Ongeveer 1 300 mense is vandeesweek regoor Limpopo gered ná erge vloede in die gebied.
“Ons het sedert Dinsdag reeds ongeveer 1 300 mense gered,” het Phuti Seloba, woordvoerder vir die provinsiale regering, gesê. “Ons het sowat 700 gesinne bygestaan, insluitend 177 gesinne van Lephalale (Ellisras).”
Seloba maan motoriste om enige paaie wat na Laphalale lei te vermy, asook die R101 tussen Bela-Bela (Warmbad) en Mookgophong (Naboomspruit).
Volgens Seloba is geen verdrinkings sedert Dinsdag by die departement aangemeld nie. Meeste mense word in gemeenskapsale gehuisves in die droër gedeeltes van die gebied.
“Verskeie staatsdepartemente verleen hul bystand om die situasie te beheer,” het hy bygevoeg.