Vlieërplankryers uit die water gejaag weens permitte

Joshua Emanuel is een van die wêreld se vlieërplanksterre. Foto: Facebook

Skrywer: Alida Buckle

Eienaars van Langebaan-vlieërplankskole was vandeesweek moedeloos ná SANParke hul permitte om in die strandmeer onderrig te gee, teruggetrek het.

Sowat 15 vlieërplankskole maak hul bestaan uit klasse aan honderde vakansiegangers wat na Langebaan stroom weens die ideale toestande vir die sport. KiteWorldMag beskryf Langebaan juis as een van die voorste vlieërplankplekke in Suid-Afrika.

Volgens van die eienaars moes hulle inderhaas “tender” om klasse in die strandmeer te kan aanbied, sonder vooraf oorlegpleging.

Parkhoof Patricia Bopape betwis dit en sê SANParke het die afgelope paar weke gereeld met vlieërplankskole en sakeondernemings gepraat oor die aansoekproses om permitte vir spesiale gebruik om vlieërplanklesse op die strande van die park aan te bied. “Dit was ingevolge die regulasies wat die bestuur van die nasionale park beheer.”

SANParke se permitregulasies het veral betrekking op die aantal instrukteurs per skool en waar hulle in die water mag onderrig gee. Die riglyne beperk watergebruikers én die onderrig van vlieërplankry tot sekere dele van die strandmeer, veral die sensitiewe omgewing voor die restaurante Driftwoods en Pearly’s op die strand en ʼn gedeelte oorkant Breëstraat, wat op die strand doodloop. Dit is juis van die gewildste dele in die strandmeer vir vliëerplankry en onderrig. Die riglyne maan dat die dele “met omsigtigheid gebruik kan word vir opleiding”.

Altesaam 13 van die 15 aansoekers se aansoeke het, volgens Bopape, geslaag, omdat hulle aan al die vereistes vir sulke spesiale gebruikspermitte voldoen. Hierna moes die skole permitgelde betaal en alle vereiste dokumente onderteken.

Volgens Bopape het net vyf aansoekers teen Saterdag 12 Oktober dit gedoen en die res se permitte is daarom teruggetrek.

Gedurende die veldwagters se naweekpatrollies is twee groepe mense op die Hoofstrand gevra om hul permitte te wys terwyl hulle vlieërplankonderrig aan kliënte gegee het. Albei skole het nie permitte gehad nie.

Die beperking is aan hulle verduidelik en hulle is gevra om die strand te ontruim en die uitstaande dokumente aan SANParke te stuur om die permitproses af te handel. Die skole se permitte is onderskeidelik Saterdagmiddag en Sondagmiddag uitgereik.

Volgens Bopape moes nóg ʼn skool, wat in Shark Bay besig was met opleiding, ook inderhaas die plek ontruim omdat hulle nie ʼn permit gehad het nie. Die skool se permit is Donderdag (17 Oktober) uitgereik.

“Kommunikasie oor uitstaande dokumente is al langer as ʼn week voor die onderbreking gestuur,” het Bopape gesê. Sy is ondanks die “ongelukkige voorvalle” tevrede met die skole se reaksie om die situasie reg te stel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Judge Dredd ·

Omtrent die hele noorde van KZN se kus word deur Sanparke beheer. Dis tyd dat privaat ontwikkelaars ook ‘n kans kry tesame met publieke swem areas.

Pro Sanparke ·

Privaat ontwikkelaars sal die hele kuslyn soos Hermanus, Hartenbos en Stilbaai laat lyk. Nee dankie. Ek hoop Sanparke hou dit ongerep.

chrisjan ·

Hulle tyd vir sulke twak , maar die vloot moet die perlemoen stropers gaan vang.

SlimJan ·

Wat is Vleërplankryers? O, ek sien dis net ‘n tikfout….

Swannie ·

Alles, absoluut alles behoort mos vanaf 1994 aan die ANC.

Ek is selfs te bang om in die see te swem, net ingeval ek verdrink en my familie `n rekening kry vir die water wat ek ingesluk het sonder `n permit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.