Vlieërplankryer help drenkelinge uit water red

Argieffoto: Pixabay.com

ʼn Vlieërplankryer is geloof vir sy moedige optrede nadat hy die naweek verskeie mense uit die see by Kaap Vidal in St. Lucia, KwaZulu-Natal, help red het.

ʼn 62-jarige skipper van Durban, sy seun, dié se vriendin, asook ʼn familievriend, was Saterdagoggend aan boord van ʼn vissersboot toe dit omgeslaan het. Die vier mense het uit die boot getuimel en in die see beland.

Volgens Jan Hoffman, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) op St. Lucia, het die boot se enjin vermoedelik gestaak en dit het omgeslaan. Sterk seestrome het die boot en bemanningslede suidwaarts dieper in die see meegesleur.

Jurgens Lubbe (47), ʼn vlieërplankryer van Hazyview, was in daardie stadium op die strand toe lede van die publiek na die boot en bemanningslede in die see beduie het.

“Lubbe het met sy vlieërplank die bemanningslede in die water genader. Toe hy hulle bereik, kon hy eerste die seun se vriendin veilig na die strand neem. NSRI-lede – wat reeds op die toneel was – en lede van die publiek het die meisie op die strand gehelp,” sê Lubbe.

“Lubbe is vrywillig weer die see in om die NSRI-reddingswemmers te help om die res van die bemanningslede uit die see te red. Die reddingswemmers het ʼn pienk reddingsboei aan Lubbe oorhandig sowel as ’n reddingsbaadjie.

“Hy is die water in en het die familievriend en seun bereik en vir hulle onderskeidelik die reddingsbaadjie en reddingsboei gegee. Die vriend en seun was tussen 30 en 40 meter van mekaar af.”

Volgens Hoffman kon die seun met die reddingsboei self na die rotse swem, waar hy deur NSRI-lede en lede van die publiek uit die water getrek is.

Lubbe het die familievriend na rotse geneem waar nog ʼn NSRI-reddingswemmer uitgeswem en die vriend tot op die rotse gehelp het.

Lubbe het daarna met behulp van NSRI-lede die skipper uit die water gered.

Volgens Hoffmann was die skipper ernstig beseer.

ʼn Dokter, dr. Pierre Els van Richardsbaai, wat NSRI-dokters op die toneel bygestaan het, het die man behandel voor paramedici van Netcare 911 oorgeneem en hom verder behandel het. Hy is daarna per helikopter na ʼn hospitaal vir verdere mediese behandeling geneem.

Jurgens, ʼn sakeman van Hazyview, sê die wind het net lank genoeg behoorlik bly waai vir hom om die slagoffers te help. Die wind het daarna gaan lê en hy kon nie meer sy vlieër in die lug kry nie.

Die boot het later die dag in die rigting van die rotse gedobber waar die NSRI en lede van die publiek gehelp het om dit regop te kry. Dit is herwin en na die strand gesleep. Dit lyk boonop of die boot minimale struktuurskade opgedoen het.

Die NSRI het Lubbe, die dokter en al die lede van die publiek wat ingespring om te help, vir hul bystand geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

mattk ·

Dankie Vader dat Lubbe daar was. Dit kon baie tragies ge-eindig het. Lubbe verdien beslis ‘n medalje vir sy optrede.

Skappie ·

Is so bly dat daar niemand oorlede is nie. Mag die skipper vinnig herstel aan sy beseerings. Dankie ook vir Lubbe wat gehelp het om almal veilig uit die see te kry. Daar was ons Liewe Heer se hande ook betrokke.

Zilla ·

Great minds….

Ek wou nou net vir @mattk vra of die toekenning nog bestaan. Doen dit?

KB ·

Soos ‘n Wolraad Woltemade van ouds! Gee hom ‘n Ster van SA-toekenning!

Diana ·

Baie dankie, Mnr Lubbe, jy is ‘n voorbeeld vir ons almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.