Vloede: 32 dood; vloedwaarskuwing vir Gauteng

Bela-Bela onder water.

Bela-Bela onder water.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Maandag ʼn waarskuwing uitgereik van vloede in die noorde van Gauteng, kort nadat die departement van samewerkende regering en tradisionele sake bekend gemaak het 32 mense is die afgelope twee weke regoor die land weens die vloede oorlede.

“In die afgelope twee weke het groot dele van die land swaar reënval en fratsvloede ervaar, veral in Noordwes, Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en KwaZulu-Natal,” het Andries Nel, die adjunkminister van die departement, gesê.

Altesaam 25 mense het verdrink, waaronder 12 in Mpumalanga, vyf in Noordwes, vier in Limpopo en drie kinders van Pretoria in Gauteng (Lees meer hier). Onder die vyf mense wat in Noordwes verdrink het, is die bejaarde Sparrow-egpaar wat by die ATKV-Klein-Kariba-vakansieoord deur vloedwater meegesleur is. Lees meer hier.

Ses mense is dood nadat hulle deur weerlig getref is. Een persoon is in KwaZulu-Natal dood nadat ʼn muur op die persoon geval het.

Die munisipaliteite wat die ergste deur vloede geraak is, is die Madibeng-munisipaliteit in Noordwes, Lephalale (Ellisras)-munisipaliteit in Limpopo, en die Nkomazi-munisipaliteit in Mpumalanga.

Nel het gesê die Waterberg-munisipaliteit in Limpopo, wat Bela-Bela (Warmbad), Mookgophong (Naboomspruit) en Modimolle (Nylstroom) insluit, het aangedui dat hy van plan is om as rampgebied verklaar te word. “Munisipaliteite en provinsies wat ʼn rampgebied wil verklaar kan in aanmerking kom vir nasionale finansiële ondersteuning.”

“Daar is aansienlike skade aan paaie, brûe, huise, waterpompe, pype en waterinfrastruktuur aangerig,” het Nel bygevoeg. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.