Vloede, droogte loop hand aan hand in Noord-Kaap

So het die Augrabies-waterval Vrydagoggend gelyk. (Foto: Maryna van der Westhuizen/Twitter)

Daar styg nie oral jubelsange op uit die westelike deel van Suid-Afrika nie.

Hoewel jy hoor van wydverspreide reën oor die Noord-Kaap, beteken dit nie dat hierdie uitgestrekte provinsie oral reën gekry het nie. Hier en daar is droogtes gebreek, maar daar is baie plekke waar boere besig is om hulle laaste aftreegeld terug in hul boerderye te steek. Sommige van die ouer mense in die provinsie bestempel dit as die ergste droogte in menseheugenis.

“Groot gedeeltes van die Noord-Kaap het baie goeie reën gehad en daar het selfs kitsvloede voorgekom, maar daar is steeds groot gedeeltes wat onder ramptoestande gebuk gaan en vir die afgelope agt jaar nog geen reën gehad het nie,” sê Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap.

“Die streek wes van Carnarvon, Williston, Fraserburg en Sutherland asook die somerreënval-gedeeltes van Calvinia, Brandvlei, die hele Boesmanland-streek sowel as sekere gedeeltes van Namakwaland, wat gedurende die winter nie baie reën ervaar het nie, is steeds in gevaar.”

Om agt jaar onder ʼn droogte gebuk te gaan terwyl jou medeboere se plase wil wegspoel, moet ʼn aardige ervaring wees.

Hendrik Ackerman is ʼn sesdegeslag-boer in die middel van die driehoek tussen Britstown, Richmond en Victoria-Wes. Hy beleef ook ʼn uitmergelende droogte.

“Hier val die reën in strepe en my plaas word nog elke keer gemis.”

Elke jaar hoor hy net hoe boere in ander distrikte reën kry. Hy wou in ʼn stadium kaktusse, die enigste groenigheid wat nog oor is, deur sy hamermeul fyn slaan om dit vir sy diere te voer, maar skarlakenluise het dit toegetakel en oneetbaar gemaak.

Ackerman het reeds van al sy beeste ontslae geraak en hou net sy kernskaapkudde aan die lewe met voer wat hy aankoop. Dit is ʼn peperduur oefening.

Buiten ʼn bietjie strooi en hawer verlede jaar, het Ackerman nog geen hulp van die staat of hulporganisasies ontvang nie. Die nood is net té wyd en té groot.

Een reënbui gaan hom ook nie veel help nie: Dit moet ʼn paar keer behoorlik opeenvolgend reën voor dit ʼn verskil gaan maak.

Sommige boere steier steeds onder die droogte, ten spyte van goeie reën in sekere gebiede. (Argieffoto)

Die boere in hierdie harde gedeeltes van die Karoo het oor baie jare en geslagte geleer hoe om droogtes te hanteer, maar dan moet dit ten minste so elke vyf jaar reën sodat hulle kan asem skep.

Ná sewe jaar raak hulle planne op.

Wilhelm Steenkamp is die voorsitter van die Williston Boere-Unie.

Hierdie organisasie moet omsien na ʼn distrik waarin 80% van die boere oor die afgelope ses, sewe jaar nog niks reën gekry het nie. Hy som die situasie soos volg op: “Hoewel dit sporadies en plek-plek reën, raak die tyd nou te lank sedert die laaste behoorlike reënbui geval het. Daar is nie eers meer ondergrondse water oor nie, dit word van buite af ingebring.

“Die munisipaliteite het ook nie geld om hulp te verleen nie. Die boere se reserwefondse is uitgeput en hul aftreegeld is lankal terug in hul plase gesteek. Ons koöperasierekeninge is vol en die banke wil nie meer geld leen nie. Baie is agterstallig met hul kinders se skool- en universiteitsgelde en baie het al hulle mediese fondse gestop en hulle polisse opgevra,” sê Steenkamp.

“Die meeste van die boere het net 50% van hulle kuddes oor. Die res het gevrek omdat daar nie meer geld is om hulle te voer nie, óf al hulle aanteeldiere is laat slag sodat hulle na hulle kernkuddes kan omsien. Party boere moes vir weiplek in ander dorpe en distrikte gaan vra.”

