Vleispryssamespanning ondersoek

vleis

Die Mededingingskommissie ondersoek sewe groot vleisverskaffers vir prysvasstelling. Foto: Secomp/Pixabay.com

Die Mededingingskommissie het vandeesweek op 13 persele van sewe groot vleisverskaffers toegeslaan in sy ondersoek na prysvasstelling en handelstoestande in die bedryf. Hierdie vleisverskaffers koop speenkalwers by boere en voer hulle hoë-energie voer sodat hulle binne ‘n paar maande geslag kan word. Ina Opperman verduidelik waarom die kommissie ondersoek instel.

Die kommissie het gelyktydig op die persele van Karan Beef, Sparta Foods, Chalmar Beef, Beefmaster Kimberley, Morgan Beef, Beefcor en Midland Meat toegeslaan. Die maatskappye bedryf voerkrale in Gauteng, die Vrystaat en die Noord-Kaap en verkoop beesvleis aan groot- en kleinhandelaars.

Volgens ‘n verklaring van die kommissie het hierdie vleisverskaffers na bewering ooreengekom of saamgespan om pryse en handelstoestande vas te stel vir die aankoop van speenkalwers van boere en die verkoop van vleis aan groot- en kleinhandelaars.

“Die vleisbedryf vorm ’n belangrike deel van die voedselsektor, een van die belangrike sektore vir die kommissie. Ons werk is daarop gerig om samespanning in die hele voedselsektor te beveg, aangesien die weerloosste mense in die land die grootste deel van hul inkomste aan kos bestee,” het die kommissie gesê.

Die Mededingingskommissie

Die Mededinginskommissie, Mededingingstribunaal en Mededingingsappèhof is ingestel in terme van die Mededingingswet. Die Mededingingskommissie ondersoek oortredings van die wet en pas die wet toe, terwyl die tribunaal uitspraak lewer oor bepaalde sake. Die hof oorweeg appèlle teen uitsprake van die  tribunaal. Al drie liggame is onafhanklik, maar moet administratief verantwoording doen aan die departement van ekonomiese ontwikkeling.

Doel en funksies van die Mededingingskommissie

Die Mededingingswet gee die kommissie die reg om beperkende sakepraktyke te ondersoek, reguleer en evalueer en te waak teen die gebruik van dominante posisies en samesmeltings in die mark om billikheid en bekwaamheid in die Suid-Afrikaanse ekonomie te verseker.

Die doel van die kommissie is om mededinging in Suid-Afrika te bevorder en onderhou deur:

  • Billikheid, aanpasbaarheid en ontwikkeling van die ekonomie te bevorder;
  • Mededingende pryse en produkkeuses aan verbruikers te verseker;
  • Werkskepping en die sosiale en ekonomiese welvaart van Suid-Afrikaners te bevorder;
  • Geleenthede vir Suid-Afrikaanse deelname aan wêreldmarkte uit te brei en die rol van buitelandse mededinging in die land te erken;
  • Te verseker dat klein en medium ondernemings ‘n gelyke geleentheid het om aan die ekonomie deel te neem; en
  • ‘n Groter verspreiding van eienaarskap, veral onder voorheen benadeelde mense, te bevorder.

Om hierdie doel te bereik, is die kommissie se kernfunksies die implementering van maatreëls om markdeursigtigheid uit te brei, sowel as maatreëls om te verseker dat die publiek weet wat die bepalings van die wet is. Die kommissie moet ook teen-mededingingsgedrag ondersoek en evalueer en formeel ondersoek instel na die algemene toestand van mededinging in die markte. Verder kan die kommissie aansoeke om vrystelling van die bepalings van die wet goedkeur of afkeur en samesmeltings, met of sonder voorwaardes, magtig of verbied. Die kommissie kan ook onderhandel oor toestemmingsbevele en sake verwys na die tribunaal, waar die kommissie ook kan verskyn.

Die kommissie kan met enige regulerende owerheid onderhandel en ooreenkom om die uitoefening van sy jurisdiksie oor mededingingsake in die betrokke nywerheid of bedryf te koőrdineer om die konsekwente toepassing van die beginsel van die Wet te verseker. Verder kan die kommissie ook deelneem aan enige regulerende owerheid se verrigtinge en raad gee of ontvang.

Dit val ook binne die kommissie se magte om wetgewing en openbare regulasies te hersien en aan die minister verslag te doen oor enige bepalings wat onmededingende gedrag toelaat. Die kommissie kan verder enige saak wat die tribunaal na hom verwys hanteer.

Wysigings aan die wet maak dit ook moontlik om strafregtelik op te tree teen direkteure en bestuurders wat saamspan of stilswyend instem daartoe en maak toegewings vir die beskerming vir fluitjieblasers.

Die Mededingingskommissie ondersoek ook tans beweerde prysvasstelling en kartelbedrywighede deur van die grootste agente by varsproduktemarkte en kleinhandelaars, sowel as die farmaseutiese bedryf waar hy fokus op sekere medisyne vir kankerbehandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
MCH

Ek hoop maar vir die vleisverskaffers se part het hul nie skuldig gemaak hieraan nie. Ons kom nou al n lang pad met die onmededingende gedrag sedert die samespanning in die meelbedryf oopgevlek is. Ek kan nie glo groot en gevestigde ondernemings soos gemeld sal hul skuldig maak hieraan met die vorige gevalle se geskiedenis in die agterkom nie. Die mededingingskommissie beboet jou dat jy luister. Indien hul wel skuldig is, vat hul flaffie!

Drakensberger

Hoogtyd! Ons as speenkalf produsente, veral die kleiner produsente, is lank genoeg geboelie deur voerkrale.

Tjoppie

Die verbruiker het die prysbetaal vir die duur artikels of kos die skuldiges word beboet en dis regso maar kan die verbruiker nie ook n mate van vergoeding terug ontvang hoekom moet die Staat al die geld kry …….vra maar net

Boontjie

Indien die Voerkrale hierbo genoem NIE skuldig is nie, watter aksie indien enige kan teen kommissie geneem word. Hul VERMOED, het geen bewyse nie maar die saadjie is klaar geplant, skade aan die industrie is klaar gedoen. Hoeveel mense gaan nou hul werk verloor oor vals aantuigings?

anton

Ek sal nie verbaas wees indien hulle skuldig is aan die bedryf nie. Waar n rokie is, is gewoontelik n vuurtjie.
Vandag gaan alles mos net oor geldmaak en bogger die res.
Die verbruiker is mos gewoontelik die een wat maar net moet hoes en betaal!!!