Vloede: Derduisende ingesamel vir oorlede huishulp se kind

Shakirah, Max en Sienna het saam grootgeword. (Foto: Verskaf)

Skrywer: Reneilwe Dhludhlu

ʼn Durbanse gesin het hulle oor hul huishulp en tuinier se 10-jarige dogter ontferm nadat die meisie se hele gesin in die oorstromings in KwaZulu-Natal omgekom het.

Shakirah Hajji het haar ma, pa én bababoetie verloor toe ʼn modderstorting die keermuur van hul huis in Westville, wes van Durban, verlede Dinsdag inmekaar laat stort het. Al die gesin se besittings is ook in die vloed verlore.

Megan en Johann Sponneck het nou begin met ʼn fondsinsameling om Shakirah toe te rus met alles wat sy nodig het en om haar skoolfonds te betaal. Die paartjie het reeds R350 000 ingevorder.

Shakirah, haar pa Haji (34), ma Halima (29) en 10 maande oue boetie Kevin was omstreeks 04:00 in hul huis toe die keermuur ineengestort en op hulle geval het. Hulle is op slag dood. Shakirah het egter niks oorgekom nie. “Sy was nie eers met modder bedek nie. Dit kon net ʼn wonderwerk van God gewees het,” sê Megan Sponneck, eienaar van die huis waar die paartjie as huishulp en tuinier gewerk het.

Shakira Hajji saam met haar pa Haji (34), ma Halima (29) en 10 maande oue boetie Kevin. (Foto: Verskaf)

Volgens Sponneck het die Hajji’s die afgelope tien jaar by hulle gewerk. Sy beskryf hulle as mense wat altyd behulpsaam was en deel van haar familie geword het. Sy sê Shakirah het saam met haar kinders, Sienna (12) en Max (2), grootgeword en sou oor naweke by hulle oorslaap. “Ek ken haar haar lewe lank. Ons en haar ouers het ʼn baie hegte band gehad en was deel van elke viering in ons gesin. Ek het ʼn pasgebore babadogter en ʼn paar dae voor hul dood het hulle met ʼn geskenk vir my dogtertjie hier aangekom,” vertel Sponneck.

Sy en haar man, Mark, het die Hajji’s die Maandagaand laas gesien toe hy hulle huis toe gevat het omdat dit swaar gereën het. Die volgende oggend was Mark op pad om hulle by hul huis te gaan haal, toe hy ʼn oproep van die paartjie se buurman ontvang het. Hy het vir Mark vertel dat die Hajji’s se huis weggespoel het.

Die Sponnecks vermoed die Hajji’s was wakker en besig om ontbyt te eet toe die muur inmekaar gestort het. Volgens Megan was Halima laas om 03:48 aanlyn op WhatsApp.

Sy sê Mark was in ʼn toestand toe hy haar bel om die nuus mee te deel. Sy het ʼn veiligheidsmaatskappy ontbied om te help omdat daar nie genoeg soek-en-reddingspanne was nie, aangesien hulle na ander gebiede in die provinsie ontbied is.

Shakirah is nie ver weg van haar ouerhuis gekry nie. Volgens Megan was Shakirah verward en kon nie sê wat met haar ouers en broer gebeur het nie. “Sy het aanhou huil vir haar mamma.”

Megan sê die res van die gesin se liggame is eers ná ʼn 12 uur lange soektog naby ʼn ander huis gevind. Die gemeenskap het bymekaar gekom en in die grond gegrawe totdat hulle op die drie liggame afgekom het.

“Shakirah is nog baie geskok. Sy verstaan nie regtig wat gebeur het nie. Sy ontvang berading en die sielkundige sê sy is nog te jonk om alles te verwerk. Eendag wanneer sy ouer is, moet ons haar vertel wat met haar ouers en broer gebeur het. Dis hartverskeurend.”

Megan en Mark Sponneck saam met hul seun, Max. (Foto: Verskaf)

Shakirah bly tans by haar oom en tannie in ʼn klein woonstelletjie wat iemand gratis aangebied het. Shakirah woon skool by. “Met die donasies wat ons ontvang het, sal ons seker maak dat ons vir hulle ʼn groter blyplek naby Shakirah se skool kry. Klere en toiletware is ook vir Shakirah geskenk.”

Megan sê hulle wil R1 miljoen op BackaBuddy insamel om te verseker daar is genoeg geld om vir Shakirah se skoolloopbaan te betaal.

Megan sê hulle het die fondsinsameling begin omdat die Hajji’s dieselfde vir hulle sou gedoen het. “As ons in dieselfde situasie was, sou Haji en Halima alles in hul vermoë gedoen het om seker te maak ons kinders kry die beste onderrig.”

Die egpaar en hul seun is Saterdag begrawe.

Klik hier om ʼn bydrae te maak tot Shakirah se fonds.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sêmanet ·

Dis wonderlik om nog sulke goeie mense te kry. Die dogtertjie is bevoorreg om julle te hê in haar lewe.

Swerwer ·

Goeie gebaar. Mag dit regdeur haar lewe weerspiëel word dat spesiale Engle haar lewenspad vergemaklik het .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.