Vliegtuig met SA-kontant uiteindelik op pad na Durban

Zimbabwiese magte hou wag oor die vliegtuig op Harare Internasionale Lughawe (15 Februarie 2016) Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi

Zimbabwiese magte hou wag oor die vliegtuig op Harare Internasionale Lughawe (15 Februarie 2016) Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi

Zimbabwiese owerhede het uiteindelik ʼn vragvliegtuig, met 67 ton kontantnote ter waarde van miljarde rand, vrygestel, maar nie die identiteit van die lyk wat op die vliegtuig gevind is, bekend gemaak nie.

Die McDonnell-Douglas MD-11-vliegtuig is op 14 Februarie geskut toe dit op Harare Internasionale Lughawe geland het om brandstof te hervul. Die vliegtuig was van München, Duitsland, onderweg na Durban, KwaZulu-Natal. Werknemers van die lughawe het bloed uit die vliegtuig sien drup.

Die ten volle geklede liggaam van ʼn swart man is in ʼn kompartement gevind, maar weens gevorderde ontbinding, kon ʼn forensiese patoloog nie bepaal hoe en wanneer die man dood is nie.

Charity Charamba, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn nadoodse ondersoek het bepaal dat die man versmoor het.

Die polisie vermoed nie vuilspel nie en die man het glo sonder enige inwendige beserings op die vliegtuig geklim. Dit is nog nie duidelik waarom enigiemand in Duitsland homself op ʼn vliegtuig, onderweg na Afrika, sou versteek nie. ʼn Bron, ʼn persoon wat naby aan die ondersoek is, het gesê ondersoekbeamptes kon nie vingerafdrukke bekom nie. “Die liggaam was oortrek met maaiers. Dit was onmoontlik om vingerafdrukke te kry,” het die persoon gesê.

Die internasionale polisie-organisasie, Interpol, het intussen ʼn verklaring uitgereik aan polisiemagte in Duitsland, België, Uganda, die Ivoorkus en Nigerië om hulle te help om die man se identiteit en nasionaliteit te bepaal.

Die vliegtuig van die Amerikaanse lugredery, Western Global Airlines, het Vrydagaand uiteindelik uit Harare opgestyg onderweg na Suid-Afrika. Die geld, wat in München gedruk is en bestem was vir Durban, behoort aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB).

Dramatiese besonderhede van diplomatieke bewegings wat tot die vreedsame oplossing van die voorval gelei het, het intussen aan die lig gekom. Vusi Mavimbela, ambassadeur vir Suid-Afrika in Zimbabwe, het verlede Sondag hom na die lughawe gehaas, maar kon nie ʼn vinnige deurbraak maak nie. Die SARB het die volgende dag ʼn verklaring uitgereik om te sê dat die sentrale bank daarna uitsien om die besending in ontvangs te neem.

Staatsamptenare in Pretoria het aangebied om soldate van die Suid-Afrikaanse Weermag te stuur om oor die vliegtuig en die “kosbare diplomatieke besending” wag te hou, maar dié voorstel is deur die Zimbabwiese owerhede verwerp, volgens bronne.

Owerhede in Pretoria was veral angstig, aangesien die uitsaaiowerheid in Zimbabwe ʼn paar dae vantevore berig het oor ʼn smokkelsindikaat by Harare-lughawe waarby soldate, die polisie en immigrasiebeamptes betrokke was.

Korrespondensie tussen Pretoria en Harare het ook nie enige vrugte afgewerp nie en die Zimbabwiese owerhede het daarop aangedring dat ʼn deeglike ondersoek gedoen moet word oor die moontlike “delikate moordsaak” van internasionale omvang.

Owerhede in Harare het bygevoeg dat die goedere op die vliegtuig geskandeer moet word, om te verseker dat die vrag wel kontant is, en nie iets anders nie.

Ondersoekbeamptes het uiteindelik bevestig daar is geen verband tussen die vrag en die lyk aan boord nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Wat-ek-lees ·

Omring deur letterlik tonne geld. Só naby maar tog só vêr.
Snaaks dat velkleur bekend gemaak is. Hy was van Duitsland oppad na SA? Die arme man moes werklik ‘n groot fout begaan het. Sou hy geweet het van die geld?

