nog ʼn pasiënt in ʼn kritieke toestand was en gevorderde lewensondersteuning geverg het.”

Nadat die toestand van dié pasiënt bestendig is, is hulle per ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal vir verdere behandeling gebring.

Die owerheid ondersoek nog die oorsaak van die ongeluk, sê Herbst.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.