Vlieënier maak goeie vordering ná heli-ongeluk

Joshua Cilliers. Foto: Verskaf

Joshua Cilliers (28), die vlieënier wat vroeër vanjaar kritieke beserings in ʼn helikopterongeluk naby Queenstown in die Oos-Kaap opgedoen het, kan byna sewe weke later weer “basiese dinge” doen soos eet en praat.

“Dit gaan beter met hom en hy is buite gevaar,” het Danie Cilliers, Joshua se broer, Dinsdagmiddag aan Maroela Media gesê.

Volgens Danie het Cilliers vandeesweek begin om kos soos pampoen, jellie en vla in te neem sonder om te verstik. Dié vordering is ’n groot mylpaal nadat Cilliers sowat twee maande gelede met bloeding op die brein, ’n gebreekte arm en longbeserings in die hospitaal opgeneem is.

Danie vertel verder dat Cilliers al ’n geruime tyd nie meer aan ’n ventilator gekoppel is nie en sedertdien weer begin praat het. Cilliers kan enkele woorde vorm wanneer hy die opening in sy keel toedruk waardeur pype vantevore gekoppel was.

Cilliers is sowat ’n maand gelede van ’n hospitaal in Oos-Londen na ’n hospitaal in Pretoria oorgeplaas om nader aan sy familie te wees wat grootliks in Gauteng en Limpopo woon. Daar lê wel nog ’n lang herstelpad vir Cilliers voor en hy sal waarskynlik nog ’n lang ruk in dié hospitaal aansterk, reken Danie.

Die bloeding op Cilliers se brein kon genadiglik al intussen opklaar. “Hy reageer goed, maar ons is nog nie seker wat hy kan onthou nie. Dit sal eers later met rehabilitasie vasgestel kan word.”

Volgens Danie kan sy broer ook sy arm beweeg, maar rehabilitasie sal later nodig wees om vas te stel hoeveel armfunksie Cilliers vorentoe sal hê.

Danksy die vordering wat die afgelope twee weke gemaak is, bly Cilliers en sy gesin positief, sê Danie.

Maroela Media het vroeër berig Cilliers was saam met George Frederik Snyman, ʼn veearts van Port Elizabeth, in ’n helikopter toe dit in die Sterkstroom-omgewing neergestort het. Snyman is op die toneel dood.

Lees alle vorige berigte oor Joshua Cilliers op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.