Vlieënier sterf: ‘Moenie spekuleer oor oorsaak’

Nico Heyns. Foto: Facebook.

Kishugu-lugvaart, Working on Fire (WOF) se moedermaatskappy, het Donderdag in ’n verklaring gevra dat alle spekulasie oor wat die moontlike oorsake van die ongeluk waarin Nico Heyns (65) Dinsdag dood is, gestaak moet word. Heyns was besig met brandbestryding in die Vermaaklikheid-omgewing in die Wes-Kaap toe die ongeluk gebeur het.

Trevor Abrahams, voorsitter van Kishugu, het in ’n verklaring gesê Heyns was een van die maatskappy se mees ervare brandbestryder-vlieëniers en was ten volle bekwaam en fiks om die Huey-helikopter waarin hy gesterf het te vlieg.

“Ons sal sy heldepogings tydens die Knysna-brande van Junie 2017 en die Kaap St. Francis-brande in Januarie 2016 nooit vergeet nie. Ons bring saam met Nico se gesin en die brandbestrydingsgemeenskap hulde aan ’n ware heer wat toegewyd was daaraan om lewens te red en ons omgewing te beskerm,” het Abrahams gesê.

Kishugu het ook ʼn ontmoeting met Heyns se gesin gehad en het vir hulle berading aangebied. “Kishugu-lugvaart en WOF sal by die gesin aansluit vir ʼn gedenkdiens vir Nico eerskomende Sondag. Meer besonderhede sal later bekendgemaak word,” het Abrahams gesê.

Kishugu het gesê die Burgerlugvaartowerheid (BLO) is die owerheid wat die volle en deeglike ondersoek moet afhandel en die waarskynlike oorsaak van die ongeluk sal bepaal. “Ons vra vir mense om geduldig te wees terwyl hulle hul ondersoek doen. Ons is vol vertroue dat die BLO ʼn deeglike ondersoek sal uitvoer,” het Abrahams gesê.

Maroela Media het vroeër berig Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het gesê Heyns het Dinsdag omstreeks 09:50 vermoedelik beheer oor die helikopter verloor. “Dit het grond toe getuimel en hy het verongeluk,” het Pojie gesê.

Volgens Pojie was daar niemand anders in die helikopter ten tyde van die voorval nie. “Die polisie op die toneel moes reël dat die liggaam spoedig verwyder word aangesien ʼn brand die omgewing begin verswelg het waar die helikopter neergestort het,” het Pojie gesê.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris Ws ·

Ek salueer u Mnr.Heyns al ken ek u nie.U is ‘n held!Innige simpatie aan u naasbestaandes en vriende.

Gesiggie ·

n Ware Held, wat sy werk met n passie gedoen het, dit is baie hartseer dat Mnr Heyns op so n manier moes sterf… My innige meegevoel aan sy Familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.