Vlieënier op Muldersdrift-kleinhoewe oorval

Pieter Roets. Foto: Verskaf

Pieter Roets. Foto: Verskaf

ʼn Gautengse vlieënier moes Woensdag in die vroeë oggendure byna twee uur lank vasgebind op die vloer van sy slaapkamer lê terwyl gewapende rowers derduisende rande se huishoudelike items uit sy huis gedra het.

Pieter Roets (27) was glo die tweede slagoffer in Muldersdrift wat Dinsdagnag onder gewapende rowers deurgeloop het.

Ernst Roets, Pieter se broer en adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het aan Maroela Media gesê dat Pieter op sy sitkamerbank in sy kothuis aan die slaap was toe hy oorval is. “Hy het tussen 00:00 en 01:00 wakker geskrik en gesien hoe een van die rowers uit die kombuis gestap kom, terwyl nog twee deur die venster geklim het. Toe hy opspring, het hulle ʼn rewolwer op hom gerig,” het hy gesê.

Volgens Ernst het die rowers Pieter se skoenveters uitgeryg en sy hande daarmee vasgebind. Hulle het hom op die vloer van sy slaapkamer laat lê, ʼn kombers oor hom gegooi en hom beveel om stil te bly. “Daarna het hulle sy huis leeg gedra. Sy selfoon, televisiestel, ʼn jaggeweer wat in die kluis was, enigiets wat waardevol is, het hulle gevat. Ons het uitgewerk dat hulle met omtrent R130 000 se goed weg is,” het Ernst gesê.

“Teen 02:00 se kant het hulle vir hom gesê hy moet nog twee ure stil op die vloer lê voordat hy opstaan en toe het hulle gevlug. Hy het so tien minute gelê om seker te maak alles is stil en toe opgestaan. Hy het ʼn knipmes gebruik om homself los te sny voordat hy hulp ontbied het.”

Ernst het gesê daar is nog ʼn huis op die kleinhoewe, maar dat die inwoners glad nie gehoor het wat by die kothuis gebeur nie. “Die polisie wat op die toneel was, het vir ons gesê hy was die tweede slagoffer in Muldersdrift daardie aand wat deur gewapende rowers vasgebind en beroof is. Sover ek weet het daar nog nie voorheen op daardie spesifieke kleinhoewe so iets gebeur nie, maar Muldersdrift is natuurlik ʼn gebied waar daar gereeld aanvalle op plase en kleinhoewes voorkom,” het Ernst gesê.

Kapt. Appel Ernst, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig en gesê geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.

Maroela Media het vroeër berig Jannie Stander (47) is in Januarie vanjaar tydens ʼn gewapende rooftog in sy huis in Muldersdrift doodgeskiet. In Januarie verlede jaar het Charles Henderson in sy huis in Muldersdrift gesterf nadat hy tydens ʼn rooftog met ʼn graaf oor die kop geslaan is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Cjan ·

Die rowers wat so roof en plunder is hulle SA burgers of uitlanders?

MOEG ·

Die ander geval was my skoonsussie hulle, wat ook vasgebind was.
Die diewe het my skoonsussie en swaer se voertuie vol gelaai met alles wat hulle in die hande kon kry, en hulle is vort.

Grap ·

Pieter waar was jou handwapen jy bly in muldersdrif ek bly in Pretoria my wapen was onder my kussing my alarm was aan en my yorkies langs my bed niemand sal eers my venster oopgemaak het nie wat nog van my waardevolle artikels vat ?????

LeonR ·

Ek kan dink maar net. Die person het my wakker gemaak met MY flits in sy hande. Wat hy nie geweet het nie is dat ek gewapen was soos jy noem onder my kussing. Dit was sy laaste fout, MAAR, ek is aanggekla van moord. Toekoms sal leer van my lot???

Adriana Stuijt ·

Leon die polisie was verkeerd om jou te arresteer omdat jy ‘n aanvaller doodgeskiet het toe hy jou huis binnedring het terwyl jy geslaap het. Jy was binnein jou huis. Hulle was ook verkeerd om jou in ‘n sel oornag op te sluit en bowendien ook nog te se dat jy gaan aangekla word van ‘moord’. Kontak asseblief onmiddellik die regsmense by Afriforum sodat jy ordentlike regshulp kan kry. “Moord’ beteken dat jy dus vooraf al plan gemaak het om die onbekende man dood te skiet. Selfverdediging is ‘n heel ander storie. Praat met ‘n regsgeleerde en doen dit baie baie vinnig.

Beulah ·

Wat ek nie kan verstaan nie, is dat hoekom mag jy hom nie skiet as hy in jou huis is nie. Ek bv bly vrou alleen maw hulle kan my nou maar doodmaak omdat ek nie my vuurwapen mag gebruik nie. Wat help dit jy het n vuurwapen maar jy mag hom nie gebruik nie.

Catherine ·

Gaan elke dorp en distrik eers moet besoek word voordat mense besef, dit kan ENIGE plek ENIGE tyd gebeur? Net omdat jou area nog nie op toegeslaan is nie, beteken nie dat jy op een of ander manier beskermd is nie…. :( Mense WEES PARAAT, vergeet van julle goed, julle LEWENS hang daarvan af!

Skollie ·

Ja, asseblief landsgenote-wees paraat: “waak EN bid”-al ons plaas-en plotbewoners (en dorpenaars)! Ons moet nie parenoies wees nie; dog moet ons uiters waaksaam wees, mekaar ondersteun en vergeet van ons “paradys-teorie”. Ons het met werklikhede te doen en moet onsself sover moontlik beveilig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.