Vleisalternatiewe kan op winkelrakke bly

Die generiese name van plantgebaseerde proteïen mag nie ooreenstem met dié van dieselfde soort vleisprodukte, soos wors, burger, nuggets en patties nie, maar die produkte bly permanent beskikbaar vir Suid-Afrikaanse verbruikers.

Dit kom nadat die raad vir verbruikersgoedere van Suid-Afrika gedwing is om ʼn dringende hofbevel te bekom om die Voedselveiligheidsagentskap as gevolmagtigde te verhoed om beslag te lê op plantgebaseerde proteïen van kleinhandelaars regoor die land se rakke, hangende die hersiening van die besluit.

Die saak spruit uit benaming van produkte met dieselfde name, na aanleiding van die behandeling van plantgebaseerde proteïen deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en sy aangewese entiteit, die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Voedselveiligheid.

Drukgroepe het hulle vroeër tot die hof gewend vir ʼn interdik om die departement te verhoed om duisende plantgebaseerde vleisalternatiewe van winkelrakke te verwyder.

Die beslagleggings is beoog ingevolge die Wet op Landbouprodukstandaarde, wat bepaal sekere produkname is gereserveer vir bepaalde vleisalternatiewe, wat nie vleisvervangings insluit nie.

Die Johannesburgse hooggeregshof het Donderdag ʼn besluit om beslag te lê op dié produkte by kleinhandelafsetpunte hersien en ter syde gestel. Generiese produkname vir vleisprodukte met dieselfde naam word nie toegelaat nie.

Dit kom na ʼn tydelike hofinterdik wat in 2022 bekom is om te keer dat die vleisalternatiewe van rakke gehaal word. Die produkte is nou, ondanks voortdurende twispunte oor etiketteringspraktyke, permanent beskikbaar aan verbruikers.

Wikus Engelbrecht, woordvoerder van ProVeg, sê die kwessie oor die gebruik van name vir plantgebaseerde vleisalternatiewe was die afgelope twee jaar in omstredenheid gehul, omdat die name te naby was as dié van verwerkte vleisprodukte en verbruikers verwar het.

Die raad vir verbruikersgoedere het die tersydestelling verwelkom en het dit bestempel as ʼn oorwinning vir die vleisanaloogsektor. Hy het dit ook bestempel as  ʼn bron van indiensneming regdeur die waardeketting.

Donovan Will, Suid-Afrikaanse direkteur van ProVeg, het die hooggeregshofbeslissing verwelkom. “Ons waardeer die raad se pogings en hoop die jongste ontwikkeling moedig die departement aan om met belanghebbendes in die plantgebaseerde ruimte te vergader om die kwessie verder te bespreek.”

Hy sê gegewe die veelvuldige voordele van ʼn plantryker dieet vir persoonlike gesondheid, die omgewing, die verlaging van koolstofvrystellings en vir wêreldwye voedselsekuriteit, sal ProVeg graag met die Suid-Afrikaanse regering wil saamwerk vir beter voordeel uit plantgebaseerde produkte vir Suid-Afrikaners.

“Dié vleisalternatiewe is nog ʼn jong bedryf en nuanse en ʼn mate van verwarring is verstaanbaar. Die regulasie van ʼn nuwe bedryf kan ingewikkeld en uitdagend wees, veral omdat dit deel vorm van die voedsel- en landbousektor, maar gegewe die onmiskenbare voordele daarvan, beskou ProVeg dit as ʼn geleentheid om ons internasionale kundigheid te benut en met besighede en die regering saam te werk.”

Hy sê die suksesvolle en sinvolle regulering van dié produkte kan groei in die bedryf verseker en kan werkgeleenthede tot gevolg hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Olive ·

Dis goed. Fry’s is baie lekker en gesonder en geen diere ly daaronder nie.

Cherokee ·

Plêstiekvleis, maar somtyds tòg lekker, en ‘n mielie is geslag, in plaas van ‘n bees.

Anel ·

Kyk, die spul moet niu nie krap wasr dit nie juk nie!!! As julle wil plante eet, doen dit, masr moennie ons vleiseters dwing om dieselfde te doen nie. Pleks mask julle spesiale groente winkels oop en vetkoop julle groente vleis daar. Waar gaan al die plante vandadn kom wat julle so wil eet? Die boere sukkel klaar om groente te plant en nou wil julle kastige vleis daarvan maak? In die Bybel het die Here dan offers ladt mask van VLEIS en nie groente nie!!! Vleis is daar vir ons om te eet. As ons nie vleis moes eet nie, sou God dit nie beskikbaar gestel het nie. En hoe weet mens wat se plante alles daarin is? Nee, wat, los ons vleiseters uit.

Anonymouse ·

Hierdie hele storie is absoluut belaglik. Fry’s se sausage rolls is in elk geval lekkerder as enige vleis sausage rolls wat ek al ooit gehad het.

Hussin ·

LOL, gesonder! Nou het ek al alles gehoor. Hoe mense kan dink dat hulle hoogs geprosesseerde diëte gesond is gaan my verstand te bowe.

DJ ·

Beslis nie vir my nie. Regte vleis bly koning. Ek nie ‘n blaar braai nie.

Leona ·

O liewe! Moet asseblief net nie al ons diere se kos opeet nie. Ek self eet min vleis, maar teen dieet bevat regtig alles wat jy benodig nie, dit maak nie saak hoe jy dit probeer regverdig nie. Dit bly jou eie keuse wat jy wil eet.

Rudolph ·

So ‘Groot vleis’ het toe nie sy sin gekry nie. Hoekom kies sommige mense om diere uitbuiting, inperking, verminking, mishandeling en ‘moord’ te ondersteun , terwyl hulle al die voedingstowwe wat hulle benodig van plante en plant produkte kan kry?

Morné ·

Nee wat eet julle maar julle plante produkte. Net solank julle nie julle dieet op my wil afdwing nie, dan is daar nie fout nie. Dit is my Godgegewe reg om vleis te eet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.