Vlieëniers vaar uit oor hul ‘sondebok’ by SAL gemaak word

(Foto: Unsplash)

Die Vlieëniersvereniging van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (Saapa) het uitgevaar omdat die departement van openbare ondernemings en die sakereddingspraktisyns volgens hom aanhou om vlieëniers die skuld te gee vir die redery se benarde posisie.

Saapa sê die kern van die kwessie is vlieëniers se bepalingsooreenkoms, wat die departement en die sakeredders volhou is onregmatig. Die vereniging sê die ooreenkoms is reeds in 1988 aangegaan en die jongste weergawe is vroeg in 2014 onderteken.

Dit omvat alle bepalings en voorwaardes wat op vlieëniers by die SAL van toepassing is, ongeag hul ras of geslag. Saapa sê om voor te gee dit is ʼn “apartheidsera-ooreenkoms” is onlogies en net so onwaar as om te beweer enige wetgewing voor 1994 beskerm net die regte van sekeres.

Die vereniging sê daar word op die deuntjie voortgetokkel in ʼn poging deur die departement om sy eie tekortkominge en bydrae tot die SAL se ondergang te verdoesel.

Saapa sê SAL het talle winsgewende jare agter die rug – veral tussen 2009 en 2011 – tot Dudu Myeni daar aangestel is. Die vlieëniers sê om die bepalingsooreenkoms nou die skuld te gee vir die SAL se gebrek aan winsgewendheid en sy finansiële verknorsing kan nie toegelaat word nie en is onwaar.

Die verenging sê die departement en die sakeredders is ooglopend tjoepstil oor ʼn uitspraak dat Myeni – wat deur die departement aangestel is – ʼn direkteur was wat nie die vaagste oorweging vir haar fidusiêre plig teenoor die SAL gegee het nie.

“Om hulle aandadigheid te vererger deurdat hulle nie vir me. Myeni tot verantwoording geroep het nie, het nie die departement of die sakereddingspraktisyns, Siviwe Dongwana en Les Matuson, enige openbare verklaring oor die plundery en korrupsie by die SAL en [sy tegniese afdeling] SAAT gemaak nie. [Dit] is nie net uitgewys in sewe forensiese verslae deur die SAL nie, maar is nou ook by die staatskapingskommissie blootgelê,” lui Saapa se verklaring.

Die vereniging voer aan die sakeredders het boonop versuim om die nodige stappe te doen om sake reg te stel ná Myeni se versuim om haar pligte na te kom.

Senior vlieëniers

Grant Back, voorsitter van Saapa, sê een van die SAL en die departement se hoofklagtes is die senioriteitstelsel wat vir vlieëniers geld. “Dit is ʼn stelsel wat by bykans alle rederye wêreldwyd toegepas word en is ʼn belangrike veiligheidskomponent om vlieëniers te beskerm en hulle toe te laat om ten alle tye besluite in die beste belang van veiligheid te neem – selfs al bots dit met die kommersiële belange van die redery.”

Back sê as daar ʼn duisend vlieëniers by ʼn redery is en ʼn nuwe een sluit aan, word daardie vlieënier nommer 1 001. Die status in senioriteit verhoog wanneer ʼn redery uitbrei, of vlieëniers aftree. Hy sê vlieëniers wêreldwyd aanvaar dit as die billikste stelsel, asook een wat die grootste gedeelte van hul loopbane rig.

Hy sê ook daar word van alle vlieëniers verwag om aan dieselfde hoë vaardigheidstandaarde te voldoen. Sonder ʼn senioriteitstelsel kan ʼn vlieënier bevorder word bloot omdat hy die regte mense ken, of ʼn vlieënier kan gestraf en van bevordering weerhou word omdat hy besluite in die belang van veiligheid neem wat die redery dalk geld kan kos.

Swart vlieëniers

Saapa sê die departement voer aan die stelsel is onregmatig omdat dit transformasie stuit en nie toelaat dat vlieëniers uit aangewese groepe vinniger bevorder word nie.

“Wat die departement nie sê nie, is dat dit nie die senioriteitstelsel is wat hierdie bevordering terughou nie, maar die feit dat die redery gekrimp het tot ʼn skaduwee van sy voormalige self weens die wanbestuur en gebrek aan oorsig deur die raad en die departement van openbare ondernemings self.”

Saapa sê die SAL het tussen 2000 en 2009 altesaam 812 vlieëniers in diens gehad, maar het dit oor die laaste elf jaar – tot net voor die sakeredders aangestel is – tot 625 verminder. Die gaan binnekort tot 88 verminder word.

Back sê dieselfde aandeelhouers en bestuur wat die SAL in die grond in bedryf het, wil nou vlieëniers die skuld gee vir die katastrofiese uitwerking wat dit op die verteenwoordiging van aangewese groepe vlieëniers gaan hê.

