Vloede in Prins Albert en omgewing

Meiringspoort (Argieffoto)
(Foto: SA Venues)

Die Prins Albert en Klaarstroom-omgewing in die Wes-Kaap is Sondagmiddag getref deur ’n geweldige donderstorm wat verskeie oorstromings veroorsaak het in die gebied.

James-Brent Styan, woordvoerder van die minister van plaaslike regering en omgewingsake, Anton Bredell, het gesê die Meiringspoort moes gesluit word weens die oorstromings en ’n bus met passasiers wat vasgekeer was in die poort is na veiligheid gebring.

“Geen verdere voertuie is in Meiringspoort vasgekeer nie. Die poort sal gesluit wees tot laat Maandagmiddag as gevolg van herstelwerk deur die departement van provinsiale paaie,” het hy verduidelik.

“’n Ambulans met ’n pasiënt wat op pad was van Klaarstroom na Prins Albert-Hospitaal het in ’n oorstroming beland 30 km voor Prins Albert,” het Styan bygevoeg. “Die paramedici en pasiënt is ongedeerd, maar die voertuig is meegesleur. ’n Privaat voertuig het ook op die toneel in die vloedwater beland. Van die vier insittendes is drie na veiligheid gebring. Die vierde persoon word nog vermis in die vloedwater en soek- en reddingspanne is tans besig op die toneel.”

Groot skade is deur die storm aangerig aan die Swartbergpas tussen Prins Albert en Oudtshoorn. “Die pad aan die Prins Albert-kant is beskadig en die Swartbergpas sal vir ’n onbepaalde tyd gesluit wees. Gamkaskloof (Die Hel) wat in die Swartberge op hierdie pas geleë is, sal wel vanaf Oudtshoorn-kant met die Swartbergpas bereik kan word,” het Styan gesê. “Tegniese Spanne van Sentraal Karoo Distriksmunisipaliteit is tans besig met beplanning en herstelwerk aan die skade.”

Tydens hierdie storm is die watertoevoer na Prins Albert erg beskadig. Dit sluit in van die boorgate in die Swartbergpas sowel as ’n reservoir wat drinkwater voorsien aan die dorp. Die Prins Albert Munisipaliteit het die situasie onder beheer en doen alles in hulle vermoë om die watertoevoer te herstel, het Styan verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

CHRISTA ·

Genade!!! Eerste die ontsettende droogte en nou die oorstroming!! Ek hoop en bid dat hulle omstandighede spoedig sal verbeter!!

pauli ·

Hoekom is die bus se maatskappynsam ‘n staatsgeheim? As n mens weet wie se bus dit is, is daar minder mense wat geliefdes op reis het, wat stres. Netso as kinders wegraak, gee die ras, dan weet n mens waarna om te soek.

marous ·

Sou goed gelees het as die amptenare bygevoeg het dat hulle dankbaar is vir die reen…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.