Vlieënier vier maande ná heli-ongeluk ontslaan

Joshua Cilliers. Foto: Verskaf

Joshua Cilliers (28), die vlieënier wat vroeër vanjaar kritieke beserings in ʼn helikopterongeluk naby Queenstown in die Oos-Kaap opgedoen het, word Woensdag uiteindelik ná byna vier maande uit die hospitaal ontslaan.

“As jy dink waar hy was en waar hy nou is, is dit ’n massiewe verbetering,” het Danie Cilliers, Joshua se broer, Woensdag aan Maroela Media gesê.

Cilliers is in Augustus in ’n Oos-Londense hospitaal met bloeding op die brein, ’n gebreekte arm en longbeserings opgeneem waarna hy na die Mediclinic Muelmed in Pretoria oorgeplaas is. Dit is hiér waar Cilliers die afgelope twee maande begin vordering toon het en ook met rehabilitasie begin het om hopelik weer te kan werk, en ja, weer te vlieg.

Danie vertel dat sy broer al tussen 10 m en 15 m op sy eie kan loop sonder om te val. Dít is reeds enorme vordering nadat daar aanvanklik gesê is dat hy waarskynlik nie die gebruik van die regterkant van sy liggaam sal herwin nie. Cilliers het genadiglik wél gebruik in die gedeelte van sy liggaam. Hy het ook gebruik in sy arm herwin wat tydens die ongeluk ernstig beseer is.

Danie vertel verder dat Cilliers ook kognitief goeie vordering toon. “Daar is baie dinge om oor bly te wees. Hy kan al meeste dinge doen wat gesonde mense kan doen,” sê hy.

Joshua Cilliers (Foto: Facebook)

Cilliers sal wel vir nog vier tot ses maande as ’n buite-pasiënt rehabilitasie ontvang en gedurende hierdie tyd by Danie en sy vrou bly. “Hy kan nog nie teruggaan plaas toe nie, maar hy doen goed en hy is positief. Hy wíl beter raak. Dit is sekerlik die grootste pluspunt.”

Tans fokus die familie op Cilliers se rehabilitasie voordat hul kan begin dink oor wanneer Cilliers weer sal begin werk of wanneer hy weer sal kan vlieg.

Een ding is wel seker: “Hy sal weer wíl vlieg,” sê Danie.

“Ons is so bly saam met hom dat hy so ver gekom het. Ek kan nie glo hy doen al wat hy nou kan doen nie, in vergelyking met ander pasiënte wat in soortgelyke ongelukke was.”

Maroela Media het vroeër berig Cilliers was saam met George Frederik Snyman, ʼn veearts van Port Elizabeth, in ’n helikopter besig om met wild te werk toe die tuig in die Sterkstroom-omgewing neergestort het. Snyman is op die toneel dood.

Lees alle vorige berigte oor Joshua Cilliers op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Seeskulp ·

Joshua dit is baie goeie nuus. Bid dat jy volkome sal herstel en weer jou droom kan leef om te vlieg. Sterkte vorentoe

Ferdi van Zyl ·

Goeie naand ek lees heeldag maroele nuus en die nuus is gou op die blad en ek kry ook die burger jaar vir 22jaar+

Surika Brunsdon ·

So bly jy vorder goed weet jy sal weer as die tyd reg is rond vlieg, geniet die tyd saam met jou familie , God is Good ❤

Dankbaar ·

Baie dankbaar dat hy so goed vordering toon. God se genade is genoeg…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.