Vlermuis-drieling eerste vir Pta-rehabilitasiesentrum

(Foto: Facebook/ThinkBat)

In ʼn wêreld waar vlermuise gewoonlik net ʼn enkele kleintjie baar, het die geboorte van ʼn vlermuis-drieling by die ThinkBat-rehabilitasiesentrum in Pretoria vlermuiskenners en -liefhebbers van opgewondenheid laat gons.

“Ons het al deur die jare ʼn paar tweelinge gesien, maar nog nooit ʼn drieling nie,” vertel Vicky Karropoulos, medestigter van ThinkBat, ʼn rehabilitasiesentrum vir vlermuise wat deel vorm van die Suid-Afrikaanse Wildlewerehabilitasiesentrum, opgewonde.

“ʼn Vlermuis, wat ons later Tiffany gedoop het, het egter nie net een of twee nuwelinge in die wêreld gebring nie, maar drie pragtige toevoegings tot haar gesin verwelkom – ʼn betreklik skaars verskynsel,” sê sy.

Karropoulos sê ThinkBat is einde verlede maand deur besorgde huiseienaars in kennis gestel van ʼn vlermuis wat op die grond gelê het en nie kon beweeg nie. Rynhardt Britz, ʼn vlermuis-entoesias van dié rehabilitasiesentrum, is dadelik na die huis om ondersoek in te stel om te kyk of hulle die diertjie kan help.

By die betrokke huis het hy egter nie ʼn beseerde vlermuis aangetref nie, maar ʼn hoogswanger een.

“Tiffany was in ʼn goeie toestand en het geen beserings of ander tekens van benoudheid getoon nie – sy was net baie ver swanger. So swanger en so swaar dat sy nie kon vlieg nie,” sê Karropoulos.

Britz het die vlermuiswyfie saam met hom na die ThinkBat-rehabilitasiesentrum geneem en presies ʼn dag later het drie nuwe vlermuiskleintjies hul opwagting gemaak.

“Ons was so opgewonde toe ons die drie kleintjies sien. Sy het twee mannetjies en een wyfie in die lewe gebring.”

Karropoulos sê hulle was aanvanklik bekommerd dat Tiffany nie vir al drie kleintjie sou kon sorg nie.

“Sy het immers net twee tepels en die vlermuiswyfie was baie kleiner as haar broers. Dit het egter gou duidelik geword dat Tiffany ʼn uitstekende en toegewyde ma – nes alle ander vlermuise – is.

“Al drie kleintjies floreer steeds onder hul mamma se sorg,” sê Karropoulos.

Sy sê in die natuur oorleef slegs 30% van die vlermuiskleintjies hul eerste lewensjaar.

“Dit is moeilik daar buite. Ons is nie seker wat Tiffany en haar kleintjies se kanse sou wees as sy nie gevind is nie. Ons is bly dat hulle veilig by ons is en die geleentheid sal hê om groot en sterk te word voordat hulle as ʼn gesin na die natuur terugkeer,” sê sy.

Die vier vlermuise sal wanneer hulle gereed is om die rehabilitasiesentrum te verlaat, terugkeer na waar hulle gevind is.

“Tiffany het heel waarskynlik ʼn familie daar waar ons haar gekry het. Wanneer sy en die drieling sterk genoeg is om in die natuur vrygelaat te word, sal ons haar weer terugneem sodat sy met haar drie kleintjies by haar familie kan gaan spog.”

Karropoulos het ʼn beroep op mense gedoen om alles moontlik te doen om vlermuise te help beskerm.

“Vlermuise is liefdevolle en intelligente wesens. Hulle speel ʼn uiters belangrike rol in die handhawing van ekologiese balans, veral in plaagbeheer. Hulle wil net hul gesinnetjies kan grootmaak en veilig hou, net soos ons.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Olive ·

Welkom in die ou wrede wereld julle oulike klein goetertjies, en baie geluk klein moedertjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.