Vlieënier maak oë oop ná heli-ongeluk

Joshua Cilliers. Foto: Verskaf

Joshua Cilliers (28), die vlieënier wat kritiek beseer is in ʼn helikopterongeluk naby Queenstown in die Oos-Kaap, sal na verwagting binnekort sterk genoeg wees om na ʼn hospitaal in Pretoria oorgeplaas te word.

Cilliers is ná die ongeluk met bloeding op die brein, ʼn gebreekte arm en ʼn longbesering in ʼn Oos-Londense hospitaal opgeneem, maar het Sondag vir die eerste keer sy oë oopgemaak.

“Hy het van Sondag af baie goeie verbetering getoon en sy oë vir die eerste keer lekker groot oopgemaak. Hy is nog steeds in die waakeenheid, maar hy kan redelik op sy eie asemhaal en hy reageer wanneer daar met hom gepraat word,” sê Danie Cilliers, Joshua se broer.

“Hy kan nog nie verbaal kommunikeer nie, maar as daar vir hom gesê word ‘beweeg jou hand’, dan beweeg hy sy hand, so hy reageer.”

Danie sê die familie hoop dat Joshua teen die einde van die week na ʼn hospitaal in Pretoria oorgeplaas kan word omdat hy dan baie nader aan sy familie sal wees wat grootliks in Gauteng en Limpopo woon.

“Die hospitaal waar hy tans behandel word, is regtig fantasties, maar die hospitaal waarheen ons hom wil laat oorplaas, is ideaal toegerus vir die behandeling en rehabilitasie wat Joshua sal nodig hê.”

Danie het weereens beklemtoon hoe baie die familie staatmaak op die ondersteuning wat hulle van oraloor ontvang. “Nicole [Joshua se vrou] het ook net weer vir my gesê hoe belangrik dit is dat almal net aanhou om vir Joshua te bid. Al die boodskappe en ondersteuning beteken so baie vir ons familie, mense moet asseblief nie ophou om te bid en boodskappe te stuur nie. Elke een word so waardeer.”

Maroela Media het vroeër berig Joshua was op 15 Augustus saam met ʼn veearts, Freek Snyman (33), in ʼn helikopter besig om met wild te werk toe dit in die Sterkstroom-gebied neergestort het.

Snyman het op die toneel gesterf, terwyl Joshua met ernstige beserings na ʼn hospitaal gehaas is. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie en word ondersoek.

Vir inligting oor Joshua se vordering, besoek gerus die Facebook-ondersteuningsgroep wat deur vriende vir hom op die been gebring is.

Lees alle vorige berigte oor Joshua Cilliers op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.