Vloede in JHB laat honderde dakloos

Passasiers klou aan 'n taxi terwyl 'n vloedgolf hul tref in New Canadaweg in Pennyville, Soweto op 5 Maart 2014 | Foto: Michel Bega, Citizen

Passasiers klou aan ‘n taxi terwyl ‘n vloedgolf hul tref in New Canadaweg in Pennyville, Soweto op 5 Maart 2014 | Foto: Michel Bega, Citizen

Vloede in verskeie gebiede in Johannesburg het Vrydag chaos veroorsaak, het die Gautengse provinsiale regering gesê.

“Die provinsiale rampbestuursentrum [PDMC] en noodbestuursdienste werk sonder ophou om hulp te verleen in al die gebiede wat geraak word,” het die hoof van die PDMC, Elias Sithole, gesê.

Johannesburg-stad en Ekurhuleni is die gebiede in die provinsie wat die ergste geraak word. Tydelike akkommodasie, kospakkies en komberse is uitgedeel aan mense wat deur die vloede dakloos gelaat is.

“Omtrent 70 plakkershuise in die Vusimuzi-plakkerskamp naby Tembisa in Ekurhuleni is onder water, en omtrent 25 gesinne is na die gemeenskapsaal verskuif,” het hy gesê.

Die PDMC en die munisipale rampbestuursentrum (MDMC) het ook gehelp om paaie en skoolterreine in die gebied wat onder water is, begaanbaar te maak. Verstopte stormwaterpype is skoongemaak sodat opgedamde water kon wegvloei.

Omtrent 90 plakkershuise in Kliptown, Soweto, is ook onder water as gevolg van swaar reën in dié omgewing. Byna 200 mense van dié gemeenskap word in die gemeenskapsaal geakkomodeer en die PDMC verskaf aan hulle komberse, het Sithole gesê.

Die MDMC sal die naweek deurlopend op bystand wees, aangesien verdere swaar reën verwag word.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.