Vliegtuigongeluk: Slagoffers se name bekend

Argieffoto

Die drie mense wat Donderdag in ‘n ligte vliegtuigongeluk naby Nagle-dam in KwaZulu-Natal gesterf het, se name is Vrydag deur AgriSa bekendgemaak.

Johannes Möller, president van AgriSA, het gesê die slagoffers, Jannie Boshoff, Jannie Kemp en Theuns van Rensburg, was almal lede van die Landbou-unie in KwaZulu-Natal (Kwanalu). Kwanalu is deel van AgriSA.

“Hulle het die Kwanalu-kongres bygewoon. Ek het tydens die kongres met hulle gesels. Hulle afsterwe is nie net ‘n verlies vir Kwanalu nie, maar ook vir AgriSA,” het Möller gesê.

Die drie mans is Donderdag dood ná hul ligte vliegtuig in bosse neergestort, en aan die brand geslaan het.

Volgens ER24 het die voorval omstreeks 17:30 plaasgevind.

Drie paramedici en ‘n brandbestryder moes te voet na die wrak soek, aangesien die bebosde gebied ontoeganklik vir voertuie was. “Na sowat ‘n uur se stap het hulle op die ongelukstoneel afgekom. Die ligte vliegtuig was erg beskadig,” het Vanessa Jackson, woordvoerder van ER24 gesê.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Skurf ·

Ons gebede aan die gesinne en die Families van die oorledenis ,Ons Vader hou hulle hande vas en neem hulle deur die dae van baie hartseer…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.