Vliegongeluk: Hy het sy droom uitgeleef

Kobus Klopper

Kobus Klopper

Die 27-jarige man wat Maandag dood is toe die ligte vliegtuig waarin hy was in die Keerboskloof-omgewing naby De Doorns in die Wes-Kaap neergestort het, het sy droom uitgeleef.

Kobus Klopper was besig om lugbespuiting in die gebied te doen. Die vliegtuig het na aan die bergreeks gevlieg toe mense in die omgewing ʼn harde slag gehoor het.

“Hulle het rook gesien en die polisie ontbied. ʼn Helikopter is ook na die toneel gestuur. Die vliegtuig het ná die voorval aan die brand geraak. Die vlieënier se liggaam is naby die wrak gevind. Hy het brandwonde opgedoen en is op die toneel dood verklaar,” het Chitra Bodasing-Harduth, woordvoerder van ER24, vroeër gesê.

Klopper, oorspronklik van Steynsrus in die Vrystaat, het die afgelope paar maande in Citrusdal gewoon waar hy as bespuitingsvlieënier gewerk het. Klopper het gereeld boerderywerk oorsee gaan verrig om genoeg geld bymekaar te maak om sy kommersiële lisensie te verwerf.

Klopper laat sy ouers, Kobus en Anet, en twee susters, Carmen en Marcelle, agter. Medelye stroom intussen op Klopper se Facebook-blad in. “Vlieg hoog Kobus!!! Jy het vandag jou vlerke gekry. Rus in vrede. Baie sterkte vir die tyd wat voorlê aan die gesin en familie, ons dra jul in ons gebede op,” het Inge Kruger Gunter op Facebook geskryf.

Kellyn Cotton het op Facebook vertel hoe baie sy Klopper sal mis. “My hart is gebreek. Jy het nog laas week vir my gesê hoe gelukkig jy is!! Ek gaan jou geselsies mis en jou mal grappe!! Jy het so baie ambisie gehad en was bereid om enige iets te doen!! Sprei jou vlerke nou, jy sal altyd in my hart bly.”

Klopper word Saterdag vanuit die NG Kerk Steynsrus begrawe.

Kobus Klopper

Kobus Klopper

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mariette Hammann ·

Baie hartseer. Baie sterkte aan sy familie en vriende.

malinda ·

O my word. die lewe is hard. Ongelooflik. Sterkte aan die familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.