Vlieënier kom op gekaapte broodbakkie af

(Foto: Reaction Unit South Africa)

ʼn Vlieënier van Reaction Unit South Africa (Rusa) het Dinsdag op ʼn bakkie wat brood vervoer en wat vroeër gekaap is, in ʼn suikerrietplantasie afgekom.

Die kapers het glo 1 000 brode uit die Hyundai H100-bakkie gebuit en die ingeboude kluis oopgesny voordat hulle op die vlug geslaan het.

Prem Balram, woordvoerder van Rusa, sê die bakkie is in die omgewing van Inanda in KwaZulu-Natal deur drie gewapende mans gekaap.

“Tracker het Rusa-beamptes om 08:51 na ʼn suikerrietplantasie naby Osindisweni ontbied,” sê hy.

(Foto: Reaction Unit South Africa)

“Die Rusa R44-helikopter was besig om lugpatrollies rondom Brindhaven te doen toe die vlieënier in die rigting van die vermiste bakkie gestuur is. Die vlieënier het kort daarna die bakkie in die suikerrietplantasie opgemerk.”

Die sleutels van die bakkie is in die voertuig gevind, terwyl al die brood wat vervoer is, gebuit is.

“Die verdagtes het ook die ingeboude kluis oopgesny, maar dit is nog nie duidelik of hulle enige geld gebuit het nie,” sê Balram.

Die bestuurder van die bakkie is nie tydens die kaping beseer nie.

Volgens die bestuurder het die verdagtes ook ʼn Hyundai H100-bakkie bestuur. Nog niemand is egter in verband met die kaping in hegtenis geneem nie.

(Foto: Reaction Unit South Africa)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mariana ·

Magtig nie eers ‘n brood is gevrywaar teen roof nie. Dit raak by die dag erger in die land en dan gaan die arrogante rowers seker nog die brood verkoop ook. Skrikwekkend!!

Frank John ·

Die government gaan moet werk-skepping doen, mense is honger.

Erika ·

Mens Kan nie net van Brood Alleen lewe nie..
God het ons n vrye will gegee…ne en daar is gevolge vir jou keuses.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.