Vlei in Kaapse reservaat gesluit ná watertoetse

Foto: zandvleitrust.org.za

Die watergebied in die Zandvlei Riviermond Natuurreservaat naby Kaapstad is tydelik gesluit nadat toetse ʼn hoë vlak van die E.coli-bakterie in die water aangedui het.

Die Stad Kaapstad het gesê dié tydelike sluiting word as voorsorgsmaatreël gedoen en ter wille van die veiligheid van besoekers aan die reservaat. Volgens ʼn verklaring wat deur die stad uitgereik is, is die sluiting slegs van toepassing op ontspanningsaktiwiteite, insluitend hengel, rondom die watergebied. Die res van die natuurreservaat en ander besoekersfasiliteite is steeds oop vir die publiek.

Die stad het waterkwaliteitstoetse op verskeie punte in die Zandvlei-water gedoen weens kommer oor die kwaliteit van die water. Dit is toe dat die hoë vlakke van E.coli waargeneem is.

“Die hoë E.coli-tellings is weens ʼn rioolstorting vroeër die week toe ʼn groot rioolhoofpyp ineengestort het. Die storting is intussen beperk. Die stad monitor die effek van die rioolstorting op die water, asook die bykomende besoedeling wat die vlei vanaf die opvangsgebied binnekom.”

Die verklaring verduidelik dat dié addisionele besoedeling die gevolg is van die spoeleffek van die onlangse reën ná ʼn baie lang droogte.

“Die stad sal voortgaan om die waterkwaliteit te monitor en verwag dat ons binnekort ʼn verbetering in die [bakterie]vlakke sal sien. Intussen is kennisgewings aangebring om besoekers aan die vlei te maan om versigtig te wees. Die publiek sal ingelig word sodra die vlei weer veilig is om vir ontspanningsaktiwiteite te gebruik.”

Die stad het verskoning gevra vir die ongerief wat die sluiting van die watergebied veroorsaak en gesê hy sal die publiek op die hoogte hou soos die situasie verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Oom Kalahari ·

Swak Staats beheerde onderhouds dienstes en vullis bemorsing en misbruik van water vir ander doeleindes veroorsaak dat dit gebeur en veroorsaak siektes.

Wessie ·

E-Coli is die wetenskaplike term vir vuil, besmetting, onhigienies as gevolg van ontlasting en al sy variante.
Watter riviere en openbare ruimtes is SA is NIE daarmee besmet nie?….danksy die E-Coli burgers van die land?

Casper Labuschagne ·

Interessant. In Kroonstad durf melkboere wat langs die Valsrivier bly, nie hul landerye besproei met water uit die rivier nie, want doen hulle dit is die e-coli telling in die koeie se melk onaanvaarbaar hoog. Enigeen kan self op Google Maps/Earth na die Valsrivier kyk waar dit deur Kroonstad loop, stroomop is daar ‘n bruin rivier, stroomaf is die rivierwater lemmetjiegroen vanweë rou riool wat die Moqhaka Munisipale owerheid lukraak in die rivier stort. En net mooi niks gebeur hieroor nie.

Die enigste verklaring vir die feit dat ‘n natuurreservaat gesluit word oor E-Coli in een stad en dat in ‘n ander dorp niks gebeur waar ‘n veel groter probleem bestaan nie, het alles te make met wie in die onderskeie munisipaliteite aan bewind is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.