Vlieënier sterf: ‘Hy was van die beste om mee saam te vlieg’

Lin en Pierre Scheepers. Hy is Sondagoggend dood in ’n vliegtuigongeluk op hul plaas, Falstaff, tussen Komani en Cathcart in die Oos-Kaap. Foto: Facebook

Pierre Scheepers, die Oos-Kaapse boer wat die naweek in ʼn ligtevliegtuigongeluk gesterf het, word as een van die beste vlieëniers in die omgewing beskryf.

“Daar was nie ʼn fout met die vlieënier of met die vliegtuig nie,” meen Scheepers se broer, André (54). “Dit was net ʼn situasie wat skielik ontstaan het wat hy nie kon vermy nie.”

Scheepers (55), wat met vee op die plaas Falstaff geboer het, was Sondagoggend omstreeks 07:30 saam met sy niggie Pat Fouche op sy plaas met sy nuwe tweesitplekvliegtuig aan die opstyg toe die vliegtuigie neerstort.

Hy is op slag dood en Fouche is met ernstige beserings van die plaas in die omgewing van Tylden, sowat 30 km suid van Komani (Queenstown), na ʼn hospitaal in Oos-Londen gebring.

André sê dis nie nou al moontlik om nadere besonderhede van die ongeluk bekend te maak nie, maar Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die Burgerlike Lugvaartowerheid (BLO), het die voorval aan Maroela Media bevestig en sê hulle tref reëlings om ʼn beampte na die toneel te stuur om ondersoek in te stel.

Kapt. Namhla Mdleleni, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die polisie het nog “geen benul” hoe die ongeluk gebeur nie. Hulle is besig met ʼn geregtelike doodsondersoek, maar die BLO moet vasstel presies wat gebeur het.

Pierre vlieg al jare lank en is een van die beste vlieëniers om mee saam te vlieg.

“Pierre vlieg al jare lank en is een van die beste vlieëniers om mee saam te vlieg,” het André Maandag aan Maroela Media gesê. “Hy het die vliegtuigie onlangs gekoop spesifiek om dit op die plaas te gebruik.”

André vertel hul ouers het in 1972 met hul twee seuns en dogter, Leanne, uit Zambië na Suid-Afrika geëmigreer en hulle op Queenstown gevestig, waar hul pa, Matie, ʼn aandeel in die ingenieursonderneming Kei Bodies and Structures gekoop het. Van 1973 af besit en bestuur die Scheepers-familie dié onderneming.

Volgens André was sy broer ʼn eerlike mens wat baie vir sy familie en vriende omgegee het.

Hy word oorleef deur sy vrou, Lin, twee van sy eie kinders, Jenna en Kirsten, en ʼn dogter uit Lin se eerste huwelik, Paula.

Die begrafnisdiens word Donderdag om 11:00 op Falstaff gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

leser ·

wat ‘n tragies ongeluk
sterkte aan al die familie en vriende

Chris Ws ·

Dis nou hartseer om van te lees.Ons ken die mense nie maar bied hiermee ons innige simpatie met die scheepers familie en hul vriende wat iemand besonders verloor het deur ‘n onvoorsiene gebeurtenis.Sterkte.
Ek hoop die BLO kom agter die kap van die byl.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.