Hulp en skenkings kom van oraloor, maar dit is nie naastenby genoeg nie en boere begin nou een na die ander uitboer…

Talle boere benodig steeds hulp om op hul voete te bly. (Argieffoto; Droogtehulp SA NPC)

Daar is baie hulpverleningsorganisasies en -inisiatiewe, landbou-bedryfsorganisasies en private mense wat help en elke rand word waardeer.

“Ons plaaslike Williston Boere-Unie bestuur al die skenkings en donasies wat ons kry en versprei dit weer onder die boere,” sê Steenkamp.

Sou daar mense wees wat met Williston se boere wil kontak maak om hulp te verleen, kan hulle vir Nico Esterhuyse by 082 776 0451, of Wilhelm Steenkamp by 082 345 5359 bel, of ʼn e-pos na [email protected] stuur.

Die volgende organisasies kan ook gekontak word:

Gift of the Givers: [email protected]

Burre Burger van Droogtehulp: [email protected]

Caring Daisies se Manna vir die boere: [email protected]

Vriende van Landbou: [email protected]

AfriForum Droogtehulp: [email protected]

Enige landboubedryfsorganisasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jaco ·

Met dié lang amper nimmereindigende droogte, gaan boere in die Noord-Kaap ook onteiening word sonder vergoeding? Die ANC en die EFF wat so graag wil onteiening, moet net onthou, dit gaan nie noodwendig skielik begin reën ná die onteiening nie. Droogte gebeur nie op grond van die ras van die boere nie.

annie ·

Die eeue-oue selfbejammering van boere is om van siek te word want dit reèn mos altyd net op buurplase. Net hulle sukkel a la Afrika. Hoeveel boere is simpatiek jeens stedelinge/dorpenaars? Kyk gerus hoeveel huise is dwarsoor te land te huur of te koop? Net boere sukkel en dan boer hul uit eie keuse in die semi-woestyn en glo hul mag martelaar speel. Wat verwag hulle? Agente in stede/dorpe vertel dat die goedkoopste huurplekke deesdae deur beangste gesinne opgeraap word wat nie meer kop-bo-water-of-droogte kan hou nie. Waar is die skenkerslyste of kosaflewerings vir hulle?

Zombie ·

Uit jou eensydige en onlogiese tirade, kan mens aflei dat jy sekerlik nie bewus is van al die skenkings wat boere aan byvoorbeeld ouetehuise, kinder- en jeugsorgsentrums en ander welsynsinstansies maak nie.
Ek stel voor jy probeer meer lees, sodat jy ook op hoogte van algemene sake kan kom. (Probeer wyer lees as populêre tydskrifte. Jy sal verbaas wees hoe veel mens daaruit kan put.) Sterkte met die lees, @annie.

Mieke ·

annie… weet jy wat regtig sukkel beteken? Hierdie Karoo boere is reeds gewoond aan droogtes, – maar wanneer jy ná 8 jaar geen reën, hulp of enigiets moet klaarkom, wil ek hoor wat jy dan te sê het! Ek dink jy moet maar weer daaroor dink en bietjie meer empatie gebruik.

Karina ·

My Pappie was ‘n boer, vuur het om sy plaas getrek, skaars aan sy plaas geraak. Hy het eenkeer reen gekry, maar sy buurman nie. Ek was daar en het dit self gesien. Droogte is baie erg as ‘n boer moet aankyk hoe sy vee agteruit gaan omdat daar nie weiding of water is nie, en hy is genoodsaak om sy vee dood te skiet omdat hy nie kan aanskou hoe hulle ly nie. So ‘n boer huil soos ‘n baba as hy dit moet doen. Dit is hartverkseurend om so iets te aanskou.

Johan ·

Die ANC soek plase met infrastrukture en wil nie gebodder wees met heropbou of onderhoud nie. Dink aan die Speaker se plaas waar diere moes ly en vrek,sonder toesig. Skande,wat doen Diere beskerming om so iets te voorkom,of te straf?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.