Vlieg nou direk tussen Kaapstad en Saldanhabaai

Skrywer: Alida Buckle

‘n Vliegtuig land in Saldanhabaai nadat eerste direkte passasiersvlug vanaf Kaapstad onderneem is. (Foto: Verskaf)

Toeriste kan nou die 146 km tussen Kaapstad en Saldanhabaai in 30 minute per vliegtuig aflê. Dit nadat die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid sy eerste direkte vlug tussen dié twee bestemmings Dinsdag bekendgestel het.

Die eerste vlug tussen Kaapstad en Saldanhabaai het Dinsdag 29 Oktober op die Saldanha-vliegveld aangekom.

Die Saldanha-vliegveld het nog nie ʼn bemande toring nie en SJ Fouché, ʼn vlieënier van Pretoria, moes eers ʼn draai om die vliegveld gooi om te bepaal uit watter rigting die wind waai voordat hy die Cessna 402, ʼn sewesitplekvliegtuig, kon land. Hy het Dinsdag se vlug as “effens winderig maar ongelooflik mooi” beskryf.

Die vlugte word bedryf deur Chamber Air en ʼn retoerkaartjie tussen Saldanha en Kaapstad gaan lede van enige sakekamer R3 000 kos. Nie-lede sal R3 500 betaal. Die vlug van Kaapstad na Saldanha behoort gemiddeld 30 minute te duur, teenoor die amper twee uur wat dit padlangs neem.

James Vos groet Shanah Damonse by die Saldanha-vliegveld. By hulle staan Tillman von Zukowski, bestuurslid van die Velddrif-sakekamer en lid van die Kaapse Kamer. (Foto: Verskaf)

“Direkte vlugte tussen Kaapstad en Saldanhabaai gaan ʼn groot ekonomiese inspuiting vir die gebied wees, het Shanah Damonse, voorsitter van die Weskus-sakekamer gesê.”

Syd Peimer, voorsitter van die Kaapse Kamer het verduidelik dat Chamber Air, ʼn handelsmerk besit deur die Kaapse Kamer, nie ʼn lugdiens is nie, maar hulle maak dit moontlik vir lugvaartmaatskappye om nie-geskeduleerde roetes van 100 tot 300 km na die platteland te vlieg. Peimer het gesê dat hulle ʼn roete na die Paarl oorweeg.

James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur van die Stad Kaapstad, het benadruk dat die Kaapstad-Saldanha-vlugroete ʼn voorbeeld is van hoe vennootskappe tussen sakekamers en munisipaliteite tot ekonomiese belegging kan lei. Hy sê die roete verbind twee ekonomiese nodes met mekaar – die spesiale ekonomiese sone in Kaapstad en die Saldanhabaai-nywerheidsontwikkelingsone.

Marius Koen, burgemeester van Saldanhabaai, het gesê die vlugroete dui op die groeiende band tussen die Saldanhabaai-munisipaliteit en die Stad Kaapstad en bevestig weer eens Saldanhabaai as die grootste groeinode in die Wes-Kaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

RN ·

Nee genade, dit neem sowat 1 en ‘n halfuur, 2 ure op die meeste van Kaapstad lughawe na Vredenburg op die R27. Dit kos my (met my Hyundai Tucson) nie eens R500 aan brandstof heen en weer nie. Al is hierdie vlug net 30 minute, is daar nog nie die tyd ingereken op die lughawe self nie. Op die ou end vind ek dit is sommer makliker om te ry. Hierdie gaan verseker makliker wees vir sakemanne wat dit kan bekostig om Saldanha toe te vlieg.

Anni ·

Wanneer kan ons in die binneland, sommer direk vanaf Lanseria na Windhoek (Hosea Kutako) lughawe toe vlieg??? Dis n VER pad, per motor, om jou kinders te gaan besoek.

piper ·

ek kan nie sien dat daardie besigheid gaan hou nie. die verkeerde vliegtuig word gebruik wat te duur is om in die lug te hou. teen 3500 rand retoer is dit ook nie goedkoop nie.

Sê maar net ·

Sjoe, dis duur. Seker net sakemanne wat dit kan bekostig… Dit is duurder/of selfde as retoer van Pretoria af Kaapstad toe….

WESKUS NOOI ·

As die pryse aangepas kan word en die lughawe opgeknap word, kan dit ‘n winsgewende besigheid wees!

Maar of dit standhoudend gaan wees, weet ek nie!

Kom ons kyk wat gebeur!

Scalla ·

Op my Bmw fiets sal dit my ongeveer n uur langer wees maar teen n fraksie van die koste.

Wielspore ·

Volgens ander berigte op hierdie blad gaan dit ekonomies swaar met verbruikers, ek sal die eerder die term verander na, dit gaan ekonomies swaar met middelklas verbruikers. Die rede daarvoor is dat jou premium lede van die gemeenskap nog ryker word wat hierdie vlug dienste tussen Saldanhabaai en Kaapstad kan bekostig. Nee wat, as jy groot geword het in omstandighede waar finansies nie oorwegend jou toekoms besluite gemaak het kan jy seker vlieg as dit meer gerieflik is.
Padlangs vir my en geniet die natuurskoon.

Meraai ·

Dankie ek sal maar van die pad gebruik maak en sommer ook die natuur geniet. Jy sien armgeid hou my na aan die grond. Die wat dit kan bekostig moet dit maar gebruik

Bloudrom ·

Die vlug is seker ingestel vir sakemanne wat nie bestuurderlisensies het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.