Vlieënde vuurbal dalk stukke vuurpyl

Skermgreep uit ‘n video.

Vlieënde vuurballe wat Dinsdagaand oor dele van Gauteng, Limpopo en Noordwes te siene was, is dalk gedeeltes van ʼn vuurpyl eerder as ʼn meteoor.

Inwoners van dié provinsies was verstom nadat vuurballe Dinsdag ná 18:00 deur die lug getrek het. Talle mense het video’s van die verskynsel op sosiale media gedeel en bespiegel oor wat die raaiselagtige voorwerpe kon wees.

Dr. Daniel Cunnama, sterrekundige verbonde aan die Suid-Afrikaanse Astronomiese Sterrewag, het Woensdag aan Maroela Media gesê hy is oortuig daarvan dat die gloeiende voorwerpe dele van ʼn Chinese vuurpyl is wat dieselfde dag gelanseer is.

Die vuurpyl is glo deel van ʼn toetslopie om in die toekoms tot 13 000 satelliete uit China te lanseer om ʼn wêreldwye internetverbinding vir dié land in werking te stel, het Spaceflight Now berig.

“ʼn Gedeelte van die vuurpyl wat die satelliet in die aarde se wentelbaan indruk, het moontlik uit dié baan gegaan toe dit die stratosfeer (hoogste luglaag van die atmosfeer) tref. Dit het ʼn sekondêre brand veroorsaak wat die vuurpyl terug aarde toe gedruk het. Terwyl dit deur die aarde se atmosfeer beweeg, het dit begin opbreek en brand,” het Cunnama gesê.

ʼn Professor van astrofisika aan die Universiteit van die Wes-Kaap, Carolina Ödman-Govender, het saamgestem dat dit gedeeltes van ʼn vuurpyl was en verduidelik waarom dié puin dikwels soos meteore kan lyk wanneer dit deur die lug trek.

“Wanneer die vuurpyl opbreek, brand die puin vinnig omdat daar so baie wrywing tussen lugmolekules is. Dit lyk dan soos ʼn reeks vuurballe wat deur die lug trek.”

Dit is ʼn algemene verskynsel, aangesien ruimteagentskappe die hoeveelheid puin in die hemelruim tot ʼn minimum wil hou.

Dié puin was egter nie veronderstel om oor Suid-Afrika te gaan nie.

“Dit is moeilik om te voorspel waar die puin gaan land en gewoonlik is die teiken eintlik groot watermassas soos die see. In hierdie geval moes dit nie oor Suid-Afrika beweeg het nie, maar ons glo nie dit was met opset gedoen nie,” het Cunnama gesê.

Volgens Ödman-Govender is daar nog geen berigte dat die puin die aarde getref het nie.

“Dit het dalk reeds oos van die Atlantiese Oseaan opgebrand.”

Dit is nie presies duidelik hoe hoog op die puin was toe dit geval het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Madeleine ·

Ja nee te stadig vir n meteorite.
Klink na monkey business waarmee staat en China weer besig is.

Niklaas ·

Solank dit net in die see gaan val , en nie in ons land nie. Teen so ‘n hoë spoed en reeds vuurwarm , kan dit taamlike gemors afgee as dit ‘n groot digbeboude stad tref.

Ursula ·

Wonder hoeveel van hierdie puin alreeds op die oseaanbodems lê.

JohanR ·

Miskien ‘n voorspelling dat die ANC die October/Febuarie? verkiesing gaan verloor? Ons hoop hard!

Botterblommetjie ·

Ek het nou die dag ook ‘n ding afgeneem uit die lug wat op pad aarde toe was. Nog nooit so iets gesien nie. Kon nie ‘n defnitiewe verklaring daarvoor kry nie en het dit tot op fb gedeel. Google lens het gewys dit is ‘n meteoor. Was nogal interessant om so iets te kon afneem en natuurlik te sien. Wens kon fotos hier plaas….

Janice ·

In 2013 was dieselfde verskynsel in de Oos-Kaap. Toe was ons vertel dit was oortollige petrol wat ‘n vuurpyl uitgestort het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.