Hy sê die SAL het ʼn paar jaar lank net vlieëniers uit die aangewese groepe aangestel, ongeag of daar ʼn meer ervare of gekwalifiseerde wit vlieënier vir die pos aansoek gedoen het. Hy sê as die SAL uitgebrei het, sou hierdie vlieëniers veel vinniger op die ranglys kon vorder. Pleks daarvan is Mango, ʼn filiaal van die SAL, ten koste van die redery uitgebrei.

“Die SAL is op vlieëniersvlak die mees getransformeerde lugredery in Suid-Afrika.”

Saapa sê dit is boonop die SAL en nie die vereniging nie wat vlieëniers aanstel.

Die vereniging sê dit is peperduur om vlieëniers op te lei en dat die SAL se kadetprogram – wat gehelp het om nuwe vlieëniers in die stelsel te kry – opgeskort is weens ʼn gebrek aan geld wat weereens deur wanbestuur veroorsaak is.

Die lugmag lewer deesdae ook nie juis meer groot getalle vlieëniers nie.

Vlieëniers nie die sondaars

Saapa sê vlieëniers is ʼn hoëprofielgroep en weens die SAL se aanstellingsbeleid en die lae beskikbaarheid van geskikte vlieëniers uit aangewese groepe, is die meeste van hulle steeds wit mans. “Dit is net te maklik om SAL-vlieëniers aan te val en van hulle die sondebokke te maak.”

Back sê daar was die afgelope paar jaar verskeie toegewings gemaak en veranderings aan die vlieëniers se bepalingsooreenkoms aangebring en dat dit kwaadwillig is om te sê dit verval nooit en kan dus nooit gewysig word nie.

“Die SAL en die departement van openbare ondernemings het sy vlieëniers, ook vlieëniers uit aangewese groepe, en ander werkers met algehele minagting behandel,” sê Back.

“Al ons vlieëniers het by die redery aangesluit om ʼn lewenslange begeerte om vir die nasionale lugredery te vlieg, te vervul. Hulle het bes moontlik hulle lewe toegewy aan ʼn loopbaan in diens van die SAL. Hulle drome is verpletter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Gawie ·

Die woorde ‘sondebok’ en ‘sondaar’ word hier deurmekaar gebruik. Ek kry dikwels die indruk dat die mense nie verstaan wat ‘sondebok’ beteken nie. Die woord skuldige is ook ‘n goeie alternatief

gatgogga ·

“Apartheids-era” ooreenkoms ?
Sal in elk geval baie billiker wees as Rampokker-era ooreenkomste.

Saartjievandiebosveld ·

Kom ons blameer enige iemand… solank ons nie verantwoordelikheid vir ons onbekaamheid neem nie….

Stefan ·

Net 1 vraag.
Het julle gestaak in laasjaar se staking vir meer as inflasie verhogings terwyl saa bankrot is en julle reeds van die beste voordele ter wereld kry.
Indien ja, dan is julle die oorsaak van hul ondergang!

Baardman ·

Haal jou oogklappe af en kyk wat in die land aangaan met die ANC aan bewind.

Debbie ·

Hulle is al 27 jaar in beheer van ons land, so hoe op aarde kan apartheid nog die skuld kry. En wat van daai vrou wat voor die Zondo kommissie is juis deur sy die SAL ten gronde gebring het? Bedrog, bedrog en nog meer bedrog

katerinadiekat ·

Apartheid sal oor n duisend jaar nog die skuld kry vir die ANC se mislukkings.

annie ·

Sondebok en sondaar is deesdae vervleg en alles hang af van die velkeur. SAL moet maar aanhou met sy dwase spel. Ek sal nooit ooit weer met een van die vliegtuie vlieg nie want die mense wat hulle nou voorhou en wil indruk in poste kan nie vlerke toor wanneer hulle hul vermoè om vliegtuie in klippe te verander, ten toon stel nie.

Johan ·

Soos ek dit verstaan,moet ons vir die toerisme wêreld vertel dat SA graag ontslae wil raak van ervare,blanke vliëniers! Bye-bye,SAL,my groep mense sal beslis nie ons lewe op die spel plaas nie!!!

christo ·

Orals waar Zuma se pêlle en sweethearts aan die stuur was, is uiteindelik in sy maai in. Die feit dat Ramaphosa ‘n ‘blindeye’ gehad het en kamstig van niks geweet het gedurende sy ampstermyn as adjunkpresident nie, is die rede. Geen staatsinstansie of semistaatsinstansie se sake sal verbeter solank enige ANC aangestelde direksies nog aan bewind is nie. Onthou dat direkteure en bestuur deur Lethulihuis aangestel word sodat politici finansiële voordeel daaruit kan kry. Noem maar op: Denel, die Poskantoor, Eskom, Krygkor en vele meer. Dit geld vir al die staatsdepartemente ook. ANC Politiek het SA bankrot gemaak. Van munisipale vlak tot by die presidensie. Daar is nie iemand soos ‘n eerlike ANC lid nie. Die hele spul soek skelm geld.

lollapot ·

Blameer almal, moet net nie vir doe doe my ennie Blameer nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.