‘Vleislose frikkadelle’ veilig op winkelrakke – vir nou

Plantgebaseerde wors as alternatief vir vleisprodukte. (Foto: Shaun The Vegan/Facebook)

ʼn Stokkie is vir eers gesteek voor ʼn plan van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Voedselveiligheid om beslag te lê op alle plantgebaseerde proteïen met name soos veganistiese biltong en vleislose frikkadelle.

Drukgroepe het hulle tot die hof gewend vir ʼn interdik om die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling – deur die agentskap – te verhoed om van Maandag die duisende plantgebaseerde vleisalternatiewe van winkelrakke te verwyder.

Die beslagleggings is beoog ingevolge die Wet op Landbouprodukstandaarde wat bepaal dat sekere produkname gereserveer word vir bepaalde verwerkte vleisprodukte. Dit sluit nie vleisvervangings in nie.

Pogings van die bedryf om die departement en die agentskap te oortuig om die beslagleggings op te skort en nuwe en gepaste wetgewing vir plantgebaseerde vleisalternatiewe te ontwikkel, het op ʼn dooiepunt uitgeloop en verskeie organisasies het hulle tot die hof gewend.

Die Johannesburgse hooggeregshof het Vrydag beslis dat die produkte op winkelrakke moet bly, minstens tot ʼn hof kan besluit oor die meriete van produsente en kleinhandelaars se betoë dat die regulasies onlogies is en verbruikers skade gaan berokken.

Die organisasie ProVeg South Africa sê die besluit, indien dit in werking gestel word, gaan ʼn verwoestende uitwerking op die bedryf en verbruikers hê. Dit sal onder meer beteken etikette op produkte sal verander moet word, dit kan lei tot werksverliese en kan verwarring onder verbruikers veroorsaak.

Die organisasie sê ook die besluit om beslag te lê op produkte met name soos sampioenbiltong of veganistiese hoenderstukkies kan beteken verbruikers verloor vertroue in die produkte, omdat daar skielik ʼn onverklaarbare verandering aan etikette aangebring word.

ProVeg sê hy het in die verlede probeer en sal voortgaan om buite te hof te probeer verseker dat nuwe en gepaste regulasies vir plantgebaseerde vleisalternatiewe ontwikkel word en dat dit in die beste belang van die plantgebaseerde voedselbedryf gedoen word.

Die organisasie het ʼn beroep op die regering gedoen om die ontwikkeling van die nuwe regulasies te versnel, sonder enige tussentydte strafmaatreëls vir die plantgebaseerde bedryf.

“Hoewel ons die hof se besluit verwelkom, benadruk ons die oproep vir verdere gesprekke en ons glo steeds die kwessie behoort deur besprekings tussen die plantgebaseerde voedselbedryf, die departement en die vleisbedryf opgelos te word,” sê Donovan Will, direkteur van ProVeg South Africa.

ProVeg is ʼn internasionale voedselbewusmakingsorganisasie wat hom beywer vir die transformasie van die wêreldwye kosstelsel deur konvensionele diereprodukte met plantgebaseerde alternatiewe te vervang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

42 Kommentare

domheks ·

Dankie maar NEE DANKIE – vleis bly my koning! ‘n Skaaptjoppie met ‘n lekker vet lagie……mmmmmm

Hennie ·

Lekker parkiegras-bolle (vegan frikadelle) met gestoofde rape..
Stronk in ‘n bun… Hot dog….

Henri ·

Ek verstaan nie. ProVeg baklei om vegetariese produkte vleisname te gee om dit meer aanloklik te maak. As ek biltong wil eet, wil ek biltong eet, en as ek gedroogte sampioene wil eet, wil ek gedroogte sampioene eet. Ek wou nog nooit wortelgeur droëwors eet nie…

Is ek stoepit of is hulle van hulle trollie af?

Anonymouse ·

‘n Mens sou sweer ons het nie beter dinge om geld en tyd op te mors nie. Nog nooit het ek een van hierdie tipe produkte gesien en gedink dis vleis nie. Absoluut belaglik!

