Vliegtuigkapers gee hulself oor

Die gekaapte Libiese vliegtuig van Afriqiyah Airways by Malta se Luqa Internasionale Lughawe (23 Desember 2016) Foto: AP Photo/Jonathan Borg

Die gekaapte Libiese vliegtuig van Afriqiyah Airways by Malta se Luqa Internasionale Lughawe (23 Desember 2016) Foto: AP Photo/Jonathan Borg

Die twee persone wat Vrydag ʼn Libiese handelsvliegtuig gekaap het, het alle passasiers en bemanning vrygelaat en hulself oorgegee.

Joseph Muscat, eerste minister van Malta, het die nuus op Twitter bevestig.

Maroela Media het vroeër berig twee persone het die vliegtuig van Afriqiyah Airways gekaap en dit na Malta herlei waar hulle geland het. Die kapers het gedreig om die vliegtuig op te blaas.

Die passasiers is aanvanklik in groepe vrygelaat. Daar was 111 passasiers (82 mans, 28 vroue en 1 baba) en sewe bemanningslede aan boord die A320-vliegtuig wat van Sebha na Tripoli in Libië op pad was, maar toe gedwing is om na Malta te herlei

Die vlieënier het die beheertoring in kennis gestel dat die kapers dreig om die vliegtuig met ʼn tuisgemaakte toestel op te blaas, het die onafhanklike Libiese Alwasat berig, maar geen bron is aangehaal nie.

Libië se VN-ondersteunde regering het ook die kaping bevestig.

Een van die kapers het beweer hy is ʼn ondersteuner van Moeammar Ghaddafi, die Libiese outokraat wat in 2011 ontsetel en doodgemaak is. Hy het glo gesê hy is bereid om alle passasiers vry te laat indien daar aan sy eise voldoen word. Dit is nog nie bekend wat die kapers se eise was nie, het Times of Malta berig.

Libië het in chaos verval toe Ghaddafi tydens ʼn gewelddadige opstand ontsetel is. Die olieryke land is verdeel tussen twee opposisie-administrasies: een in Tripoli wat deur die Verenigde Nasies ondersteun word, en die ander in die oostelike stad Tobruk.

Die Tripoli-regering het verlede week aangekondig dat hy ten volle beheer oorgeneem het oor Sirte by die Islamitiese Staat en ʼn militêre veldtog teen die radikale militia wat in Mei begin het, het tot ʼn einde gekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.