Vlieënier ná 5 dae steeds vermis

Argieffoto (Foto: NSRI)

Vyf dae nadat ʼn 61-jarige vlieënier van Newcastle in KwaZulu-Natal tydens ʼn vlug spoorloos verdwyn het, is daar steeds geen teken van hom óf sy vermiste vliegtuig nie.

Santjie White, hoof van die lugvaart-soek-en-reddingskoördineringsentrum (ARCC), het aan Maroela Media gesê die man het Woensdag met sy Foxbat- ligte vliegtuig uit Newcastle gevlieg, maar het nie weer teruggekeer soos verwag nie. Sy vrou het onraad vermoed en alarm gemaak. ʼn Saak is Donderdag by die polisie aanhangig gemaak.

Volgens White is daar onmiddellik ʼn uitgebreide soektog na die vliegtuig van stapel gestuur. Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), die polisie, die lugmag, private veiligheidsmaatskappye en die Nasionale Parkeraad het almal ingespring om met die soektog op land en in die see te help.

Die NSRI in Richardbaai het Donderdag ʼn seereddingsboot gestuur om vyf seemyl weg van die kus tussen Richardsbaai en St. Lucia te soek. Die NSRI se stasies in St. Lucia, Oos-Londen, Port Alfred en Port Elizabeth het almal gehelp om al langs die kus vir enige tekens van die vliegtuig te soek.

Volgens White het die vlieënier tydens die vlug vir sy vrou foto’s gestuur wat hy aan die kus geneem het. Die laaste ligging waar die vliegtuig op die radar waargeneem is, is in die see. Plaaslike inwoners by Mabibi het ook bevestig dat hulle die vliegtuig in die gebied gesien vlieg het.

“Ons soektog is tans gefokus op die see omdat dit die laaste ligging is waar die vliegtuig op die radar waargeneem is. Maar ons kan nie die soektog op land net los nie, want daar is geen manier om vir seker te weet wat gebeur het nie, so ons soek steeds op land ook,” het White gesê.

Sy het verduidelik dat, indien die vliegtuig naby die kus by Mabibi geval het, die seestrome die wrak in ʼn noordwaartse rigting sou meegesleur het. Indien die vliegtuig dieper in die see geval het, sou die seestrome die wrak in ʼn suidwaartse rigting gespoel het en kan die wrak tot so ver as Oos-Londen meegesleur geword het. Albei dié moontlikhede word ondersoek.

White het gesê plaaslike inwoners langs die kus is gevra om op die uitkyk te wees vir enige wrakstukke of puin wat dalk op die strand mag uitspoel. Patrollerings op die onderskeie strande gaan steeds voort en die NSRI help om enige berigte van die publiek, vissermanne, seebote, stappers, lewensredders of strandgangers te monitor wat moontlik met die vermiste vliegtuig verband kan hou.

Die ARCC het vliegtuie wat langs die kus vlieg ook versoek om op die uitkyk te wees vir enige tekens van die vermiste vliegtuig.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ʼn vermiste persoon-saak by die polisie aanhangig gemaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.