Barney ·

Wat ek nie verstaan nie is hoekom daar ‘n behoefte is aan “veganistiese hoenderstukkies” en “sampioenbiltong”. As jy nie vleis wil eet nie, moet dan nie en eet jou groente met trots. Hoekom moet dit verdoesel word om soos vleis te klink en smaak.

Anonymouse ·

Omdat daar baie mense is wat nie ophou vleis eet omdat hulle nie van die smaak hou nie. Hulle hou op om vleis te eet oor ander redes. Dieselfde rede hoekom mense nie-alkoholiese biere drink, dieet koeldranke drink, gluten-vrye brood eet, blomkool gebruik as rys of ‘mash’, ens, ens.

VaalDonkie ·

Maar waarom voel jy dis nodig om te lieg oor wat daarin is?

Anonymouse ·

Wie lieg oor wat?! Dis plaasvervangers, en dis hoe meeste mense, wat kan lees, dit verstaan.

Nettie ·

Anonymouse, maar dis nie heeltemal waar nie. Dieet koeldrank is meestal dieselfde hoofbestandele (water met geurmiddels) as die gewone koeldrank. Een bestandeel, rietsuiker, word egter vervang met ‘n ander bestandeel, chemiese versoetmiddel.

Sampioen biltong is geensins dieselfde ding as biltong nie! Dis nie ‘n produk waarvan slegs een bestandeeltjie soos sout of peper vervang is met ‘n ander nie! Dis ‘n totaal en al ander produk. Die basis is nie meer dieselfde ding nie.

Skaapwors het skaap in, groentewors het groente in. Skaap en groente val in twee verskillende voedsel kategoriee!

‘n Hoenderburger het hoender as basis, ‘n vegetariese burger het groente as basis.

Om die basis te verander, moet die naam verander…. want dis NIE meer dieselfde ding nie.

Koos 100 ·

Ashlee, ek stem 100% saam met jou. As jy nie van die smaak van vleis hou nie, maar nogsteeds iets wil eet wat soos vleis lyk, is dit soos om alkohol vrye bier te drink. Jy doen dit net om “in” te wees, of omdat jy nie jouself en jou besluite wil verdedig nie! As ek na ‘n braai genooi word en daar word blare gebraai, beter dit blare wees wat ek graag wil eet!

Lourens CFG ·

Solank die goed net duidelik gemerk is sodat mens nie per ongeluk plantvleis pleks van vleis koop nie, kan dit op die rakke bly. Ons sal dit nie wil probeer nie dankie.

Gawie ·

Maak glad nie sin nie – hoender is hoender, en veganiste wil nie hoender eet nie. Maar hulle wil hoender in hul blare-produk se naam gebruik om dit te kan verkoop. Is dit nie bietjie dubbel-standaarde nie?
Ek sien hierdie tendens wêreldwyd posvat – die veganiste wil ons almal probeer oorreed om nie vleis te eet nie, maar raak baie vies as hulle verhoed word om vleis-name te gebruik.
As jy dan so trots is op jou vleislose diëet, raak dan net so trots op jou vleislose name daarvoor ook!

DieKriek ·

Frikkadelle bevat vleis. Noem dit groenteballe as daar nie vleis in is nie. As vleis dan so walglik is, hoekom wil hulle vleis name gebruik?

Rudolf ·

As dit nie vleis is nie, moet dit dan nie probeer vleis noem nie…….

VaalDonkie ·

Presies. Ek is mal oor gedroogde vrugte. Ek sal dit enige tyd eed. Neute ook. Maar moenie vir my probeer fool nie.

VaalDonkie ·

Dis die feit dat hulle ons om die bos probeer lei wat my kwaad maak. Daai goed is lekker. Maar as ek lus het vir varkworsies, dan wil ek vark in my worsies he. Dankie. Ek is oud en ek betaal ‘n merske klomp belasting. Ek sal vleis eet as ek wil.

Cherokee ·

Ek is nie verbeeldingloos nie, en sal dit toets. Dàn sal ek besluit of ek dit weer sal koop. Dit klink na ‘n gesondheidsopsie.

