Vliegskole klop Tshwane-metro in hof

Die Wonderboom-lughawe in Pretoria. (Foto: Facebook)

ʼn Groep vliegskole by die Wonderboom-lughawe in Pretoria het minstens tydelik ʼn stokkie gesteek voor ʼn plan van die Tshwane-metroraad om sogenaamde bewegingsgeld met duisende rande per maand te verhoog. Dié geld word gehef wanneer ʼn vlieënier byvoorbeeld opstyg of land, of met die toring in radioverbinding is.

Die vliegskole het die metroraad uit desperaatheid hof toe gesleep nadat dié in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk aangekondig het dat die opleidingstarief – ʼn verminderde tarief wat vliegskole tydens opleiding van vlieëniers betaal – geskrap gaan word.

Die besluit sou op 1 Julie in werking tree.

Die opleidingstarief is volgens hofstukke ʼn standaard bedryfspraktyk wat nie uitsonderlik aan Wonderboom is nie en by lughawens landwyd geld.

Vliegskole by Wonderboom betaal die afgelope 40 jaar dus 20% van die bewegingsgeld wat gewoonlik gehef word. Ingevolge die nuwe reëling sou die naderingskoste per enkele landing byvoorbeeld met 139% verhoog word, terwyl landingsgeld met ʼn allemintige 321% opgestoot sou word.

Die vliegskole het aangevoer dit sou ʼn katastrofiese uitwerking op hulle ondernemings gehad het en sommige skole sou moontlik selfs hul deure moes sluit.

Die vliegskole het aangevoer die besluit is irrasioneel – en die hof het saamgestem.

Regter Brenda Neukircher het die metroraad Dinsdag met ʼn tussentydse bevel verbied om die resolusie oor die verwydering van opleidingsgeld in werking te stel in soverre dit die opleidingsgeld betref.

Selby Bokaba, woordvoerder van die Tshwane-metroraad, sê die tussentydse bevel is toegestaan nadat die metroraad sy beantwoordende verklaring laat ingedien het. Volgens hom het die regter dit gevolglik nie in ag geneem nie.

“Wat die hof wesenlik beveel het, is die opskorting van die inwerkingstelling van die verhoogde tariewe, hangende die finale bepaling van ʼn interne appèl.”

Dié appèl is ingevolge die Wet op Munisipale Stelsels aanhangig gemaak, sê Bokaba.

Teenkanting teen die begroting

Die vliegskole het voordat die begroting goedgekeur is ten sterkste beswaar aangeteken teen die voorgestelde plan om die spesiale tarief te skrap.

Die metroraad het die besware oënskynlik geïgnoreer en glo aangevoer belastingbetalers het die vliegskole lank genoeg gesubsidieer – ʼn stelling wat die vliegskole as irrasioneel bestempel het.

Die metroraad het in sy begroting deurgedruk met die besluit om die opleidingstarief te laat vaar, waarna die vliegskole hulle op ʼn dringende basis tot die hooggeregshof gewend het.

In hofstukke het die vliegskole aangevoer daar word oor die algemeen ʼn “opleidingstarief” vir vliegskole gehef en dat dit nie ʼn sogenaamde “afslagtarief” is soos Wonderboom-lughawe se bestuurder beweer het nie.

“Erger selfs, is dít: Die lughawebestuurder sê aan die applikante dat die opleidingstarief gebruik is om voornemende vliegskole na die lughawe te lok sodat hulle ondernemings hulle daar kan vestig met die geloof dat hulle winsgewend kan sake doen weens die bestaan van die opleidingstarief,” lui die hofstukke.

“Tog het die eerste respondent [die Tshwane-metroraad] nie aan die skole gesê hy het ʼn slim plan om hulle te mislei nie. Die eerste respondent se plan was uit die staanspoor om, nadat die ondernemings gevestig is en hulle ʼn goeie naam en ander soort intellektuele eiendomsreg opgebou het, om te swaai en sonder behoorlike kennisgewing of openbare deelname die opleidingstariewe te verwyder.”

Bokaba sê egter die vliegskole het die afgelope 40 jaar afslag gekry en is die afgelope vier dekades basies deur die stad gesubsidieer. Die 80%-afslag is opgeskort omdat dit nie ʼn finansieel volhoubare situasie is nie.

Opleidingsfooi maak beroep meer toeganklik

Die hofstukke lui voorts dat ʼn vlieënier in opleiding sowat vyf landings per uur doen. Waar die koste hieraan verbonde voorheen R2 200 per uur was, sou dit ingevolge die metro se nuwe plan tot sowat R3 000 verhoog word.