Henrietta Klaasing ·

Is ons eie munt buite werking? Waarom in die buiteland miljarde Rande se note laat druk??? Gaan ons OOIT die waarheid hoor???

Chris ·

Ek dink amper ek het al n paar jaar gelede gelees dat hulle nie meer geld in SA druk nie. Blykbaar is die masjiene te oud (apartheids regering) en die goed is nie meer op standaard nie. Natuulik is arbeid in die buiteland ook baie goedkoper as hier by ons.

Anton ·

Ek dink ons mense het agter gekom dat dit ons R18.00 kos om n R10.00 noot te druk

Bach ·

Durban? Dis lekker naby aan Nkandla. Kon mos in Jhbg geland het!

Ernest ·

Hierdie storie is die grootste snert wat ek ooit gelees het. Wat dink die beriggewers van ons breinkrag..??? ‘n onbekende lyk op ‘n vliegtuig en ‘n onbekende massa geld..??????? Asseblief…..hier woon landgenote wat verstand het en ook landgenote sonder verstand. Ek glo die berig het net op die verkeerde plek uitgekom…..”smiley”

Sputnik ·

Ernst, maar jy praat mos nou bog? Hulle sê dan duidelik hoeveel ton dit weeg en dat dit miljarde rande se waarde het? En hoe de joos moet hulle die verstekeling se naam weet as sy naam nie op die passasierslys verskyn nie? Huh?

Manie ·

Ek verstaan nie. N lighaam met baie maaiers. En nogsteeds so baie bloed. Ek ruik n rot????

Daan Naude ·

Die vliegtuig was vanaf Munich na Durban op pad en het in Harare geland vir brandstof. Vlugtyd ongeveer 13 1/2 uur.
Die lyk was in ‘n gevorderde stadium van ontbinding in so mate dat bloed al begin uitloop het, die polisie kon nie eens vingerafdrukke neem nie en was oortrek met maaiers. Dus al ‘n geruime tyd oorlede.
Afhangende van omstandighede, begin die interne organe tussen 24 en 72 uur ontbind. Na sowat 3 tot 5 dae begin die liggaam swel en bloed en ander vloeistowwe begin by die mond, neus en anus uitloop. ‘n Kenmerklike stank sal duidelik waargeneem word.
‘n Paar dinge gel nie so lekker hier nie.

Jannie Bez ·

Ek vermoed daar steek baie baie meer agter hierdie storie… Verwag n drastiese devalueering van die rand . Bekom goud of silver eenige roerende bate (nie kontank geld nie )wat u veilig kan behou en bewaar vir die volgende 6-12maande … pond, usd, euro, aud self Bitcoin…

Theo ·

Suid Afrikaanse Reserwebank, KZN????? Nie n SAL vliegtuig nie???? n lyk reeds in n ontbinde stadium na 12 ure met geen vinger afdrukke??? Interpol??? Miljarde rande??? In Suid Afrika????? Alles per toeval???? ukhuluma umbhedo…

Daan ·

Hoekom bly daar n gerug rondloop dat die geld vir die ANC bestem is. Vir hul skuld en verkiesing veldtog.

Trolle ·

Grootste wolhaarstorie wat ek in n lang tyd gehoor het,niks maak sin nie en ek is nie eens n speurder nie.Meskien was die geld vir Mal ema bedoel gewees om die land omver te gooi,maar nou gaan Zuma dit sommer gebruik om sy huis verder te upgrade.

Christo Ebersohn ·

Die verslaggewing is bitter swak en misleidend. Die vliegtuig op die foto is nie eers ‘n MD 11 nie. Wat is waarheid en wat is bog? Dit is tien teen een ‘n “spoof” om die aandag af te trek van die regte vliegtuig vol kontant wat bes moontlik ‘n ou twee enjin Baron kan wees wat lae hoogte oor die Kalahari invlieg erens vanaf die weste. Mense se onsinverklikkers werk al jare nie. Het dalk ook nog nooit gewerk nie. Hahaha!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.