VaalDonkie ·

Koop maar net ‘n klein bietjie op ‘n slag om te proe. Ek het glad nie van die beet en mushroom patties gehou nie. Maar Spur se “vegetarian patty” is baie lekker. So traai maar eers voor jy baie geld uithaal.

Gaitsigubib ·

Nee, jy is nie verbeeldingloos nie, maar van een HNP na n ander, ek het soortgelyke goed al probeer, en jy kan my woord maar vat, jy kou eerder aan die poot van n Caprivi hoender.

Cherokee ·

Lol… VaalDonkie en Gaitsigubib, dankie vir die advies :-)))

Vexed ·

Ek kan nie sien hoe vals kos gesonder is nie. Met jy allergieë sal ek dit nie oorleef nie.

Amelia ·

Die produkte is nie misleidend nie. In elke geval wat ek al gesien het, spel die verpakking dit redelik duidelik uit dat jy hier met ‘n plaasvervanger te make het. As jy werklik jouself daarmee misgis is dit dalk omdat jy nie al jou groente opgeëet het toe jy nog op skool was nie.
Net nog ‘n staatsdepartement wat hul tyd met nuttelooshede vermors terwyl daar regte werk is wat dringend aandag vereis.

Gawie ·

Natuurlik is dit misleidend! Daar staan ‘Hoenderstukkies’, maar onder dit in klein skrif ‘bevat slegs blare’. Dan lieg hulle mos! Noem dit dan eerder ‘Blarestukkies’. Maar dan weet hulle dat niemand gaan dit koop nie.

Henri ·

Ek het geen probleem met groente nie. Inteendeel, ek is ‘n groenteboer.

My probleem is dat groente vleis-, eier-, en suiwelname moet kry en dit word bemark as “vegan”. Dit slaan my stom.

VaalDonkie ·

“vegan kaas” heet nog al die jare “tofu”. Ek weet nie waarom dit NOU moet verander nie.

Swerwer ·

Lyk glad nie vars nie, sal maar by my vleisfrikadelle eet en my wortels self voorberei en eet as ‘n heerlike vars slaai!

Herman L ·

Die anti-vleis brigade het jare lank vir almal vertel hoe ongesond rooivleis is. Nou wil hulle vleis namaak en mense laat dink dit is vleis om dit verkoop te kry!

Chris dupreez ·

Hoekom sal n mens nie wil vleis eet nie, maar dit wat jy wil eet moet soos vleis lyk.

Amelia ·

Omdat die produkte gemik is op mense wat altyd vleis geëet het maar om welke rede ookal besluit het hulle wil dit nou nie meer eet nie. Dit is nie maklik om skielik ‘n hele nuwe manier van kook aan te leer nie en hierdie produkte laat jou toe om nogsteeds al jou ou resepte te maak.

Maritza ·

Ek gee glad nie om wat hulle dit noem nie, ek sal maar my skaap tjoppie koop

Anel ·

Nou hoekom wil hulle dit tussen ons normale kis verkoop? Gaan maak ‘n groentewinkel oop en verkoop die goed daar. Dan kan daar mos nie verwarring wees nie. Nou word ek verplig om my bril te dra om al die etikette behoorlik te lees, want as by die huis kom en het ‘n groente hoender gekoop want ek kon nie die fyn skrif sien sien nie, gaan daar baie groot moeilikheid wees!

Boer ·

Ek is so bly daar is vegetariërs en vegans want dan is daar meer vleis vir my.

Koos 100 ·

En dan eet hulle die kos van die diere wat hulle probeer “beskerm”.

Nettie ·

Julle wou mense opsetlik mislei! Nou gooi julle “toys uit die cot” oor julle uitgevang en vasgevat word. Hou by julle plante, ons hou by ons vleisie, dankie. Moenie op ons vleisprodukte se name probeer ry om julle produkte te verkoop nie.

Mauritz ·

Ek eet maar die frikkadelle wat my vrou maak. Baie lekkerder en gesonder as die winkel-frikkadelle (met of sonder vleis).

johan ·

Enige produk wat nie vleis in het nie moet duidelike aanwysings he wat wys GEEN VLEIS.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.