Gewone kommersiële vlugte of private vlieëniers betaal die standaardtarief omdat ʼn landing of opstyging byvoorbeeld soveel keer minder gedoen word as wat ʼn vlieënier in opleiding tydens ʼn vlug sou doen.

“Die opleidingsgeld maak vaardigheidsoordrag by vliegskole bekostigbaar en maak die vlieëniersberoep meer toeganklik. Dit bevorder ook die doelwitte van breedgebaseerde swart bemagtiging, deurdat voorheen benadeelde mense vlieëniersopleiding makliker kan bekostig.”

Die hof se bevinding

Die vliegskole voer aan goedkoper gelde help om die beroep meer toeganklik te maak. (Foto: Unsplash)

Neukircher het die metroraad opdrag gegee om die vliegskole wat die aansoek aanhangig gemaak het – maar ook alle ander vliegskole – se heffing onveranderd te laat en het die Tshwane-metroraad se munisipale bestuurder opdrag gegee om te verseker daar word aan die bevel voldoen.

Die metroraad moet boonop die koste van die vliegskole se aansoek dra.

Die Wonderboom-lughawe is geen vreemdeling vir probleme nie en steier weens swak bestuur al jare lank van een krisis na die volgende. Vliegskole wat van daar bedryf word, was volgens sommige kenners waarskynlik die lughawe se groot behoud, probleme ten spyt.

Dit was dié einste skole wat nou deur die metroraad geteiken is.

Sommige kenners sê maniere om geld vir die lughawe te genereer, deur byvoorbeeld weer van ʼn betaalstelsel vir parkering gebruik te maak, kan ʼn inkomste help verdien. Geen brandstof word in hierdie stadium boonop (wettig) by die lughawe verkoop nie, al is ʼn resolusie vroeër aanvaar wat dit sal moontlik maak. Agterstallige huurgeld by die lughawe beloop glo ook miljoene rande.

Bokaba sê die stad doen alles moontlik om infrastruktuur by die lughawe te verbeter om dit meer aantreklik vir beleggers te maak.

“Dit beteken egter nie dat huurders as’t ware huurvry kan leef en belastingbetalers moet die finansiële las van private sakeondernemings betaal nie.

“Gaan ook die tariefstandaard met Acsa [die Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy] na en jy sal besef dat ons oor die afgelope dekades liefdadig was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andries ·

Hul het weer ‘n geldkoei gesien en wil dit melk tot die uiterste.

casper ·

Vliegskole moet maar uitwyk na van die groter plase in die omgewing wat landings geriewe het. As die lughawe nie eers brandstof kan verkaf nie (en dit is by verre nie die enigstenie) dan verdien dit nie besighede nie.

Skyspy007 ·

Kittyhawk is ‘n briliante uitwyk en alternatief……Ekself gebruik dit al jaaaaare. Vermy Wonderboom soos ‘n toegee teken…..

Kokerboom ·

Wat gaan aan met die Metros?Na 1994 het ANC alles in metros OPGEVOETER!!! Kan Tshwane en DA maar nie die sake by Wonderboom lughawe vir eens en altyd oplos? Dit raak irriterend.

Tubac ·

Eenvoudig. Moet geld inkry om die vorige gemors op te ruim. DA maar dieselfde. Geen inoverende denke nie.

Martie Smartie ·

Bokaba, dis omtrent so liefdadig soos belastingbetalers is wat al jare der jare die taxibedryf en openbare busse subsidieer ne. Dis seker ok want dis mos jou peoples ne. En NSFAS het al miljarde rande vermors, dis bekend, so wanneer dit julle ANC pas, kan julle mors maar wanneer julle die koeie wil melk moet sy stil bly en stil staan ne. Intussen is die Tshwane Metro totaal onbekwaam. Gaan kyk maar watse gemors is die strate en sypaadjies in Centurion, baie kruisings lyk soos varkhokke om dit sag te stel. Viva Tshwane Metro!

Faraway ·

Ekt onlangs in die area ingetrek en ek geniet die vliegtuie wat daagliks en snags so laag oor my huisie vlieg! Ek kon tot 1 oggend terwyl ek op n sekere radio stasie ingeskakel was . . . hul kommunikasie hoor vir landing.
Dit sal hartseer wees as Vliegskole hier begin ontrek . . .

DIABLO ·

Julle was nie “liefdadig” nie. Julle was pleinweg aan die slap en onbevoeg. Loop koop jou eie melkkoeie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.